Stad Kaapstad, Cele skik buite hof na Kampsbaai-voorval

Minister Bheki Cele het Woensdag verskeie Kaapse strande besoek. Foto: Courtney Africa/African News Agency(ANA)

Rolprentspanne wat die nodige permitte het, kan voortgaan met verfilming sonder vrees van onwettige inmenging deur enige lid van die polisie.

Die stad Kaapstad en Bheki Cele, minister van polisie, het dié skikking bereik na die voorval vroeër die week op Kampsbaai waar die minister polisiebeamptes aangesê het om ʼn rolprentspan van die strand af weg te jaag ten spyte daarvan dat die span oor ’n geldige permit beskik het wat deur die owerhede uitgereik is.

Die stad Kaapstad het hierna die Wes-Kaapse hooggeregshof genader om ’n interdik te kry wat enige verdere onwettige inmenging van die polisie sal verbied in wettige en toegelate opnames. Volgens die stad het die staatsadvokaat wat Cele verteenwoordig sy regspan met ’n skikkingsvoorstel genader voor die saak aangehoor kon word.

Dan Plato, uitvoerende burgemeester van Kaapstad, het gesê hy is verheug dat verfilmingspanne nou met gemoedsrus hul werk sal kan voortsit.

“Ek het aan president Cyril Ramaphosa geskryf om sy reaksie te vra oor die onwettige optrede van minister Cele. Die saak is ook na die etiekkomitee van die parlement verwys aangesien die gedrag van minister Cele hoogs problematies is en aangespreek moet word.”

JP Smith en minister Bheki Cele het Woensdag in ‘n bekgeveg betrokke geraak op Kampsbaai se strand. Foto: Courtney Africa/African News Agency(ANA)

Cele en JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het Woensdag in ʼn bekgeveg betrokke geraak op Kampsbaai se strand nadat die minister opdrag gegee het dat die rolprentspan se bedrywighede onmiddellik stopgesit moet word.

Volgens Smith is hulle dankbaar dat die saak spoedig opgelos kon word. “Daar is tans sewe ander filmspanne wat toestemming het om op ons strande te verfilm en hulle is nou beskerm van enige inmenging deur die polisie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.