Stadsrede: Tshwane-burgemeester sê oor planne

Cilliers Brink het nie doekies omgedraai by sy eerste stadsrede nie. (Foto: Verskaf)

Tshwane se eerste burger het Donderdag sy eerste stadsrede gelewer en alles behalwe ʼn rooskleurige prentjie van die stand van sake in die hoofstad geskets.

Burgemeester Cilliers Brink het wel ʼn duidelike plan uitgestippel oor hoe hy die diensleweringsprobleme in die stad gaan begin pak, asook die verouderde infrastruktuur, die benarde finansiële situasie en die bestuurspan se vermoëns om hul pligte uit te voer.

“Ek kan nie met ʼn skoon gewete ʼn rooskleurige prentjie van die stad aanbied nie,” het hy gesê.

“My benadering is om die werklikheid in die gesig te kyk en die mense van Tshwane in te lig oor die finansiële situasie en institusionele wanfunksionering in die stad.”

Brink sê die oormatige slytasie wat beurtkrag veroorsaak, beskadig die stad se kraginfrastruktuur, bloei die ​​herstel- en instandhoudingsbegrotings leeg en skep geleenthede vir misdadigers om kraginfrastruktuur te stroop.

“Water- en rioolstelsels het agteruitgegaan, wat gelei het tot rioolstortings in gemeenskappe soos Winterveld, Mabopane en Chantelle,” sê hy.

“Die deurlopende afname in inkomste wat die stad invorder bevestig ook die talle bewerings dat diegene wat verantwoordelik is hiervoor, omkoopgeld eis vir onwettige kragverbindings.”

Nadat hy verskeie gemeenskappe besoek het, het hy eindelik ʼn duidelike agenda oor wat presies gedoen moet word, sê Brink.

Dié probleme kry veral aandag:

  • Beheer oor die stad se finansies;
  • Vermindering van die aantal ongeskeduleerde water- en kragonderbrekings;
  • Lewer basiese dienste met betrekking tot die herstel van slaggate, instandhouding van straatligte en die sny van gras;
  • Optimaliseer die Tshwane-metropolisie (TMPD) se bedrywighede en;
  • Verbeter die produktiwiteit en professionaliteit van stadsamptenare.

Finansies

“Nie een van ons voornemens vir die stad gaan slaag as ons nie beheer oor finansies kry nie,” sê Brink.

Met ʼn nuwe begroting en ʼn mediumtermyn inkomste- en bestedingsraamwerk wat hoop om die stad se uitgawes met tot 30% te verminder, sê Brink die stad moet werk maak van die invordering van uitstaande nutsdiensterekeninge.

Om ʼn inkomste-invorderingskoers van minstens 93% te behaal, sal die metro weekliks minstens ʼn duisend ontkoppelings moet doen vir uitstaande rekeninge, asook stappe om onwettige verbindings te voorkom.

Om hierdie teiken te bereik, gaan stadsbestuurder Johann Mettler ʼn reeks veranderinge aan die stelsel en personeel in die inkomstebestuur-afdeling aanbring.

Brink het ook die burgemeesterskomiteelid vir finansies in Gauteng gevra om die stelsel te verbeter sodat dit makliker is vir inwoners om hul munisipale rekeninge te betaal of betalingsreëlings te tref.

Hy het egter gewaarsku dat dit onwaarskynlik is dat die metro in die nuwe boekjaar ʼn skoon oudit sal ontvang.

“Ek het voorheen gesê die stad se finansiële situasie is kritiek, maar kan herstel word; dit is beslis hoe ek dit sal hanteer.”

Minder water-, kragonderbrekings

(Foto: Verskaf)

“In die volgende drie jaar is dit noodsaaklik dat die metro sy afhanklikheid van Eskom verminder om 2 500 MW te verskaf. Minstens 1 000 MW sal van alternatiewe kragbronne moet kom wat ʼn kombinasie van eie opwekking en verkryging van onafhanklike kragprodusente moet wees,” sê hy.

Voor die einde van hierdie boekjaar sal gevra word dat die metro die Rooiwal-kragstasie inspan. Die versoek om voorstelle sal gevolg word deur ʼn openbaredeelnameproses en ʼn ooreenkoms met private vennote wat die kragopwekkingsvermoë by Rooiwal sal ontsluit en die las van beurtkrag op die stad se inwoners moet verminder.

In die konsepbegroting vir die 2023-’24-boekjaar stel Brink voor dat R1 miljard vir elektrisiteit- en waterinfrastruktuur toegeken word.

Intussen word opknappingswerk van R134 miljoen aan die Wapadrand-substasie gedoen en sowat 40% van die werk is voltooi. Die projek sal na verwagting in die 2024-’25-boekjaar in gebruik geneem word.

