Staatsversekeraar ‘wesenlik bankrot’ weens onluste

Mense stap in Julie vanjaar verby ‘n uitgebrand motorwrak in die Durban-omgewingin KwaZulu-Natal. Sasria sê hy verwag eise kan tot R25 miljard beloop. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Sasria, die staatsbeheerde versekeraar teen onluste, is tans bankrot.

Bajabulile Jabu Mthiyane, finansiële direkteur van Sasria, het vandeesweek aan die nasionale raad van provinsies (NRP) se gekose komitee oor finansies gesê die opstande wat die land in Julie geruk het, het ʼn andersins finansieel gesonde instelling ʼn gevoelige knou gegee.

Netto eise by Sasria beloop in hierdie stadium R13,8 miljard, terwyl die instelling ʼn historiese verlies van R12,1 miljard gely het.

“As jy kyk na die toestand van ons balansstaat, is ons bankrot omdat ons laste tans ons bates verreweg oorskry,” het Mthiyane aan LP’s gesê.

Sy sê Sasria verwag egter dat die R3,9 miljard wat die regering reeds beloof het, van November af ontvang sal word. Geld van herversekeraars sal ook mettertyd begin inkom, wat ʼn verdere inspuiting van nagenoeg R7 miljard beloop.

Sasria verwag dat eise weens die oproer, wat veral KwaZulu-Natal en Gauteng lamgelê het, tussen R20 miljard en R25 miljard gaan beloop. Altesame 70% van verliese is in KwaZulu-Natal opgeteken.

Cedrick Masondo, besturende direkteur van Sasria, sê die versekeraar het aanvanklik eise van nagenoeg R15 miljard weens die oproer verwag. Voordat alle eise ingedien is, kan ʼn presiese syfer egter nie gegee word nie.

Masondo sê hoewel die opstande nie onverwags was nie en die versekeraar voorsiening moet maak vir sekere gebeure – selfs al is die kans daarop uiters skraal – het die omvang van die skade Sasria onkant betrap.

Altesame 98% van eise is reeds opgeteken en groot vordering is gemaak met die verwerking van eise. Sowat 40% van eise sal nog vanjaar afgehandel word en eise van R2,8 miljard is reeds uitbetaal.

Dié foto wat in Julie vanjaar geneem is, wys ‘n geplunderde winkel in Dr. Pixley Ka Semestraat in Durban. (Foto: Rajesh Jantial/AFP)

Masondo sê daar is aanvanklik gewerk om eise van minder as R20 miljoen teen Oktober vanjaar af te handel. Eise van R60 miljoen of meer kan tot twee jaar duur. Die aanvanklike teiken was om kleiner eise so gou moontlik te verwerk en kleiner sakelui terug op hul voete te help.

Sasria moes sommige van sy beleggings losmaak om te verseker hy het genoeg kontant om eise te hanteer.

“Sasria het ʼn balansstaat van R9 miljard en eise van tussen R20 miljard en R25 miljard staar ons in die gesig. Dit is ʼn gaping wat gevul moet word,” sê hy.

DA-LP Dennis Ryder sê Sasria het tot dusver uitstekend gepresteer en het – sover hy weet – nog nooit bakhand vir ʼn reddingsboei by die tesourie gestaan nie.

“Sasria vaar uitsonderlik goed. Die feit is, dit wat in Julie gebeur het, het bitter min met Sasria te doen gehad. Ek dink niemand het dit verwag nie, allermins Sasria,” het Ryder gesê.

“Die manier waarop Sasria op die voorvalle en die opstand gereageer het, is lofwaardig.”

Ryder sê die vraag moet egter gevra word oor wat sal gebeur as ʼn soortgelyke opstand die land wéér tref.

“Wat gebeur die volgende keer dat mnr. Zuma tronk toe gaan of as daar soortgelyke onluste uitbreek? Is daar ʼn kans dat dit ʼn veel groter las op die tesourie gaan plaas?”

Ryder het ook gewaarsku dat hulp van R3,9 miljard aan Sasria beloof is, maar dié toewysing is nog nie afgehandel nie.

“Suid-Afrika moet die geld vind.”

Masondo het aan die komitee gesê Sasria betaal die afgelope sowat ʼn dekade verantwoordelik dividende aan die aandeelhouer – dus die regering – en dat die vereniging uiters verstandig met sy geld te werk gaan.

Mthiyane het ook aan die komitee gesê Sasria het reeds ʼn toename in sy bruto premies ondervind. Dit het van R2,7 miljard tot R3,4 miljard toegeneem.

Sy sê daar was ná die oproer ʼn groter vraag na die Sasria-produk en die vereniging sal sy premies na verwagting oor die volgende paar jaar moet verhoog.

Daar is egter steeds ʼn tekort van miljarde rande wat van êrens verhaal moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Misky ·

Intussen wag ons steeds om te hoor en sien wie was agter die beplande aksies. Ons wil weet!!!!

Willem ·

Onthou ń dag na onluste is daar 12 ge identifiseer. Wonder waarbis hulle?

Pierre ·

Ag moet nie bekomerd wees die belastingbetalers sal belas word om die fonds te bekragtig.

Mariana ·

En wie moet ons bedank….ons almal weet presies wie verantwoordelik gehou moet word, maar ja die voos betaaldr belastingbetaler sal seker maar weer die spit moet afbyt

Pieter ·

Gaan orals in afrika so hulle kannie eers kar best nie maar hulle wil die land best.

Johan ·

Zuma en sy trawante wat so maklik al die onluste gereel en ondersteun word moet aangekla word van hoog verraad. Hierdie is die nagevolge van hulle dade en gaan elke SA burger maak om dit te verhaal deur een of ander belasting wat ons betaal en gaan verhoog word. “Suid-Afrika moet die geld vind.” As almal in SA nog nie kan sien dat dit die uiteinde gaan wees of jy nou op staats hulp is of inkomste verdien nie elkeen van ons gaan die terug betaling moet maak. Wat siek is om te sien dat een gister vrygelaat is op R5000 borg wat die onluste beplan en gereel het. Is net te maklik om almal in skuld te dompel en verwag dat die geld verhaal word.

Johanna ·

Ja nê, so brand ons alles af, breek.af…… ons gaan vinniger onder as wat verwag is.

Cecilia ·

Eis teen JZ en gespuis. Dis mos JZ se gesante wat d betogings aangevuur het

Di ·

Van hulle reeds uit op borgtog en die res se name word net nie bekend gemaak nie (Seker ‘n Staatsgeheim) – Niks kan gaan hiervan kom nie “as usual”

Boksombende ·

Bankrot want julle weet nie eers hoe om julself uit die bed uit te bestuur nie, en nou wil julle iets so groot soos SASRIA bestuur! Patete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.