Stad Tshwane maak waterpyplekkasies reg

Argieffoto

Die Stad Tshwane het R75 miljoen opsy gesit vir die vervanging van verslete waterpypleidings as deel van sy plan om kritieke infrastruktuur in die stad in stand te hou en om die tegniese waterverliese wat die stad ervaar, te beperk.

Die huidige begroting maak voorsiening daarvoor dat die stad ’n geraamde 18 420 meter se pypleiding in die Jakarandastad kan vervang.

Volgens Daryl Johnston, burgemeesterskomiteelid in die Tshwane-metroraad, gaan die stad se pypleidings ook behoorlik nagegaan word om enige verdere lekkasies op te spoor voordat dit bogronds sigbaar is.

Gebiede waar onderhoud- en herstelwerk van pypleidings sal geskied, sluit in Pretoria‑Noord en Dorandia, Mamelodi, Eersterust, die groter Sinoville-gebied, Constantiapark, Moreletapark, Riamarpark en Clubview.

Rand Water het die afgelope maand fase 2-waterbeperkings ingestel om waterverbruik met 30% te verminder. Dit is in ʼn poging om die daling in die metro se reservoir-opgaarkapasiteit hok te slaan. Die daling is veroorsaak deur tegniese probleme, tesame met die onlangse warm weersomstandighede.

Ingevolge fase 2-waterbeperkings mag tuine in die Tshwane-metro nie met ʼn tuinslang of besproeiingstelsel natgelei word nie, tuinslange mag nie gebruik word om opritte of stoepe skoon te spuit nie, voertuie mag nie met die gebruik van ʼn tuinslang gewas word nie en swembaddens mag ook nie opgevul word nie.

Die stad het verlede week uitgewys dat inwoners van die volgende gebiede veral op hul waterverbruik moet let: Garsfontein, Constantiapark, Mamelodi, Pretoria‑Sentraal, Soshanguve, Akasia, Ga-Rankuwa, Hatherley, Laudium, Mabopane, Kosmosdal en Centurion.

“In ’n poging om Rand Water by te staan, doen ons ’n beroep op inwoners om voort te gaan om water te bespaar om dit moontlik te maak dat die reservoirs weer hul teikenvlakke van 60% bereik,” sê Johnston.

“Terwyl waterbesparing uiters belangrik bly, neem die stad kennis dat ons ’n verantwoordelikheid het om verseker dat ons ons waterinfrastruktuur in stand hou om waterlekkasies te verminder.”

Johnston sê onderhoud en opknapping van kritieke infrastruktuur is een van die stad se koalisieregering se sleutelprioriteite, soos uiteengesit in die toptien‑ strategiese fokusgebiede om die stad te ontwikkel en vinnige dienslewering te bewerkstellig.

“Dit is my hoop dat, as die stad se finansiële situasie stabiliseer en inkomste-invorderingskoerse verbeter, ons in ’n beter posisie sal wees om meer fondse aan die onderhoud van kritieke infrastruktuur toe te wys.”

Teen verlede Maandag het die Rayton‑Noord-reservoir en Rayton‑Suid-reservoir se watervlak tot 15% teruggesak.

Die Koedoesnek HL-reservoir (72%), die Soshanguve‑Noord-reservoir (75%) en Soshanguve‑Suid- reservoir (55%) se watervlak het sedert die naweek goeie herstel getoon, wat beteken dat die gebiede nou weer water in hul krane het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Doline ·

Probleme is dat water lekkasies die grootste water verbruik is. Munisipale werkers het Saterdag n brandkraan oopgemaak en nie behoorlik toegemaak. Nou loop die water heeltyd. Dis n absolute stryd om Munisipaliteit van Tshwane te laat weet want mens hou aan op die telefoon vir ewig en kry geen hulp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.