Stad aan Prasa: Hoes of sit sonder water, krag

(Argieffoto: Facebook)

Die Stad Kaapstad gaan die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se krag en water Maandag afsny indien hy nie sy agterstallige skuld van byna R100 miljoen Vrydag vereffen nie.

Ian Neilson, waarnemende burgemeester van Kaapstad, het Donderdagmiddag dié waarskuwing uitgereik. Sou Prasa se elektrisiteit en water afgesny word, sal dit egter slegs sy kantore en fasiliteite beïnvloed en nié die stad se treine nie, het Neilson gerusgestel.

Volgens Neilson het Prasa herhaaldelik versuim om sy munisipale belasting en diensskuld van ongeveer R114 miljoen aan die stad te betaal, waarvan R98 miljoen die agterstallige skuldbedrag is.

Neilson sê Prasa het aan die begin van Februarie R86,7 miljoen van R168 miljoen se vorige skuld betaal. Daar is egter nie reëlings getref om die res van sy uitstaande skuld te vereffen nie.

Volgens Neilson neem die Stad die besluit om Prasa se water-en-kragtoevoer af te sny nié ligtelik op nie. Die twee het egter al jare van onoortuigende gesprekke agter die rug, sê die burgemeester.

Fikile Mbalula (Februarie 2020) (Foto: Phando Jikelo/African News Agency/ANA)

Chaos het verlede week uitgebreek ​​toe Eskom Prasa-filiaal Metrorail se elektrisiteit in Kaapstad afgesny het oor R6 miljoen skuld.

Die spoorwegdiens kon enkele ure later hervat word nadat Fikile Mbalula, minister van vervoer, die nasionale tesourie gevra het om Prasa te help om sy rekening te vereffen.

Mbalula het Donderdagoggend aangekondig dat die sentrale spoorwegpendellyn in Kaapstad vir uitgebreide herstelwerk sal sluit en eers in April volgende jaar weer ten volle in diens sal wees. Die opknapping gaan na verwagting R1,4 miljard uit die sak jaag.

“Prasa is neergeslaan en afgebreek deur mense wat geld gesteel het wat vir die treine bedoel was,” het die minister in ʼn verwysing na beweerde korrupsie gesê. Om sake te vererger loop Prasa se treine in Kaapstad ook onder brandstigting en vandalisme deur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Strandloper ·

Geen beheer, geen trots, geen wonder alles gaan gaan ten gronde.

Wondermaarnet ·

Hopelik betaal die stad kaapstad dan hulle skuld aan Eskom.

Henk ·

Sien Magnus Heystek het n twiet gestuur dat SA se skuld amptelik R3 triljoen is en dat dit neerkom elke burger skuld R55 000 000 .

Vriendelike Frikkie ·

Ek sal vir hulle die tjek stuur, maar dan moet hulle ophou om my lastig te val met belasting en tolgelde…;-)
Standard, ek wil graag my oortrokke fasiliteit verhoog. Aag nie baie nie. Net so R55milj.

tweeling ·

Jy het ook jou hand in die “cookie jar” gehad, Frikkie

BoerSonderRoer ·

Geen wonder hulle spog altyd oor winste nie, want hulle betaal nie hulle uitgawes nie.

Gideon ·

Hoe in die lewe laat ‘n stad ‘n besigheid/maatskappy se skuld oploop tot so ‘n astronomiese bedrag?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.