Stad Kaapstad waarsku oor giftige vlei

Argieffoto

Die Stad Kaapstad het inwoners en besoekers gewaarsku om aanraking met water van die Wildevoëlvlei, oos van Kommetjie, te vermy weens verhoogde gifvlakke in die vlei.

Rdl. Suzette Little, die stad se waarnemende burgemeesterskomiteelid vir die suidelike streek, het in ʼn verklaring gesê die vlei het ʼn gevestigde algebevolking wat oorheers word deur die blougroen alge-spesie (Cyanophyceae).

“Dié soort alge het die vermoë om onder sekere omstandighede gifstowwe af te skei wat skadelik vir mens en dier kan wees as dit ingeneem word. Onlangse laboratoriumtoetse wat deur die stad onderneem is, het die algtoksiene bevestig,” het Little gesê.

“Die publiek word versoek om kontak met die water in die vlei en die uitlaatkanaal by die strand te vermy. Mense wat met honde stap moet verseker dat hul diere aan ʼn leiband bly om te voorkom dat hulle van die water drink.”

Little het ook gewaarsku die oes, koop of verbruik van skulpvisse van die rotsagtige stuk tussen Klein Slangkop en Noordhoek-strand, word nie aangeraai nie. “Skulpvis, soos mossels, wat in dié gedeelte geoes word sal waarskynlik as gevolg van die gifstowwe nie geskik wees vir menslike verbruik nie.”

Die alge kan gewoonlik gesien word as groen, blougroen, wit of bruin skuim wat op die oppervlak van die water dryf. Blootstelling aan die alge kan oogirritasies, veluitslag, mondsere, naarheid, diarree en griep-simptome veroorsaak. “Om groot hoeveelhede besmette water te drink kan uiters gevaarlik wees.”

Sy het gesê enigeen wat in direkte aanraking met die blougroen alge kom, moet onmiddellik met skoon water was. Indien enige simptome ervaar word, moet mediese raad verkry word.

“Meer toetse sal deur die stad se omgewingsgesondheidsdepartement gedoen word, maar in die tussentyd moet voorsorg getref word om veiligheid van mense en diere te verseker,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LB S ·

Pieter, nou wil jy die DA vir ALLES blameer? Ondeurdagte kommentaar.

LB S ·

Pieter, nou wil jy die DA vir ALLES blameer? Ondeurdagte kommentaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.