Staatsteater uit miljoene bedrieg

Die staatsteater. Foto: Google.

ʼn Werker van die staatsteater het na bewering jare lank die teater van miljoene rande beroof deur geld van die teater in sy eie rekening oor te betaal.

Luidens ʼn verklaring Dinsdag deur die Suid-Afrikaanse staatsteater het ABSA die polisie ingelig oor moontlike bedrog en korrupsie met betrekking tot die teater se beamptes. ABSA is die amptelike bank van die teater en al die teater se betalings gaan deur die bank se stelsel.

“Die bank het die teater se hoof‑ uitvoerende bestuurder en hoof‑ finansiële beampte ingelig oor bedenklike betalings. Ons is oortuig dat beamptes in die teater se finansiële afdeling onregmatige betalings na hul persoonlike bankrekenings gemaak het,” sê Erick Ndala, woordvoerder van die teater.

Volgens die bankstate vind dié bedrog reeds die afgelope vyf jaar plaas. “Die inligting wat ons tot dusver kon inwin, dui daarop dat sowat R20 miljoen só gesteel is,” sê Ndala. “Die betrokke administratiewe beampte het glo die elektroniese bankstelsel gemanipuleer en fondse van die teater se rekening na hul eie bankrekening en dié van ander partye herlei.”

Die staatsteater het intussen kriminele klagtes by die polisie gelê en die betrokke beampte geskors. “Ons het ook ons bank- en betaalstelsels opgeskerp. ʼn Forensiese ouditspan is aangestel om die omvang van die bedrog te bepaal en dié het op 5 Februarie met hul ondersoek begin,” sê Ndala.

Hy sê dit is verbysterend dat die bedrog so lank verborge kon bly. “Ons het in die 2015-’16-boekjaar juis ʼn ouditfirma gekry om ons boeke na te gaan vir onreëlmatighede, en hulle kon niks verdag optel nie.

“Dit is besonder skokkend en maak die raad en werknemers van die staatsteater moedeloos. Hierdie bedrog ondermyn al die harde werk wat ingesit is om die staatsteater om te draai. Ons wil lede van die publiek verseker dat ons alles in ons vermoë doen om openbare fondse weer in te win,” sê Ndala.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Niklaas ·

Daar is maar altyd die kans vatters wat enige geleentheid aangryp vir selfverryking. Gelukkig kom hierdie geskorste vermeende skuldige nie weg nie.

Saartjie ·

Ek is verstom dat die Staatsteater soveel geld maak dat miljoene kan verdwyn sonder dat iemand dit agterkom!

Johan ·

Name en Shame hulle, almal moet weet wie die skelms in die land is om hulle nie weer werk te gee nie

Anel ·

Bolgens die state weet hulle wie die ontvangers ook is. Kry die geld terug van almal en sluit die hele lot toe. Die deler of ontvanger is net so skuldig soos doe steler. Iewers moet daar voorbeeld begin maak word.

marius ·

Wie subsideer die plek ? Gaan vra vir die hoofman van kul kuns en geen kultuur hoeveel geld was daar ingeprop .

Sandra ·

bedenklike transaksie? moet die nie bedrieglike transaksie wees nie?

Johanncb ·

Ek verstaan nie! Is die Staatsteater se jaarlikse omset só geweldig groot dat R20 miljoen nie gemis word nie? Kort-kort word gevra om afgetrede akteurs te help/ondersteun! Help tog die skelms tronk toe!

Leon ·

Die Staatsteater is in elke gaval nie meer iets werd nie. Daar word nie meer ordentlike produksies op die planke gebring nie. Dit is in elke geavl ‘n skaduwee van die oorspronklike.

Scalla ·

Word die magtigings, ens nie gereeld geoudit nie, wat is die omset dan as R20 m nie eers agter gekom word nie.

Chandre ·

Die land is ‘n absolute tragedie. Ek is elke dag stomgeslaan. Dis die derde artikel wat ek slegs in een dag lees oor staatskas korrupsie. Eers NSFAS, toe staatsamptenare se staatsdienspensioenfonds en nou hierdie. Môre word ek waarskynlik weer verras.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.