Stadsjapies vat voor met brandbestryding

Die spuitvlieg kon binne twee dae die brande tydens die eerste rondte blus. (Foto: Hermus Venter)

Die verwoestende veldbrande rondom Kimberley het vir amper ‘n maand ʼn skrikbewind gevoer soos dit verder van die stad af uitgekring en plek-plek net uitgebreek het.

Noordwaarts het dit verby Barkly-Wes, Windsorton en Delportshoop tot by Spitskopdam gebrand. In die suide het dit so ver as Lilydale, 40 km vanaf Kimberley, en Plooysburg, ongeveer 60 km suidwes vanaf die stad beweeg. In die ooste het dit tot in die ontoeganklike Ghaap se berg gebrand en in die suidweste het dit deur Modderrivier in die Vrystaat beweeg.

Die plase is pikswart en die boeregemeenskap het ʼn verbete stryd gestry om eie huis en haard en dié van hulle bure te beskerm, maar die wind was oor die afgelope tyd teen hulle gewees.

Baie boere het alles verloor toe opstalle, skure en weiding totaal vernietig is. (Foto: Hermus Venter)

“ʼn Gewone Kimberliet”, soos Marianne Coetzee na haarself verwys, het ʼn perd wat op die Mein Heim-landgoed, 15 km suidwes van Kimberley, loop. Sy het bekommerd geraak toe die brande in daardie rigting beweeg en het by ʼn WhatsApp-groep aangesluit wat inligting oor die brande gedeel het. Kort daarna is sy ʼn admin gemaak. “Ons het die noodkreet vanuit boeregeledere gehoor om die brande uit die lug uit te blus,” sê sy.

Hermus Venter is ʼn sake-eienaar in Kimberley en lid van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). “Ek het so twee jaar gelede op ʼn WhatsApp-groep beland om inligting te kry oor my vriende se plase wat brand, om te gaan help baklei. Ek was verlede jaar ook betrokke by die brande in Boshof en het gesien hoe doeltreffend vliegtuie aangewend kan word om die brande te bekamp.

Die afgelope maand het onheilspellende tonele rondom Kimberley ontvou. (Foto: Llewellyn Coetzer)

“Op 26 September het ʼn brand in die Schmidtsdrif-gebied uitgebreek. Ek het vir Working on Fire gebel om uit te vind hoe werk die proses om lugsteun te kry. Hulle helikopters was ongelukkig vas in die Vrystaat en KwaZulu-Natal.”

Hy het ook uitgevind dat Working on Fire deur die staat betaal word en slegs waar ʼn rampgebied verklaar is. Die lugsteun sou te duur wees om self te betaal, maar hulle het darem twee grondspanne gestuur.

Ten einde laaste het hy vir Proman, ʼn lugspuitdiens in Jan Kempdorp, genader. Die koste was egter astronomies. ʼn Spuitvliegtuig kos R23 000 om dit vir ʼn uur in die lug te hou. Hulle het wel bevestig dat hulle dadelik sal kom as die geld in hulle rekening is.

Coetzee het ingespring en ʼn advertensie op sosiale media versprei om geld in te samel en “binne twee uur het ons R338 000 in die hand gehad!” sê sy.

“Burre Burger, wat baie bekend is vir sy hulpverleningswerk aan boere, het ons ook geskakel en R115 000 gegee. Ons kon toe die vliegtuig vir ʼn hele paar uur in die lug hou en het Proman laat kom.”

Herman Bosman van Proman lugbepuiting op pad na die brande toe. (Foto Hermus Venter)

Die vlieënier, Herman Bosman, het op 28 en 29 September gaan help. Op die eerste dag het die wind ná die vyfde of sesde vlug gedraai en hy kon nie verder vlieg nie. Gedurende die tweede dag kon hy wel al die brande blus wat oor ongeveer 70 ha gestrek het. Daarna is hy weg om in hierdie besige spuitseisoen elders te gaan werk.

“Die geld wat oorgebly het, het ons vir Daan Liversage, ʼn geoktrooieerde rekenmeester in Kimberley, gegee wat Orion Boerebrandfonds gestig het,” sê Coetzee, wat in beheer was van die finansies.

