Staatsveiligheidsagentskap ‘neem kennis’ van sluipmoordbewerings

Lana Marks (Foto: Leon Kgoedi, United States Embassy South Africa via AP)

Die Staatsveiligheidsagentskap het Maandag gesê hy neem kennis van die bewerings dat die Iranse regering ’n komplot smee om Lana Marks, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, te vermoor uit weerwraak vir die dood van die Iranse generaal Kassem Soleimani.

Soleimani is in Januarie vanjaar in ʼn Amerikaanse hommeltuigaanval in Irak dood. Iran ontken die bewerings.

“Die agentskap het kennis geneem van die toenemende openbare belangstelling in die saak en wil alle Suid-Afrikaners en belanghebbendes verseker dat die saak die nodige aandag geniet,” het Mava Scott, woordvoerder van die Staatsveiligheidsagentskap, gesê.

Luidens dié verklaring is die agentskap in verbinding met alle belanghebbendes in Suid-Afrika en die buiteland om te verseker dat Marks, asook enige ander diplomatieke amptenare binne die grense van Suid-Afrika, “geen leed aangedoen word nie”.

Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, het gesê Suid-Afrika het ʼn verpligting teenoor alle diplomatieke amptenare in die land om hul beskerming te verseker.

Volgens Scott moet kennis egter daarvan geneem word dat die aard van die bewering en die gepaardgaande bedreiging die Staatsveiligheidsagentskap nie toelaat om gedetailleerde opdaterings oor sy ondersoek na die bewerings te gee nie.

“Enige verslae rakende die bewerings sal dus aan al die betrokke owerhede verskaf word. Dit sluit in pres. Cyril Ramaphosa, Naledi Pandor, minister van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), asook die relevante amptenare in die Amerikaanse regering.”

Maroela Media het vroeër berig die Amerikaanse webwerf Politico het die afgelope naweek berig Amerikaanse amptenare is luidens ’n Amerikaanse intelligensieverslag reeds ’n geruime tyd bewus van ʼn beweerde sluipmoordpoging op Marks.

Saeed Khatibzadeh, woordvoerder van die Iranse departement van buitelandse sake, het die verslag egter afgemaak as “pasgemaak, bevooroordelend en doelbewus”.

“Ons raai die Amerikaanse amptenare aan om op te hou om hulle tot holruggeryde en afgesaagde metodes vir anti-Iranse propaganda in die internasionale arena te wend,” het Khatibzadeh gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

FBI agente wat op ‘n vlug moet spring in Washington, 30 ure moet vlieg, by OR land, kar vat VSA ambassade in Pretoria sal gouer by Lana uitkom as agente van die Staatsveiligheidsagentskap! Donald Trump na hy eers in Noord Korea gaan kuier het, sal gouer by Lana uitkom as agente van die Staatsveiligheidsagentskap! Dink Lana sal gouer by Lana uitkom as die Staatsveiligheidsagentskap!

Anel ·

Maar wat het die diplomate wat in Suid Afrika is te doen met hulle probleme? En dan wil ons mense hulle beskerm? Wat ‘n grap!

Johannes Andreas ·

Propaganda, dis al. Niemand ‘adverteer’ ‘n potensiële aanslag nie. Dit word net gedoen. Punt. Geen lyfwag of BBP voertuig stop ‘n .50 kaliber anti-materiel projektiel wat vanaf 1.5km vêr geskiet word nie. Wat ons SVA ‘agente’ betref – die ou MI en BOSS manne hardloop sirkels om hulle, selfs in rystoele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.