Stad Kaapstad sal optree teen ‘Zuma must fall’-plakkaat

Die "Zuma must fall"-plakkaat wat op 15 Januarie 2016 in Kaapstad opgerig is Foto: Twitter

Die “Zuma must fall”-plakkaat wat op 15 Januarie 2016 in Kaapstad opgerig is Foto: Twitter

ʼn Reusagtige plakkaat met die woorde, “Zuma must fall” is Vrydag glo onwettig in Kaapstad opgeplak.

“Die groot plakkaat wat deur ʼn privaat maatskappy op privaat eiendom in die middestad opgerig is, voldoen nie aan die stad Kaapstad se munisipale wette oor buitemuurse advertensie nie,” het die munisipaliteit Vrydag gesê nadat sosiale media gegons het oor dié yslike plakkaat.

Die plakkaat is op ʼn besige hoek, waar Langstraat, Kloofstraat en Oranjestraat bymekaar kom, teen die Overbeek-woonstelblok en bo ʼn McDonalds-kitskosrestaurant aangebring.

“Die plakkaat is ook opgerig teen die Wet op Nasionale Geboueregulasies en Standaarde. Die stad het nie ʼn aansoek ontvang dat die plakkaat opgerig gaan word nie. Die saak is gevolglik vir vervolging oorhandig.”

Die "Zuma must fall"-plakkaat wat op 15 Januarie 2016 in Kaapstad opgerig is Foto: @enca, Twitter

Die “Zuma must fall”-plakkaat wat op 15 Januarie 2016 in Kaapstad opgerig is Foto: Twitter

Twitter het Vrydag gegons en BBC se Africa Live-nuuswebwerf het ook melding gemaak van die plakkaat wat opgerig is.

Die versoek dat Zuma uit sy amp verwyder moet word, het aan die einde van verlede jaar ʼn kreet geword terwyl studente teen universiteitsgelde betoog het.

Priya Reddy, woordvoerder vir die stadsraad, het gesê die saak is aan aanklaers oorhandig, nie weens die inhoud nie, maar die feit dat die plakkaat groter is as wat plaaslike munisipale wette en nasionale wetgewing toelaat.

“Plakkate bedek gewoonlik nie ʼn gebou tot hierdie mate nie, en dit bedek gewoonlik nie soveel vensters nie,” het Reddy verduidelik.

Sy het gesê die stad vermoed die plakkaat is deur ʼn privaat individu opgerig, wat vantevore al in die sop was oor ʼn advertensiebord. Hy het nie van ʼn geregistreerde mediamaatskappy gebruik gemaak nie, aangesien dié maatskappye die noodsaaklikheid van toestemming van plaaslike owerhede begryp.

Die hoof van die maatskappy wat gewoonlik verantwoordelik is om die advertensiespasie te verhuur, het nie Vrydag sy selfoon geantwoord nie en die identiteit van die persoon wat betaal het om dit op te rig, is nog steeds onbekend.

Die "Zuma must fall"-plakkaat wat op 15 Januarie 2016 in Kaapstad opgerig is Foto: @Mauro_matal1 via @GreatGramPops, Twitter

Die “Zuma must fall”-plakkaat wat op 15 Januarie 2016 in Kaapstad opgerig is Foto: @Mauro_matal1 via @GreatGramPops, Twitter

ʼn Bron binne die advertensiebord-bedryf het aan ANA gesê dit is algemeen bekend in die bedryf dat die bepaalde advertensiespasie ongeveer R400 000 per maand kos. “Dit is ongeveer die helfte van die prys wat dit kos om ʼn dubbelbladsy-advertensie in die Sunday Times uit te neem,” het hy geskerts.

Die Demokratiese Alliansie, wat polities in beheer staan van Kaapstad en die Wes-Kaap, het ontken dat hulle enige aandeel het in die oprig van die plakkaat.

Julius Malema, leier van die Ekonomies Vryheidsvegters (EFF) het aan ANA gesê hy weet ook nie wie is verantwoordelik vir die plakkaat nie.

Reddy het gesê die stad verwag van aanklaers om die saak “dringend” te hanteer. Die stadsraad kan nie die plakkaat verwyder nie, maar die hof kan die betrokke individu dwing om dit te doen.


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Rynhardt ·

Dit gaan nie oor die onwettigheid van plakkaat,#Zumamust fall nie, maar oor die DA wat ontsteld is oor die plakkaat wat sy ouboet, die Anc, se leier aanstoot gee!Puik plakkaat, so in DA se gesig!!!

JP ·

Lees weer P. Reddy se kommentaar, asook DA wat betrokkenheid “ontken”. Twyfel sterk DA is “ontsteld” soos jy kommentaar lewer

Rynhardt ·

JP as jy glo die DA is teen Anc, dan kan jy ook glo die maan is van kaas gemaak.Ek wil graag ook n groot banier sien wat se,#DA mustfall!

Lynt ·

Bravo vir die persoon wat die muur so gepas ver(ont)sier het. Rynhardt gaan speel op die hiper-konserwatiewe webblaaie en hits mekaar maar verder daar aan. Bitter min van hulle kan spel so jy pas goed in.

Dee ·

Opsigtelik is die DA nie ten gunste daarvan en sal moeite doen om dit verwyder te kry.

