Stad erken GladAfrica-kontrak was onreëlmatig

Moeketsi Mosola, munisipale bestuurder van die Tshwane-metro, en Solly Msimanga, die uitvoerende burgemeester, tydens die mediakonferensie. Foto: ANA

Die Stad Tshwane-munisipaliteit het Vrydag gesê die ouditeur-generaal het bevind die toekenning van ʼn kontrak aan ingenieurskonsultante GladAfrica was onreëlmatig, ondanks die stadsbestuurder se bewering dat die proses bo verdenking was.

In ʼn verklaring wat deur die munisipaliteit uitgereik is, bevestig Solly Msimanga se administrasie die ouditeur-generaal (OG) het bevind die toekenning van die kontrak het nie voldoen aan die nodige regulasies nie. Daar is ook bevind die verkrygingsproses was buite die omvang en die bepalings en voorwaardes van die oorspronklike kontrak wat die diensverskaffer met die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika gehad het.

“Wanneer daar bevind word dat ʼn kontrak op onreëlmatige wyse toegeken is, soos nou deur die OG bevind en in die finansiële state gestel word, dan word alle ander besteding wat daarmee verband hou ook as onreëlmatig beskou,” het Mare-Lise Fourie, burgemeesterskomiteelid vir finansies, in ʼn verklaring gesê.

“Die R317 miljoen wat reeds aan GladAfrica bestee is, is dus ook onreëlmatig.”

Verlede jaar het die Tshwane-raad, wat onder leiding van die DA deur ʼn koalisie van partye bestuur word, erken dat die toekenning van ʼn tender aan GladAfrica om infrastruktuurprojekte van R12 miljard van stapel te stuur, onreëlmatig was. Dit het aan die lig gekom nadat ʼn voorlopige verslag van die OG uitgelek is waarin bevind is die kontrak het nie voldoen aan die regulasies van munisipale verkrygingskettingbestuur nie.

Fourie het Vrydag gesê hoewel dr. Moeketsi Mosola, die stadsbestuurder, verlede jaar in Augustus volgehou het die kontrak is regmatig toegeken, het die jongste bevinding hom genoodsaak om te erken dat die kontrak inderdaad onreëlmatig was.

Fourie het gesê die eksklusiewe aanstelling van GladAfrica in plaas van ʼn paneel van diensverskaffers, asook die prysetiket van die kontrak, is nooit deur die stadsbestuurder by die burgemeesterskomitee of die stadsraad behoorlik aangemeld nie.

“Mosola kniehalter tans die saak in die arbeidshof op tegniese gronde,” het Fourie bygevoeg. “Die uitvoerende burgemeester sal in elk geval die regspan vra om die saak te bespoedig sodat die proses kan voortgaan, die voorlopige verslag aan die raad voorgelê word en aanspreeklikheid kan plaasvind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Willie ·

Geen wonder ons munisipale rekenninge is so hoog nie…Ons betaal vir die foute!

zoom zoom ·

Ek Sal graag wil weet hoeveel geld het Tshwane Gemors op borgskappe soos die aan die koor olimpiade ens. 50 miljoen rand is gegee aan hokkie opleiding of so iets. Maar daar is nie geld Om bossies met onkruidoder Te spuit wat in die pad groei. Geld Om die stad skoon Te maak maar niks word in ons buurt gedoen nie. Bome word nie gesny nie. DA val uitmekaar.

Pietie ·

Sorry julle, maar ek het die gladafrica storie se begin gemis en het nie n clue waaroor die bohaai is nie. Wie is nou die cowboy en wie is die crook? En wat doen gladafrica vir die stad Pretoria? Dankie ?

Chris ·

Per DStv kanaal eNCA: “The Auditor General is also pointing fingers at the Mayor, Solly Msimanga, for failing to perform his oversight duties over the city manager.”

GM ·

En hier sit en wens ‘n paar van ons seker dat ons net EEN persent (of selfs ‘n halwe %) van al daardie miljoene kon kry.

Gert van Wierdapark ·

My eerste kommentaar was seker te sarkasties – dis hoekom dit nie geplaas is nie. Ek probeer weer op n sagter trant. Dis makluk om niu die blaam op die doktor stadsbestuurder te plaas. Hoekom het regsdienste nie hul kommentaar aan finansies en die burgemeester bekend gemaak, ipv om net vir die toekenner (dr) te waarsku dat dit nie in orde is nie! Waar is die “checks and balances? En hoekom die slapgatgeit van amptenare en politici om te verhoed dat miljarde vermors word ala Boos-a-SA wyse. Ons in SA is almal al lankal boos vir die vermorsing van fondse ens. GENOEG IS GENOEG!!!

aj ·

Gaan ons arrestasies sien?

Ek wil so graag ARRESTASIES sien!

Ek wag reeds sedert die WAPENSKANDAAL … steeds geen arrestasies nie.

Asseblief breek die arrestasie DROOGTE!

A Mac ·

As die regering se korrupte miere uit die gate kruip moet dit seker afspiraal na die plaaslike rade ook. Wonder nou net of GladAfrica die geld gaan terug betaal. Dink as elke transaksie van elke plaaslike raad in Suid Afrika ondersoek gaan word sal daar sommer ‘n hele miershoop omfoeter en die wereld deur miere oorstroom word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.