Stad belê wél in mark, sê Tshwane-metro

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Maroela Media het vroeër berig dat boere, landbouverenigings en markagente bekommerd is oor veral die gebrek aan veiligheid, swak onderhoud, higiënestandaarde en die doeltreffendheid van die markbestuur.

Hoewel die metroraad ongeveer R20 miljoen per maand vir die bedryf van die varsproduktemark hef, is daar volgens verskeie rolspelers min oor die afgelope jare in broodnodige instandhouding herbelê.

Volgens Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, het die metro wél die afgelope paar jaar in die mark belê.

“Ons het baie geld in die mark belê en ons doen dit steeds. Miljoene is in kapitale besteding- en bedryfsprojekte belê en dit is suksesvol in die onderskeie finansiële jare in werking gestel.”

Maroela Media het die afgelope week self gaan ondersoek instel en verskeie rolspelers meen die stad doen steeds nie genoeg nie.

Volgens Eddie Jackson, senior rypmaker, kan slegs 20 van die 55 rypmaakfasiliteite tans gebruik word.

“Dit kos ongeveer R100 000 om ʼn rypmaakkamer op standaard te kry, maar die fasiliteite word net nie herstel nie; die stadsraad maak jaarliks miljarde uit die mark, maar hulle kan nie vir my die geld gee om my werk behoorlik te doen nie.”

Hy sê al die fasiliteite waarmee hy werk, was drie jaar gelede vol en het toe behoorlik gewerk.

“Soms was ons só besig dat sommige vragte oornag buite moes wag. Nou staan 35 rypmaakkamers leeg.”

Volgens Jackson is die stadsraad ook veronderstel om al die fasiliteite – waaronder die rypmaakfasiliteite waarvoor hy verantwoordelik is – by die mark skoon en netjies te hou.

“Dit is hulle plig, maar die afgelope ruk moes die agente seker maak dat my rypmaakfasiliteite skoongemaak word.”

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Volgens Pieter du Preez, ʼn senior koelkamerbeampte, is daar ook vele uitdagings wanneer daar sabotasie by die substasies plaasvind – iets wat al hoe meer gebeur.

“Ons kragkabels is verlede maand gesteel waarna ons vyf dae lank sonder krag moes sit. Naastenby R5 miljoen se vrugte het in dié tyd gevrot.”

Sven Grindstad, vrugteagent vir DW Varsproduktemarkagente het bygevoeg dat net een van die twee kragopwekkers werk en dat hulle inderdaad self sorg dat die ligte aanbly en die mark se fasiliteite skoongehou word.

Hierop sê Mashigo dat die agente verseker dat die mark aan die nodige higiënestandaarde voldoen.

“Agente is verantwoordelik om te verseker dat die handelsruimtes wat aan hulle in die mark se sale toegeken is, aan toepaslike higiënestandaarde voldoen.

“Die stad bly verantwoordelik vir die handhawing van higiënestandaarde in ander dele van die mark en het hierdie verantwoordelikheid nagekom.”

Volgens Mashigo is daar ook reeds planne om ander uitdagings by die mark te pak.

“Van ons planne om veiligheid, instandhouding en higiënestandaarde te hanteer, is reeds in werking gestel. Ander beplande ingrepe sal in die komende jare in werking gestel word.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Neem kennis dat aansienlike vordering tot dusver gemaak is met die hantering van hierdie kwessies.”

Volgens Mashigo is twee tenders geadverteer vir die vervanging van stukkende masjinerie, asook vir voorkomende herstelwerk en instandhouding van die fasiliteit.

ʼn Kontrakteur vir die vervanging van masjinerie is aangestel, maar die diensverskaffer het onttrek voordat daar met die werk begin kon word. Hierdie tender sal in die 2023-’24-boekjaar weer geadverteer word.

“Ons het ook reeds ʼn tender vir voorkomende herstelwerk en instandhouding van die fasiliteit geadverteer, maar die het nie gereageer nie. Dit sal ook weer in dié finansiële jaar geadverteer word,” sê Mashigo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Hulle reageer nie op die tenders nie,want niemand stel belang om met die staat besigheid te doen nie , want jy kry nooit jou geld vir dienste gelewer nie

Kokerboom ·

Kom ons ondersteun Cilliers Brink en kyk of hy dit regkry om stad om te draai na jare van ANC wanbestuur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.