Stad Jhb gaan klag lê teen koerant

Herman Mashaba (Foto: ANA)

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het inwoners gerusgestel dat die stad hoegenaamd nie in ʼn finansiële verknorsing is nie en dat dit nie ʼn reddingsboei nodig het nie. Die Stad Johannesburg is van voornemens om ʼn klag aanhangig te maak teen City Press-koerant vir ʼn vermoedelike oortreding van die perskode.

“Ek het vanoggend met teleurstelling en verbasing kennis geneem van ʼn ongegronde berig in die City Press, wat aanvoer dat die Stad Johannesburg in ʼn finansiële verknorsing is en ʼn ‘reddingsboei benodig’. Niks kan verder van die waarheid wees nie,” het Mashaba gesê.

“Die artikel het ʼn paar foutiewe bewerings gemaak wat slegs paniek sal saai oor die stad se finansiële posisie. Nog erger, hierdie foute is spesifiek met die City Press bespreek voor die artikel gepubliseer is. Die publikasie het egter onverklaarbaar besluit om steeds hierdie bewerings te versprei.

“Ek wil graag ons inwoners gerusstel dat die stad glad nie in ʼn finansiële verknorsing is nie en die stad het ook nie ʼn reddingsboei nodig nie. Die City Press se gekose opskrif [Cash-strapped Jozi is heading for a bailout] is misleidend en onverantwoordelik.”

Die stad se kontantbestuurverslag, soos vereis deur artikel 71 van die Wet op Finansiële Munisipale Bestuur, wat deur die burgemeesterskomitee goedgekeur is en aan die raad oorhandig sal word, bepaal dat die stad se kontantvlakke op ʼn gesonde R3,2 miljard moet bly.

“City Press het doelbewus probeer om ʼn wanvoorstelling van R1,2 miljard te maak, om by hul gekose narratief aan te sluit. Die stad het boonop ook deurlopend aan sy salarisverpligtinge voldoen. Daar was geen stadium wat die stad ʼn risiko geloop het om dit nie te kan doen nie. Dit is ook met die publikasie bespreek.

“Deur hierdie inligting uit te laat, het die publikasie onverantwoordelik opgetree en onnodig paniek gesaai onder werknemers. Ons multi-partykoalisieregering vra hoegenaamd nie om verskoning om die nalatenskap van korrupsie, wat deur die ANC gelaat is, om te keer nie.

“Daar was oor die afgelope paar jare beduidende wanbestuur van die stad se finansies deur vorige administrasies. Hierdie ondoeltreffendhede het druk geplaas op die finansiële gesondheid van die stad. Dit is die geskiedenis van wanbestuur wat ons administrasie wil omkeer,” het Mashaba bygevoeg.

“Alhoewel ek ongelooflike vertroue in die media se rol het om die openbare belang te beskerm en seker te maak dat diegene wat aan bewind is aanspreeklik gehou moet word, vereis dit dat die media hierdie rol op ʼn regverdige, akkurate en gebalanseerde manier sal uitvoer. Ek glo die huidige artikel voldoen nie aan hierdie standaard nie en verteenwoordig ʼn oortreding van die perskode. Die stad sal gevolglik ʼn klag aanhangig maak by die persombudsman teen die City Press.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kaster ·

Waarom draai mediavierentwintig en al hul susterspubliekasies so teen die DA?

JMC ·

Want strydig met die algemene opvatting word dit nie donker as die DA gaan sit nie. Die DA is nie jou vriend nie, hulle is net soos die ANC besig om jou te versaak ter wille van ‘n meerderheidsstem.

Kaster ·

Ja maar dit regverdig nie dat hulle deesdae so baie publisiteit en ondersteuning vir die ANC EFF gee nie.

Cor ·

Alles net verkoops foefies om verkope te boost . As dit swaa gaan met enige media sal hull fopnuus berig net om die dag se vrkope te lg en ahterna sit hulle so afskeep berig wat verklaa is pf die dukkers duiwel of vra halfhartig om verskonibg, maar die skade is kkaa gedoen. Is hoogtyd die oers ombutsman va hulke vas.

Weti meer ·

Ja en al die probleme is altyd vorige administrasie…….it wasn’t me

DA BO ·

Ek woon in kloof wat onder die DA munisipaliteit val in KZN. En dankie vader daarvoor. Kom ry maar nou om 11 uur in die nag deur ons dorp se strate na die comrades en alles is silwerskoon en werkers nog steeds besig om skoon te maak. Ons sypaadjies se gras word weekliks gesny en die eilande is pragtig met blomme beplant. Ry die berg hier af na pinetown en dis n vullishoop onder die ANC. So kan dit maar orals gekyk word waar die ANC is. Niks werk en hulle stook net kwaad. Almal wil mor oor die DA se binnegevegte. Hulle soek eenvoudig nie korrupte mense nie en nou kla almal daaroor. Nee wat, ek hoop ons is vir ewig n DA munisipaliteit.

Kannaland ·

Die massamedia sal die DA nou kruisig oor die verdeeldheid en daardeur die land vernietig. Dit als net om hulle agenda op ons af te wil druk.

Jaycee ·

Ek jou hiervan. Dis reg, ruk die nuusmedia met verskuilde agendas en linkse fopnuus in die bek – met stawende besonderhede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.