Rudie Thirion ·

Die Stad Kaapstad kan nie anders as om op te tree nie. Hulle regulasies is oortree. As hulle nie optree nie, skep hulle geleentheid vir ander om te oortree en dit kan tot chaos lei. Soos in die ANC beheerde munisipaliteite. Ek was onlangs in Kaapstad en omgewing. Wat ‘n plesier. Daar is relatiewe orde. Ons het laat middag op Nuwejaarsdag op Houtbaai se strand gaan stap. Ek het twee Black Label bottels op daardie baie lang strand gesien – dis al rommel wat ek gesien het. Daar was baie mense van alle rasse die dag op die strand. Wat ‘n teenstelling met die situasie dieselfde middag in Durban wat aanleiding gegee het tot die gewraakte uitlating oor Durban se strandgangers.

HEVW ·

Help nie veel om nou te verwyder nie. Ek reken die grootte daarvan het alreeds soveel indruk gemaak dat dit beslis sy effek gaan uitoefen.

Berhalet Beukes ·

Ek het nou te lekker gelag…. Ja nee…. Die punt is gemaak met hierdie enorme plakkaat!

Kaspaas ·

Die ANC maak duidelik die DA bang. Net nog n rede dat die tyd gekom het vir due DA om aan te skuif vir n nuwe opposisie party. Hoe ek ook die EFF verag ten minste staan hulle op teen due ANC. Die DA het te sag geword. Sorry DA die jaar stem ons NIE vir jou, jou ware kleure kom uit.

Dee ·

So jy is een van die wat tot tot nou toe vir regstellende aksie en grondhervorming gestem het. Bly maar waar jy is, die konserwatiewe partye kan doen sonder julle.

Kaspaas ·

Ag ou Dee siestog jong. Daar is hoop vir jou, haal jou oogklappe af jy bly nie in isolasie nie al wil jy bitter graag. Net omrede ek nie vir die DA gaan stem nie beteken nie ek gaan vir rasisme stem nie. Dit los ek maar vir jou en jou aanhangsels.

Kaspaas ·

Die ANC maak duidelik die DA bang. Net nog n rede dat die tyd gekom het vir due DA om aan te skuif vir n nuwe opposisie party. Hoe ek ook die EFF verag ten minste staan hulle op teen die ANC. Die DA het te sag geword. Sorry DA die jaar stem ons NIE vir jou, jou ware kleure kom uit.

Sarie ·

Ek was onder die indruk dat die DA ten gunste daarvan is dat Zuma van sy presidentskap ontnem word? Hulle het dan geslaag met ‘n aansoek om ‘n mosie van wantroue die hom in die parlement op die agenda te kry, maar sien ek hulle is eintlik ondersteuners van Zuma want anders sal hulle mos nie mense (wie dit ookal mag wees) van kriminele klagte laat aankla nie. Hulle behoort die steun vir hul powere pogings om van Zuma ontslae te raak, te verwelkom. Dit het tyd geword dat die DA openlik uitkom met hoe groot hul steun regtig vir Zuma is want hulle hel al meer-en-meer oor na die ANC. Gelukkig stem ek nie DA of ANC nie

RogerB ·

Hierdie inisiatief het binne etlike ure wereldwyd bekend geword. Die wiel draai. Mens kort net meer sulkes wat bereid is om iets te doen. Wat ‘n verleentheid om die DA by so iets te betrek. Hul is niks anders as opportuniste nie, wat zero doen in hierdie land en teer op mense se desperaatheid. Swakste opposisie party denkbaar op aarde.

Muller ·

As ek nou ‘n vragie mag vra? Almal wat so teen die DA gekant is, watse party gaan julle dan ondersteun in die verkiesing. Ons het slegs 2 sterk partye gehad, ANC en DA en nou is die EFF net so sterk (ongelukkig). As ons nie DA stem nie, vir wie stem ons wat die hef in die hand kan neem en sterk genoeg is dat ons kompetisie vir die ANC en EFF sal wees, om ons stemme rond te gooi na honderd en tien klein outjies gaan ons verdeel en ons gaan net mooi nerens kom nie

Jaco Grobler ·

Die stilte daal….Netso Muller. Ek het nog nooit ‘n enkele party kon identifiseer met wie ek 100% saamstem nie, wat doen enige redelike mens dan? Begin die proses en raak ontslae van die huidige party wat swak presteer. Selfs al kom jou ‘ideale’ party aan bewind, gaan dit jare vat om die land reg te ruk……maar êrens moet dit begin.

Eliza-beth ·

Muller en Jaco Grobler, julle praat my taal. Verder is hierdie nogals amusant want al sou ons in Gauteng en elders NIE hierdie plakaat gesien het nie, is ons almal, danksy mediadekking nou terdeë daarvan bewus so dit het baie meer “kyktyd” en aandag gekry as waarop gehoop is! Goed so!

Stuart ·

Rudie Thirion heelwat boontoe is heeltemal korrek. Wette is daar om gehoorsaam te word en die stad Kaapstad tree maar ent op volgens wet. Om nou te sê die DA is bang vir die ANC en sulke dinge is absolute twak. Julle kla gou almal as wette oortree word, dis die stad se PLIG om wette na te kom anders, soos Rudie tereg sê gaan dit tot chaos lei en sal mense eenvoudig doen wat hul wil en hierdie as voorbeeld gebruik. Hulle kan nie ‘n presedent skep nie en moet optree – of hul heimlik saamstem met wat op die plakkaat staan of nie. So hou op simpel aanmerkings maak en dink bietjie voor jul onsin kwytraak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.