Stad Johannesburg is finansieel stabiel, sê DA

Stad Johannesburg (Foto: Willie, Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie het ʼn berig in ʼn Sondagkoerant verwerp wat aanvoer dat die DA-geleide Johannesburg in ʼn finansiële verknorsing is.

Refiloe Nt’sekhe, woordvoerder van die DA, het gesê die party neem kennis van die berig in die City Press dat die stad “in ʼn finansiële verknorsing is” en “binnekort ʼn reddingsboei gaan benodig”. Die party verwerp die bewerings as vals en ʼn wanverteenwoordiging van die stad se finansies, het sy gesê.

Volgens haar het die nuwe DA-administrasie onverpoosd gewerk om seker te maak die finansies van die stad word gestabiliseer en dat hierdie ingryping reeds positiewe resultate oplewer. “Danksy die stad se inkomste-invorderingsveldtog, Operasie Buya Mthetho, het die stad in Mei die hoogste inkomstemaand beleef in die stad se geskiedenis. Dit kan direk toegeskryf word aan ʼn gekwalifiseerde en professionele span wat die belange van die inwoners eerste stel, as deel van ʼn suksesvolle omkeerstrategie,” het Nt’sekhe bygevoeg.

“Ons stryd duur voort om die finansiële skade, wat die vorige ANC-administrasie aangerig het, om te keer. Sedert ons die bestuur van die stad oorgeneem het ná die plaaslikeregeringsverkiesing in 2016, het die DA-geleide administrasie homself verbind tot doeltreffende dienslewering vir alle inwoners van Johannesburg, veral die armes.

“Die vorige ANC-administrasie se korrupsie het armes van gehaltedienslewering en werkskepping ontneem. Die DA bly vasberade om die gevolge van dié korrupsie aan te spreek.

“Die berig in die City Press blyk veroordelend te wees op die geld wat die stad aan forensiese ondersoeke spandeer het oor korrupsie in die administrasie. Dit is egter presies wat nodig is om seker te maak dat korrupsie nie weer sal kop uitsteek in die stad nie. [Korrupsie] was ook die rede vir die land se werkloosheidskoers – tans 9.5 miljoen mense.

“Ondanks die geld wat aan ANC-korrupsie verloor is, het die stad steeds ʼn balans van R3.279 miljard en dit sal baie versigtig bestuur word terwyl ons gehaltedienste lewer. Ons sal ook die nodige beleggings lok om die stad te verbeter en meer werk te skep vir inwoners om Johannesburg se beeld as een van Afrika se ekonomiese magshuise te volhou. Die Stad Johannesburg sal sy inwoners eerste stel deur doeltreffende dienslewering en ʼn agenda wat poog om persone uit armoede op te hef,” het Nt’sekhe bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het gesê Stad Johannesburg is van voornemens om ʼn klag aanhangig te maak teen die City Press-koerant vir ʼn vermoedelike oortreding van die perskode.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

hoe anders? ·

As jy vir die staatsdiens werk sal jy weet van MTEF. dit is 3-5 jaar se blanning wat vooruitgemaak word. Vorige beheer van Johannesburg het seker verkeerde besluite gemaak en nou sit die DA met die patats. Nou moet hulle braai vir ander se foute. Ook nie regverdig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.