Stad Kaapstad gee duidelikheid oor vuurwerk

Argieffoto

Die Stad Kaapstad sê beriggewing wat meld dat hy vuurwerk heeltemal verban, is onjuis.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die Stad Kaapstad het die stad besluit om nie langer enige openbare ruimtes te identifiseer waar vuurwerk afgevuur mag word nie.

“Wesenlik beteken dit nie dat die stad vuurwerk in Kaapstad heeltemal verbied nie. Hoewel daar jare lank al openbare verset teen die afvuur van vuurwerk is, het slegs die nasionale regering die mag om dié besluit deur te voer,” lui die verklaring.

Die stad sê lede van die publiek kan steeds aansoek doen om ’n permit om vuurwerk in die openbaar af te vuur. Dít moet onderworpe wees aan die bepalings van bogenoemde wetgewings. Die onwettige invoer van vuurwerk is teen die wet, veral tussen Oktober en Januarie.

Volgens die verklaring is die stad nie verplig om aangewese persele vir die afvuur van vuurwerk beskikbaar te stel nie. Volgens die munisipale verordening oor vuurveiligheid mag beheerowerhede munisipale terreine aan die publiek beskikbaar stel ten doel om vuurwerk af te vuur. Dít moet onderhewig wees aan die voorwaaardes wat deur die beheerowerhede bepaal word en ook deur ’n kennisgewing op die terrein aangedui word.

Lede van die publiek het die besluit om die afvuur van vuurwerk in geïdentifiseerde gebiede te verbied, verwelkom. Mense in die Hindoe-gemeenskap het egter hul misnoeë uitgespreek oor die uitwerking daarvan op die Diwali-fees aan die einde van die maand.

Maroela Media het vroeër berig oor die stad se besluit om wel vuurwerk tydens Diwali asook Guy Fawkes en Nuwejaar toe te laat, as ’n betoning van respek teenoor hierdie kulturele tradisies. Die stad het besluit om die Athlone-stadion se parkeerterrein vir die Diwali-feesviering op 27 Oktober vandeesjaar beskikbaar te stel.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het inwoners herinner dat die gebruik of afvuur van vuurwerk in enige gebou en openbare deurgang ingevolge die wet ʼn boete van R200 tot gevolg kan hê. Die verkoop van vuurwerk aan ʼn kind of iemand onder die ouderdom van 16 sal ʼn boete van R300 tot gevolg hê en iemand wat ʼn kind of persoon jonger as 16 toelaat om vuurwerk sonder toesig van volwassenes te hanteer sal ʼn boete van R300 opgelê word.

Lede van die publiek met inligting rakende die onwettige verkoop of gebruik van vuurwerk moet dit by die stad se openbare noodoproepsentrum aanmeld deur 107 van ʼn landlyn, of 021 480 7700 van ʼn selfoon te skakel. Die polisie kan ook by 10111 genader word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanL ·

Wens die nasionale regering wil die invoer en afvuur van vuurwerke algeheel verbied. Die uitwerking op diere is skrikwekkend.

Ek glo Diwali (Fees van die Ligte) kan op ander maniere gevier word as om klappers te gebruik. Klappers is maar een manier om die “lig” tema uit te lig. As dit regtig moet, kan dit dan vuurwerke wees wat nie met die onnodige geweldige lawaai gepaardgaan nie. Daar is opsies.

Trol ·

Kerse verteenwoordig lig net soveel beter. Soos die jode tudens Hanukkah doen.

Naas ·

Die “mishandeling” van diere deur hulle eienaars is 10 keer erger as die bietjie vuurwerke van tyd tot tyd. Klein kampies; kettings; bedags in woonstelle; geen daaglikse oefening; geen kursusse oor troeteldierhantering nie; uitsit van diere; weggee van diere as hulle ‘n las raak; verkoop van diere; vuil kosbakke; swakkerige kos; menskos….en die lys gaan aan.
Vuurwerkvertonings word meesal geadverteer en eienaars kan voorsorg tref….maar is te lui en wil ander mense/goed blameer

Judge Dredd ·

Hierdie jaar gaan ek crackers skiet dat die biesies bewe.

Trol ·

Net n klein bietjie politieke druk en daar vou ou Jp se bene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.