Staatsvergryp: Madonsela moet eers bietjie wag, vra Zuma

madonsela-zumaPres. Jacob Zuma het Thuli Madonsela, die openbare beskermer, formeel versoek om hom teen die einde van Dinsdag te verseker dat sy nie haar ondersoek oor bewerings van ʼn staatsvergryp sal afhandel voor hy ander getuies in die ondersoek ondervra het nie.

Die presidensie het Maandag in ʼn verklaring Madonsela daarvan beskuldig dat sy die amp van haar kantoor verontagsaam het deur hom toegang te weier tot getuies en dokumente in haar ondersoek wat sy wil afhandel voor haar termyn vandeesweek verstryk.

“Pres. Jacob Zuma het die openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, skriftelik versoek om hom of sy regsverteenwoordigers toestemming te gee om ander getuies, wat voor die openbare beskermer verskyn het, te ondervra,” het die presidensie gesê.

Aldus die verklaring het Zuma twee dae kennisgewing ontvang voor Madonsela hom verlede Donderdag ondervra het, en daar is van hom verwag om te getuig oor sake waaroor hy geen vooraf kennisgewing ontvang het nie, toe sy die vergadering belê het.

Volgens Zuma se kantoor het Madonsela die vergadering voorgehou as ʼn inligtingsessie, maar sy het hom ondervra en sy “regmatige versoek vir uitstel, en die geleentheid om die dokumente na te gaan en ander getuies te ondervra”, verwerp.

“Hy is daarom van mening dat hierdie kort kennisgewing nie die bepalings van artikel 7(9) van die Wet op die Openbare Beskermer in berekening gebring het nie, waarvolgens die geïmpliseerde persoon (die president in hierdie geval) of sy regsverteenwoordiger geregtig is daarop om ander getuies, soos deur die openbare beskermer bepaal en wat voor die openbare beskermer verskyn het, te ondervra.”

Die presidensie neem kennis daarvan dat die wet ook voorsiening maak vir enige persoon wat voor die openbare beskermer verskyn, om deur ʼn regsverteenwoordiger ondersteun te word en om toegang te hê tot dokumente wat in besit is van die openbare beskermer. Volgens die presidensie het Madonsela die president van dié geleentheid ontneem.

Madonsela het tydens die vergadering aangebied om skriftelike vrae aan die president te rig wat hy in ʼn beëdigde verklaring kan beantwoord. Die presidensie het bevestig Madonsela het reeds die vrae skriftelik aan Zuma gestuur.

Die president is egter steeds van mening dat ʼn lys van getuies aan hom verskaf moet word wat voor haar verskyn het tydens die ondersoek, tesame met verklarings of getranskribeerde weergawes van hul getuienis.

“Die president wil ook sy reg uitoefen om die getuies te ondervra voordat hy reageer op die skriftelike vrae.”

Zuma se kantoor het gesê hy verwerp Madonsela se verweer dat sy haastig is om die ondersoek af te handel, aangesien haar opvolger, Busisiwe Mkhwebane, wat verlede week deur Zuma aangestel is, ook die ondersoek kan afhandel.

Die presidensie het gesê hy het Madonsela versoek om teen Dinsdag te bevestig dat haar kantoor nie die ondersoek sal afhandel of ʼn verslag sal uitreik totdat enige bewyse, wat Zuma kan impliseer, aan hom verskaf is of hy ʼn geleentheid gebied is om die getuies te ondervra nie.

Die Demokratiese Alliansie en ʼn kerk het Madonsela versoek om bewerings, dat die Gupta-familie uitvoerende besluite beïnvloed het, te ondersoek. Dit het gevolg ná die adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas, bevestig het dat die familie hom genader het om die pos van minister van finansies oor te neem voor Zuma Nhlanhla Nene afgedank het uit dié sleutelpos in Desember verlede jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Luister ·

Asseblief!!!……kan Thuli Madonsela hierdie verslag voltooi, en uitreik voordat sy die pos verlaat!

