Staatsverval noodsaak krisisberaad – Solidariteit Beweging

Flip-Buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Die toenemende agteruitgang en verval in die land en meerderheidsoorheersing deur die ANC-regering wat die gevaar van tweedeklasburgerskap vir Afrikaners inhou, is die hoofredes waarom die Solidariteit Beweging vandag ’n krisisberaad in Pretoria hou om ’n plan vir die toekoms uit te werk.

Sowat 1 500 mense woon die beraad by die Voortrekkermonument by.

Flip Buys, voorsitter van die Beweging, het gesê die land en Afrikaners se probleme kan nie oornag opgelos word nie, maar die bal moet aan die rol gesit word.

Die Beweging het die afgelope paar jaar drasties gegroei en het ’n ledetal van sowat 300 000 wat, as hul gesinne ingesluit word, byna ’n miljoen  mense verteenwoordig.

Buys het sewe staatskrisisse uitgelig wat vereis dat indringend na oplossings vir die toekoms gesoek moet word. Die krisisse is op ideologiese, politieke, regerings-, grondwetlike, ekonomiese, bedelings- en kulturele vlak. Daarbenewens is daar ook die misdaad-, infrastruktuur-, water-, omgewings-, arbeids- en maatskaplike krisis.

Hy het ook verwys na die toenemende onregverdige stelsel in die land waar die ANC teen Afrikaners regeer en daar al minder te sien en te beleef is van die grondwetlike ruimte wat vir taal- en kultuurgemeenskappe se regte bestaan.

“Daar het ’n groeiende kloof tussen die grondwetlike teorie en die politieke praktyk ontstaan. Die krisisse in die land is alles tekens dat die 1994-ooreenkoms besig is om uit te rafel.

“Veeltaligheid het eentaligheid geword; gelykheid en regstelling het verteenwoordigend geword; skole en universiteite is teikens van transformasie; die instellings wat oor grondwetlike regte moet waak, is tandeloos en die meerderheid se individuele regte weeg nou swaarder as die minderheid s’n.”

Volgens Buys maak die Suid-Afrikaanse bestel se individuele sentralisme dit te simplisties om die kompleksiteit van ’n heterogene samelewing te reguleer. Minderheidsoorheersing is bloot deur meerderheidsoorheersing vervang en daarom word demokrasie in ’n multi-etniese land nie as vryheid beleef nie.

Buys meen egter dit is nie genoeg of volhoubaar om net in die pad van verdere agteruitgang te staan nie. Daar moet ook aan vooruitgang gebou word wat daarop neerkom dat die Afrikaner, soos in die verlede, ’n waagstuk sal moet aanpak as hy vry, voorspoedig en veilig in die land wil voortbestaan.

“Die voorwaarde vir enige plan is dat soveel moontlik Afrikaners (dalk 80%) dit moet steun. Planne vir ‘volkseenheid’ werk nie omdat dit veronderstel almal moet by een plan inval. ’n Nuwe raamwerkvoorstel moet eerder ‘volksveelheid’ as uitgangspunt hê wat beteken nie almal hoef oor alles saam te stem nie.”

Buys het dit verduidelik aan die hand van drie groepe waarin Afrikaners nog altyd ingedeel is, naamlik dié wat individuele regte voorstaan, dié wat ten gunste van groeps- of minderheidsregte is en dié wat selfbeskikking of federalisme ondersteun.

“Daar is groot verskille tussen Afrikaners oor die haalbaarheid van elk van die sienings. ’n Strategiese plan, wat nie net vir ’n faksie onder die Afrikaners nie maar vir die hele gemeenskap voorsiening maak, is dus nodig. Daarom moet die waagstuk eerder op volksveelheid as volkseenheid gebou word.

“Ons is te min en te versprei dat een groep se oplossings op ’n ander afgedwing of gestoomroller kan word.”

Buys het gesê staatsafhanklikheid of onafhanklikheid is nie nou prakties haalbaar nie. Daarom behels die voorstel ook Afrikanerselfstandigheid as middeweg. “Solidariteit se plan is wesenlik federalisties. Ons glo aan maksimale selfstandigheid vir gemeenskappe. Dit word wêreldwyd gesien as die beste teenvoeter vir regerings se drang om die samelewing met sentralistiese mag te oorheers.”

Buys het egter beklemtoon dat oplossings nie uit die lug val nie en dat die voorstel of plan vir selfstandigheid die toets van behoorlike navorsing, ondersoek, beraadslaging en bespreking moet deurstaan.

Die strategie is dat gebruik gemaak moet word van huidige beskikbare individuele en groepsregte, terwyl die lewensvatbaarheid van groeiende selfstandigheid op gebiedsgrondslag (oftewel selfbeskikking) behoorlik ondersoek en volgens meriete beoordeel moet word. “Daar sal egter nie sprake wees van modelle wat na apartheid hunker nie.”

’n Opvolgberaad word vir 10 Oktober beplan om verder oor oplossings te besin.

Klik hier om die volledige toespraak te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Edwin ·

ons is baie dankbaar vir wat julle doen en bid julle seening toe en wysheid van Bo. Ons volk en die hele land het julle leiding nodig

Jax ·

Kom ons hoop dit gaan die keer verder as net praat! Ek dink ons land het n dringende behoefte aan minder praters en meer doeners!

Arnold de beer ·

As hy van die begin af net sy ore en oë oop gemaak het, en na die “Regses” geluister het, dan sou hierdie Krisis beraad nie plaas gevind het nie.
Ek dink die koël is deur die Kerk.
En waar is sy skaduwee FW de Klerk.? Hy moet mos instaan hiervoor.
Of het hy sy beloftes van wigte en teenwigte verloor?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.