Stad Johannesburg meld derde Covid-19-geval aan

Die Stad Johanesburg. Foto: Facebook

Die Stad Johannesburg se nooddiensbestuur het die afgelope naweek sy derde positiewe Covid-19-geval by die eenheid wat noodoproepe hanteer, aangemeld. Die werknemer wat positief vir die virus getoets het, het by dié eenheid se hoofkantoor in Martindale in Johannesburg gewerk en is tans in selfisolasie.

Dié eenheid se hoofkantoor het dadelik sy deure gesluit en die kantore is deeglik ontsmet. Die sentrum wat noodoproepe hanteer, is ook tydelik na ʼn ander fasiliteit geskuif en het Maandag bedrywighede hervat. Dit is om te verseker dat die nooddiensbestuur steeds doeltreffend op noodgevalle kan reageer.

Die nooddiensbestuur werk tans nou saam met die departement van gesondheid om te verseker alle lede wat moontlik met die betrokke werknemer in kontak was, word opgespoor sodat die nodige prosedures gevolg kan word.

Die werknemer wat positief getoets het en sy gesin ontvang die nodige ondersteuning van die Stad. Die ander twee werknemers wat ook vroeër positief getoets het, is steeds in selfisolasie by hul huise, terwyl die persoon wat eerste positief getoets het, glo vandeesweek al terugkeer werk toe.

Mally Mokoena, lid van die burgemeesterskomitee vir openbare veiligheid, sê hulle is bekommerd oor die toenemende aantal positiewe Covid-19-gevalle in die Stad.

Hy sê in ʼn poging om die veiligheid van alle werknemers te verseker, het die departement ʼn minikliniek by die hoofkantoor opgerig. Werknemers kan daar daagliks toetse ondergaan voordat hulle toegang tot die hoofkantore verkry. Dit word gedoen om vroegtydig die virus by ʼn werknemer te diagnoseer.

“As departement sal ons steeds ons pogings versterk om te verseker ons werknemers se gesondheid word ten alle tye beskerm. Ons moedig ook alle personeellede aan om seker te maak hulle volg die nodige voorsorgmaatreëls om die verspreiding van die virus te bekamp,” sê Mokoena.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiewiet ·

Ek wonder hoeveel geld is al bestee aan die voorkoming van die verspreiding van die virus, en of dit hoegenaamd effektief is? Staan ons nie maar almal n kans om die virus op te doen, onge-ag die voorsorg nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.