Stad Kaapstad kry hofbevel teen busstakers

Brett Herron, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir vervoer. Foto: Facebook

Die Stad Kaapstad het ʼn dringende hofbevel teen stakende MyCiti-werknemers verkry wat hulle verbied om passasiers of kollegas te intimideer, lastig te val of aan te rand, bushaltes of busse te beskadig of binne 100 m van MyCiti-eiendom te kom.

Die hofverrigtinge het tot vroeg gisteraand aangehou, sê Lizel Steenkamp, woordvoerder van die stadsraad. Die hofbevel is bekom teen die stakende werknemers wat in diens is van die MyCiti Vehicle Operating Companies (VOC), die maatskappy wat die MyCiti-busdiens namens die Stad Kaapstad bedryf.

“Ons vertrou die stakers sal die bevel gehoorsaam,” het Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, Donderdagaand gesê, “en ophou om hul kollegas te intimideer wat nie aan die wilde staking, wat gereël is deur die EFF ter bevordering van sy eie, kortsigtige politieke belange, wil deelneem nie.”

Herron sê hy was die afgelope week deurentyd beskikbaar om die stakers te woord te staan, maar op voorwaarde dat enige gesprek gevoer word deur hul wettige verteenwoordigers, naamlik die vakbonde wat die werknemers in die werkplek verteenwoordig.

“Ek weier om met stakende werkers in gesprek te tree deur die EFF, wat desperaat is om hulself as ‘makelaars’ te vestig in ʼn omgewing waar hulle nie hoort nie en geen wettige mandaat het nie,” sê Herron.

Hy sê die EFF se optrede tot dusver bevestig dat lede “geweld inspan om wettige strukture te destabiliseer, en hulle doen dit tot elke prys, ongeag die slegte gevolge vir werkers en minderbevoorregtes, wat hulle kwansuis verteenwoordig”.

Herron sê hy is in verbinding met die stakers se vakbondverteenwoordigers en het hulle ingelig dat hy bereid is om na die stakers se besware te luister. “Maar besprekings oor werknemers se griewe kan nie onder leiding van die EFF plaasvind nie. Ek is nie bereid om aan ʼn politieke spektakel van die EFF deel te neem nie.”

Ingevolge die hofbevel mag geen staker binne 100 m van ’n MyCiti-bushalte soos dié een by die Burgersentrum in die Kaapse middestad kom nie. Foto: Facebook

Die stadsraad hou vol die onbeskermde staking is ʼn oortreding van die Wet op Arbeidsverhoudinge en dat diegene wat daaraan deelneem, nie betaal sal word terwyl hulle van die werk af wegbly nie. Tugoptrede staar hulle ook in die gesig.

ʼn Aansoek deur die VOC om ʼn dringende bevel van die arbeidshof is intussen toegestaan en die stakers is gelas om die koste daarvan te betaal.

Herron sê ʼn loonooreenkoms is op 21 Mei vanjaar bereik ná ʼn vier weke lange MyCiti-staking. Werknemers het toe ʼn ooreenkoms onderteken ingevolge waarvan hulle onderneem het om nie weer voor 31 Maart 2020 te staak nie.

“Die verbreking van dié ooreenkoms binne minder as vyf maande nadat dit bereik is,” sê hy, “is die toppunt van kwade trou en kan geensins goedgepraat word nie.”

Die stadsraad sê sowat 60 000 pendelaars maak daagliks van die diens gebruik. Passasiers wat inligting wil bekom oor watter roetes nog in bedryf is, kan die vervoerinligtingsentrum enige tyd by 0800 65 64 63 bel, @MyCiTibus op Twitter volg of by die Facebook-groep MyCiTi Integrated Rapid Transit System aansluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

Hofbevel gaan soveel uitwerking he as om teen die suid ooster te blaas met ‘n tuit mondjie ….

RG ·

Ooreenkoms geteken om nie voor Maart 2020 weer te staak nie. Was dit op SuperSoft 3-laag… en dan noem hulle Afriforum arrogant.

Karolis ·

Goeie stappe geneem.
Die passasiers moet ook nou net voet neersit teen die stakers.

Sons ·

Betaal die hele spul af, en stel mense aan wat ‘n passie het vir werk. Hoe pateties,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.