“Ons het besluit om die res van die geld aan te wend om die brandstofkoste te dek van die voer wat vir die boere geskenk word. Die eerste vyf vragte is al op 1 Oktober gestuur.”

 

Hoofstuk 2

Hernude brande het by Douglas en Barkly-Wes uitgebreek. (Foto: Hermus Venter)

Nadat die brande geblus was, kon die vrywilligers weer aan hulle normale dagtake aandag gee, maar skaars twee weke later het die krisis van voor af begin toe brande in Douglas en Barkly-Wes uitgebreek het.

Proman is weer genader, hierdie keer was die geld gereed, maar hy was ongelukkig vol bespreek.

“Ons het met Rocket Hems gesels om een van hulle helikopters beskikbaar te stel. Hulle was baie gretig om te help, maar het op Maandag 11 Oktober, op die laaste nippertjie, agtergekom hulle versekering vir brandbestryding is gekanselleer omdat dit uit ʼn te klein gedeelte van hulle werk bestaan.”

Met sy betrokkenheid by die GPF kom Venter en Linja Allen, die eienaar van ʼn sekerheidsmaatskappy, al ʼn lang pad saam. Hulle het ook ʼn baie goeie verhouding met die polisie opgebou.

“Ons het daarin geslaag om op Dinsdag ʼn vergadering met die polisie, ACSA, rampbestuur en die staat byeen te roep. Kort daarna is ʼn Oryx en ʼn Agusta beskikbaar gestel.”

Die lugmag het ‘n Oryx en ‘n Agusta beskikbaar gestel om die brande te help blus. (Foto: Hermus Venter)

Die Oryx sou die water met ʼn Bambi-emmer skep en op die brande stort, terwyl die Agusta vir verkenningswerk ingespan is.

“Met ACSA se hulp het ons ʼn tydelike noodbeheersentrum by Kimberley-lughawe ingerig waarvandaan ons die operasie gekoördineer het,” sê sy.

Allen het aangebied om kommunikasie vanuit die lug met die grondspanne te voer.

Terwyl Allen in die lug werk, het Llewellyn Coetzer, ook ʼn sake-eienaar in Kimberley wat opleiding en ondervinding in brandbestryding het, die grondspanne by die brandpunte gekoördineer.

Die grondspanne moes tot laat in die nag en soms deurnag werk. (Foto: Llewellyn Coetzer)

“Een van my take was om die brandspanne elke keer 50 m weg van die plek te kry waar die water gestort word. As daardie twee ton water op jou val, gaan jy dit nie oorleef nie.”

Coetzer sê die wind en spoed van die vuur was oorweldigend. “Ons het winde van 62 km per uur gemeet waarin die brand tussen 10 en 15 m per minuut beweeg het.”

In die beheersentrum was die belangrikste inligtingsbron die WhatsApp-“pindrops” wat deur lede van die publiek ingestuur is.

Die beheersentrum waaruit die operasie gekoördineer is. (Foto: Llewellyn Coetzer)

“Die inligting wat inkom, moet geverifieer word en deurlopend verwerk word om operasionele kaarte op te stel en die regte inligting vir die helikopters te stuur, soos waar daar gevaarlike kragdrade is, hoe die wind waai en waar daar waterbronne is – om soveel moontlik risiko’s te verminder. Ons moes derhalwe op selfoonnetwerke steun, wat nie altyd en oral beskikbaar was nie. Gelukkig het dit so 90% van die tyd gewerk,” sê Coetzer.

Op 11 Oktober is die beheersentrum na Muttana, die wildplaas van dr. Johan Kriek tussen Delportshoop en Windsorton, geskuif. Die hele plaas se veld het afgebrand, maar gelukkig kon die brandspanne keer dat die lodge en huise afbrand.

“Op dié plaas is ʼn helikopterlandingsplek en aangesien dit nader aan die brandpunte was, was die koördinasie en logistiek heelwat makliker en finansieel het dit meer sin gemaak.”

Kaarte is deurlopend opgestel om die brandpunte vir die Oryx deur te stuur. (Foto: Llewellyn Coetzer)

Saans het die vlieëniers en helikopters ook daar oornag waar hulle slaapplek en kos gekry het.

