Stadsbestuurder glo geskors oor Bloemhof-waterbesmetting

Argieffoto

Argieffoto

Andrew Makwapane, die stadsbestuurder van die Lekwa-Teemana-munisipaliteit, is geskors na bewering in verband met die waterbesmettingkrisis in Bloemhof in Noordwes, wat reeds die lewens van drie babas geëis het.

“Makwapane is geskors ná ʼn vergadering wat die Noordwes-premier, Supra Mahumapelo, saamgeroep het om die munisipaliteit se uitdagings te bespreek,” het Lesiba Kqwele, Mahumapelo se woordvoerder, in ʼn verklaring gesê. Mahumapelo het oor die naweek ook die drie babas wat weens ernstige diarree gesterf het, se gesinne gaan besoek. “ʼn Forensiese ondersoek word gedoen en ʼn voorlopige verslag word binnekort verwag. Die provinsiale uitvoerende komitee gaan Dinsdag vergader om die kwessie te bespreek. Die gemeenskap sal terugvoer ontvang sodra die ondersoek afgehandel is.”

Kgwele het nie meer besonderhede oor Makwapane se skorsing verskaf nie.

Hy het bygevoeg ‘n taakspan, wat uit die komitee en die departement van waterwese en sanitasie saamgestel is, sal die munisipaliteit se “sukkelende” infrastruktuur, bestuur en administratiewe probleme ondersoek. Die taakspan gaan ook die rioolstorting ondersoek wat tot die waterbesmetting gelei het.

Makwapane het verlede week ʼn kontrakteur vir die waterbesmetting beskuldig. “’n Rioolstorting het plaasgevind en ‘n kontrakteur in Uitbreiding 5 in Boitumelong was veronderstel om die probleem op te los, maar hy het nie sy werk voltooi nie weens onluste in die gebied,” het Makwapane in daardie stadium gesê. Hy kon nie sê wanneer die rioolstorting plaasgevind het nie, en het ook nie gespesifiseer na watter onluste hy verwys het nie.

Dosyne inwoners het verlede week plaaslike dokters en klinieke besoek om behandel te word nadat hul drinkwater besmet geraak het. Vyf babas is in ʼn hospitaal opgeneem vir behandeling.

Daar was ook ʼn vrees vir ʼn cholera-uitbreking in die omgewing. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het egter Maandag bevestig dat daar nie ʼn cholera-uitbreking is nie.

Lees ook:
Bloemhof-water: Dodetal styg tot drie
Bloemhof-water: Vyf babas in hospitaal
Bloemhof-water: Kind sterf, water getoets

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

Jip – Geskors. Betekende hy kry nogsteeds geld en so sal dit aangaan. Alles verval en gaan agteruit en onskuldige klein mensies boet met hulle lewe. Oor ‘n paar dae sal ook geen haan hierna kraai nie. Dis mos die wenresep in diè land. Jy bly in jou pos of word net verskuif of dalk geskors. Maar die gemors word nooit opgelos nie en soos ek sê daar word net aangegaan om met die soustrein te ry………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.