Die Mooikloof-substasie ondergaan ook opknappings, terwyl die werk aan die Piramide- en Kentron-substasie na verwagting ook in die volgende boekjaar afgehandel sal word.

Nog substasies sal na verwagting in die loop van die jaar opgradeer word.

Die Deense regering het ook reeds R33 miljoen aan die metro bewillig om die stad te help om waterverliese te verminder, lekplekke te vind, pypvervangings te doen en die metro se eie waterbronne te bekom.

Beter metropolisie

(Foto: Verskaf)

Die TMPD het altesame vier duisend beamptes – die grootste metropolisiemag in die land.

“Hierdie mag is ʼn enorme belegging in die veiligheid van ons inwoners, maar ongelukkig het daardie belegging nie die verwagte opbrengste gelewer nie,” sê Brink.

Een van die pligte wat volgens Brink agterweë gelaat word, is die regulering van verkeer tydens beurtkrag.

“Dit blyk dat die metro byna heeltemal afhanklik is van OUTsurance se puntdiensbeamptes om verkeer te reguleer wanneer verkeersligte nie werk nie,” sê hy.

“As ons die metropolisie kan kry om verkeer te reguleer, glo ek ons ​​kan ook hul ander deurslaggewende funksies verbeter, naamlik sigbare polisiëring.”

Hy sê die meedoënlose misdaadaanslag op die metro se infrastruktuur beteken die TMPD aktief betrokke moet raak by beveiliging.

Tussen Julie verlede jaar en Maart vanjaar het die metropolisie se kabeldiefstaleenheid altesame 2 288 patrollies gedoen en slegs 132 voorvalle aangemeld.

Brink sê ingryping is nodig om die metropolisie in ʼn doeltreffende polisiemag te omskep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kokerboom ·

Dankie Cilliers. Sny onnodige bedryfskostes bv verminder onder andere aantal verkeersbeamptes en maak res meer doeltreffend
Sterkte. U kan!!

Anonymouse ·

Hierdie man gaan maak dat ek dalk weer respek vir die DA gaan kry. In Tshwane. Nasionaal gaan dit ‘n wonderwerk verg. Wel, hy en die raadslid van die area waar ek onlangs ingetrek het.

FCR ·

Wel ek hoop ons Raagslede in Pretoria Noord het diedelfde gevoel as hy, anders sink ons in riool.

Republikein in die Wes Kaap ·

Brink doen dinge in styl. Sommer ‘n erewag. Maar waar is die toga en ketting?

FCR ·

Dit maaak juou nie ‘n beter Burgermeester nie. Telantyntjies is nie nodig nie! Tensy ‘nn ‘n formele ete of byeenkoms sou bywoon.

SomeOne ·

4000 tmpd mense, waar kruip hulle almal weg, wanneer jy hul bel vir ‘n ongeluk is daar nerens enigeen beskikbaar nie, “hulle is op ander plekke besig, besig om OMKOOPGELD in te samel”
raak van die oorgewigte en los dooie takke ontslae

J. J. ·

Kan die verkeerdpolisie hulle nie maar net by hulle werk bepaal en die misdaad bekamping aan die SAPS oorgee nie?

piket ·

Regulering van die verkeer word hoofsaaklik deur Outsurance gedoen?
Ja, die werk word mos nou gedoen, so waarvoor sal die metro dan nou ook hulle arms uit
hulle moue steek? Die verkeer in Centurion kom nou al jare so dat GEEN maar GEEN metro beamptes in die strate te siene is nie. Verkeers regulasies word blatant geignoreer, geen wetstoepassing deur metro nie….

Patch ·

Mnr Brink, respek vir jou. Ek dink nie jou taak gaan maklik wees nie maar jy lyk na ‘n man met ‘n plan. Ek wens jou sterkte toe en hoop dat jy ‘n daadwerklike verskil sal maak. SA het meer burgermeesters soos jy nodig.

Jeanette ·

Baie dankie Meneer, Tshwane het beslis iemand soos jy nodig. Ons stad val uitmekaar uit. Vuil sypaadjies, water lekker oral en om van die slaggate nie eers te praat nie en dis maar net ‘n paar wat ek hier noem. Ek glo jy gaan ‘n reuse verskil maak baie sterkte!

gpsa ·

Hoop regtig hulle gaan ‘n verskil maak. In die area waar ek woon in Pta is dit Afriforum wat ‘n verskil maak in skoon hou van areas, opvul van potholes ens.

FCR ·

Uiteindelik ieand met verstad en wat die doekes omdraai nie. Ek hou van sy “dit is hoe dit is mense” se benadering. Ons almal moet nou net saamstaan. Volgende verkiesing behoort baie interessant te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.