Stad Kaapstad waarsku teen onwettige HOP-huise

Hop-huise in Barkly-Oos in die Oos-Kaap Foto: Morné van Rooyen via Wikipedia

Hop-huise in Barkly-Oos in die Oos-Kaap Foto: Morné van Rooyen via Wikipedia

Die stad Kaapstad het voornemende kopers van HOP-huise gewaarsku om seker te maak dat die huis wat hulle beplan om te koop, wel wettig verkoop mag word.

Die stad maan inwoners om versigtig te wees wanneer hulle ʼn staatgesubsidieerde huis, algemeen bekend as ʼn HOP-huis koop, aangesien daar ʼn beperking op die verkoop van dié huise is, veral binne die eerste paar jaar nadat die eiendom deur begunstigdes aangeskaf is.

Kragtens die Wet op Nasionale Behuising, mag ʼn HOP-huis nie binne die eerste agt jaar verkoop word nadat die begunstigde die huis ontvang het nie, tensy die Wes-Kaapse regering die transaksie goedgekeur het nie.

Benedicta van Minnen, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersetting, het gesê onwettige transaksies vind plaas sonder dat die Aktekantoor die amptelike oordrag hanteer. “Dit gebeur sonder die betrokkenheid van die stad of die betrokke owerheid,” het sy gesê. “Ons kry gereeld ʼn hartverskeurende verhaal van ʼn koper wat geld betaal het vir ʼn HOP-huis wat onwettig verkoop is, omdat dit nog in die beperkte periode was. Slegs huise wat buite die agt jaar periode val, mag wettig verkoop word.”

Van Minnen het gesê hulle doen moeite om begunstigdes van gesubsidieerde behuising op te lei in terme van finansiële bestuur, basiese regsadvies, algemene huishoudelike instandhouding en herstelwerk, en om groentetuine op te rig om voedselsekuriteit te vestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

zahn ·

Ek verstaan nie lekker nie. Die HOP huis word in die eerste plek toegeken aan mense wat geen vaste woning gehad het nie, maw, behoeftig was. Nou kry hulle die huis, en binne ‘n paar jaar wil hulle dit opgee, vir geld. Volgende vraag, wat gebeur nou met daai geld? Of nog beter, waar gaan die verkoper nou bly? Kan ek raai, 20 jaar terug, toe die huis bekom is, was die oudste kind net gebore. Nou is daai kind ook op die lys vir huise, hy kry een, pa of ma verkoop sy huis, trek in by die kind, met die geld, en siedaar! Siek, baie siek stelsel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.