“Die helikopter het water uit die naaste boere se damme en die Vaalrivier geskep,” sê Allen.

Volgens Venter se verslag het die Oryx die Saterdagmiddag, ná vyf dae se werk, 284 000 l geskep om 140 waterstortings te doen. In die week daarna is 250 stortings gedoen , wat op 500 000 l water vir die week uitgewerk het.

Die Oryx skep water uit ‘n plaasdam. (Foto: Hermus Venter)

“Met die goeie reën daarna en met die gepaardgaande verlaging in temperatuur het die brandindeks geval en kon die brande uiteindelik geblus word.  Ons kon die beheersentrum daarna toemaak,” sê Venter.

 

Verhoudings en kommunikasie

Hierdie operasie het sterk op verhoudings gesteun en dit is ook hoe ACSA ingetrek is.

“Drie jaar gelede was daar brande by Kimberley, maar toe het ons sonder water gesit. Die spuitvliegtuig wat ons ingekry het, moes egter water tap en ons het toe die lughawe genader om water uit hulle reservoir te gebruik. Sol Plaatjie-munisipaliteit het ook die water afgeskryf en dit verniet vir ons gegee. Sodoende het ons toe ook ʼn goeie verhouding met ACSA gebou,” sê Allen.

Adriaan Gerber is ʼn hoenderboer net buite Kimberley wat in die begin van die jaar ʼn vuurvegter gekoop het om veral sy geboue teen brande te beskerm.

“Ek is op ʼn WhatsApp-brandgroep geplaas om vuurvegters by die regte plekke te kry en het dit begin administreer. Tans is daar so 50 mense, stedelinge en boere met vuurvegters, op die groep. Ons werk lekker saam om so vinnig moontlik enige brande te blus en om vals inligting te verifieer.

Verskeie partye het nou saamgewerk in die stryd om die brande baas te raak. (Foto: Llewellyn Coetzer)

“Op ons groep is daar selfs ʼn verkeerskonstabel wat ons dadelik laat weet as daar brande uitbreek en ook die paaie toemaak as die brandspanne moet deurgaan.

“Kimberley se brandweer doen ook sy bes om ons te help. Hoewel die brandweer se voertuie nie in die veld kan ingaan nie, beweeg hulle so na moontlik aan die brande en skep waterpunte vir die voertuie wat dieper kan ingaan,” sê Gerber.

“Die parkeraad het ook vir ons ʼn Samil beskikbaar gestel waarop ons ʼn vuurvegter kan laai,” sê Coetzer.

Die brandweer het ook gehelp waar hulle kon. (Foto: Llewellyn Coetzer)

 

Wat van volgende jaar?

Allen is vasbeslote dat ʼn ramp van hierdie omvang nie weer gaan plaasvind nie en sy en Coetzer het ʼn hele strategie uiteengesit.

“Ons gaan nie noodwendig weer die lugmag se hulp inkry nie, maar ons beplan om met die geld wat oor is vrywilligers uit die gemeenskap te kry om vir brandbestrydingsopleiding te stuur en brandtoerusting aan te skaf.

“Almal gaan ingetrek word en die hele operasie gaan vanaf ʼn sentrale punt beheer word.”

Coetzer sê hy wil ʼn mediese tent oprig met ʼn voltydse mediese dokter en mediese voorraad en toerusting wat saam met die brande vorentoe gaan beweeg. Daar moet ook genoeg kos en water wees.

Die lugmag met sy uitmuntende toerusting gaan dalk nie volgende keer beskikbaar wees om te help nie. (Foto: Llewellyn Coetzer)

Eduan Thuynsma is die Husqvarna-agent in Kimberley wat onder meer windblasers verkoop om brande in moeilike gebiede, soos in die berge, te blus. Sedert die Boshof-brande veg hy sy aan sy met Coetzer waar daar ook al nood is.

“Ek het baie boerekliënte en as hulle plase brand, ly ek ook skade. Ek beplan om vroeg volgende jaar ʼn groot boeredag te reël waar boere opgelei gaan word om brandtoerusting soos blasers te gebruik om brande te blus.”