Sê net ·

Hy speel net vir tyd – wel wetende dat haar ampstermyn nou verstryk – omdat hy nie wil verantwoording doen nie. zuma hardloop uit verskonings uit, hy gebruik altyd dieselfde verskoning van moet eers iets bestudeer of hy het nie genoeg tyd gehad nie of appelleer teen bevindinge teen hom. Alles tydvertragingdmetodes…..Afrika-tyd

andrea van vuren ·

Hoé kan die man altyd wegkom met sy vertragingstaktieke? Hy het selfs sy SABC hoof die kulkuns geleer!

jakes ·

want die nuwe OB is n zuma pion wat na sy skewe skelm pype gaan dans

Lance ·

Hehe ja ons weet hoekom sy moet wag …dat nog meer gesteel kan word en hy nog n paar ekstra jakkals draaie kan maak …ons is nie so dom nie

Bernie Lightfoot ·

Geslepe Zuma taktiek aan werk! Thuli moet hof versoek dat sy die saak self moet deursien tot einde, anders gaan dit net weer “verdwyn”. Die studente vernietig universiteite oor sy beloftes…terwyl Nkandla groei, ‘n nuwe vliegtuig kom, en hy kry’n lekker “goue handskud” van Guptas!! Hy word soos ou Bob! Kom ons begin protesteer# Zuma must fall

John ·

Die land het ‘n krisis, maar die president is net bekommerd oor sy vriende en sy eie oorlewing. Dit klink of die aantygings gegrond is. Thuli word gedreig. Sy word dalk vervolg as sy voortydig iets sou uitlap.

Hasie ·

Zuma dans soos ‘n kat op ‘n warm plaat. Nog nooit ‘n slinkser mens gesien of van gehoor nie. “Behalwe sy pêl Mogabe”.

Johann ·

Ek wonder rerig of die man self die twak uitdink en of daar veronderstelde hoogs betaalde “regskenners” is wat ons betaal? En dink ons glo die snert!!!! Sluit die bedrier TOE!

KarooKlong ·

As jy onskuldig is dan het jy nie tyd nodig om te dink nie, praat net die waarheid.

snapper ·

n eerlike man sou die waarheid opdie punte van sy gingers gehad het. hy wil die getuies teen hom ondervra? hello??

Danie ·

Dié man is ‘n verleentheid, vir homself, sy party en dié land ! Hy sal elke flippen kaart speel om sy agterent uit die hof en tronk te hou. Jy tree net so op as jy iets ( in sy geval, baie ) het om weg te steek. Ek is skaam om te sê hy is SA se president. Geen ruggraat, geen standaarde en geen etiek. Soos in NIKS !

Siestog ·

Adv Madonsela MOET hierdie saak afhandel al sit sy op die maan. Wat ‘n lafhard is ou Zuma tog nie – bangbroek.

nico ·

Pres zuma verleng haar kontrak tot die saak afgehandel is dit sal bewys jys onskuldig maar as jy nie is jy verby skuldig want jou straf is naby

sarie van heerden ·

Zuma se arrogansie en jakkalsdraaie gaan enige mens se verstand te bowe!!!!!!!

sarie van heerden ·

Zuma se arrogansie en jakkalsdraaie gaan mens se verstand te bowe.

Fransie Rowles ·

O nou is die wette van SA darem goed genoeg vir ons hom!!

Francie ·

Dink hy adv Modensula is onnosel soos hy? Ek bewonder haar dat sy met sulke gemors moet werk en haar nog steeds met waardigheid soos ‘n dame gedra.
Dink die president almal in die land is so opgeneem in sy verskonings dat dit nie duidelik soos daglig is wat aangaan nie?
Dit sal ‘n staatsgreep vat om van hom ontslae te raak. Teen volgende Oktober het hy weer die nodige skuiwe gemaak om aan te bly, kyk maar mooi.
Die man maak my siek, en die klomp meelopers bly stil want hulle het self te veel geraamtes in die kas. Dit is hoekom niks gebeur nie.
“Die wat kan, wil nie, en die wat wil, kan nie.”

Tilla ·

Die strateeg in hom wat kopuitsteek! Hy weet hoekom die nuwe OB aangestel is en hy weet ook sy het reeds aangedui dat die grassroot level meer uit haar kantoor moet kry en dit dus beteken dat hy nie veel van ‘n verdere ondersoek gaan kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.