Nog twee mense wat met die stadiongeweld by die Moses Mabhida-stadion verbind kan word, het hulle aan die polisie oorgegee.
Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het Donderdag gesê die polisie word aangemoedig deur die feit dat die beskuldigdes hulle oorgegee het en saamwerk met ondersoekers en aanklaers.
“Ons is vol vertroue dat die oorblywende verdagtes ook dieselfde sal doen. Lasbriewe sal binnekort uitgereik word vir hul inhegtenisneming indien hulle hul nie self oorgee nie.”
Nolwethu Cokotha (29) en Zibongile Njona (27) het Woensdag vlugtig in die Durban-landdroshof verskyn en is elk borgtog van R1 000 toegestaan.
Naicker het gesê die twee sal saam met die sewe ander medebeskuldigdes verskyn wanneer hulle weer 25 Mei in die hof moet wees.
Meer as 20 mense is op 21 April beseer toe toeskouers op die veld gehardloop en begin baklei het ná Kaizer Chiefs teen Free State Stars in die halfeindstryd van die Nedbank-beker verloor het.
Naicker het ʼn beroep op diegene wat in die geweld beseer is, gedoen om die ondersoekspan te nader. “In dié stadium het ons hul name, maar nie hul kontakbesonderhede nie.”
Diegene wat geraak is, kan kapt. Reddy by 082 458 5630 of AO Mhlungwana by 082 662 7764 bel.
Maroela Media het vroeër berig drie verdagtes het Dinsdagoggend in die Durban-landdroshof op aanklag van openbare geweld verskyn.
SAP – “Surrender Ag Please”
Nou hoekom verbaas dit my glad nie.
Dit moes nooit gebeur het nie!