 

Skade en dankbaarheid

Buiten die opstalle, skure en ander infrastruktuur, die afgebrande veld en weiding wat na ʼn miljoen ha toe aanstap en die meer as 100 000 stuks vee en wild wat doodgebrand, of agterna van kant gemaak moes word, is ʼn klomp voertuie verniel.

Coetzer was deurlopend by die brandpunte betrokke en sê dat ongeveer 60% van die boere se bakkies beskadig is en dat twee Land Cruisers elk skade van meer as R300 000 opgedoen het.

‘n Groot persentasie van die boere se bakkies het skade opgedoen terwyl hulle die ruwe terrein moes trotseer. (Foto: Llewellyn Coetzer)

“Ons is baie dankbaar vir die boere wat gehelp het,” sê Coetzee. “Hulle het hulle plase beskikbaar gestel as sentrale punte waar voer verdeel kon word om verder te versprei. ʼn Boer op pad Douglas toe het my onlangs gebel om te sê hy het nog 20 bale wat ons kan neem. Ons het ook gesien hoe boere hulle politiek los en na hulle bure uitreik.

“Die plaaslike boerevereniging het ook twee brandtrokke vir ons gestuur wat naby aan die vlamme kan werk,” sê Coetzer.

“Ons is baie dankbaar vir die gemeenskap wat saamgestaan het en hulle hulp in hierdie tyd van nood aangebied het. Van die tannies wat broodjies gemaak het tot mense wat water, hoofpynpille en oogdruppels geskenk het,” sê Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Ja, want die regering sal nie n` vinger lig nie om wit boere te help nie.

Di ·

Ja begin soek na hierdie spul wat die plase aan die brand steek! Begin sommer by Rooikappie en sy onderdane, hulle wil mos die boere van hul plase af dwing.

JohanCzu ·

Niks kom naby ‘n Unimog sover dit bestryding van veldbrande betref nie. Water vir brandbestrydingsdoeleindes kan ook goedkoop chemies behandel word om die effektiwiteit daarvan te verhoog.

Lourens CFG ·

Ek stem, ‘n Unimog gaan waar ‘n Samil nie kan.
Samil 100 met sy 6X6 hou darem taamlik by, tot waar skerp draaie en nou paadjies voorkom.
Mal oor ‘n Mog.

annie ·

Hommeltuie moet benut word om die gifappeltjies se doen en late dop te hou. Klimaatsverandering het ‘n paar bic-ondersteuners in omloop met vuurwarm planne wat blus dringend vra want dit kos ons boere. Maandeinde gaan 25 000 van die klimaatsveranderingsgeloofsgroep uitjol, hul vaste vertroue in die mega-mensgemaakte sindroom herbevestig en nog groot planne smee. Moet net nie sluwe enkelinge wat brande stig vervolg nie. Straf eerder imposant, in lyn met die 1984-bloudruk.

Waarnemer ·

Alle lof en eer aan al die betrokkenes wie gehelp het tydens hierdie veld brande maar….Proman….wie hou julle gedurnde normale tye in die lug?Die boere wie julle huur om hul,oeste te bespuit…en hier kom julle en vra eers geld voordat julle in nood uithelp…BAIE SWAK VAN JULLE en ek se die boere moet julle geheel en al boikot totdat julle julle houding verander.

Charl ·

Alles goed en wel, ek’s maar net te dankbaar vir al daai hulp en hoe mense (witmense) steeds saamstaan om ‘n gemeenskaplike gevaar te trotseer en te oorwin, maar regverdig asb. vir my die koste van R23 000 /uur om die spuitvliegtuig in die lug te hou, wat kos brandstof, watse spuitstof word verbruik, wat word die loods betaal, instandhouding ens ? Ek kritiseer nie, ek’s net nuuskierig om te weet hoe alles bepaal word ?

Henk ·

Mense, hierdie lees soos ń spanningsverhaal! Ek kan nie glo wat julle alles vermag het en die logistieke nagmerries wat julle oorkom het nie. Hoed af! Julle is puik!

Kirst ·

Dink net as die Boere in die Anglo-Boere oorloog oor sulke brandbestrydings toerusting beskik het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.