Stakende munisipale werkers plunder Tshwane se hoofkantoor

Die werkers het onder meer die Tshwane-metro se hoofkantoor geplunder. (Foto: Tshwane-metroraad)

Die administrateur van die Tshwane-metroraad, Mpho Nawa, het die vernielsugtige gedrag deur stakende Samwu-lede in Pretoria ten sterkste veroordeel.

Die stakers het Dinsdag die owerheid se hoofkantoor, Tshwane House, geplunder, asblikke omgekeer en die strate met rommel besaai.

“Die reg om te staak word deur die Grondwet beskerm, maar niemand het die reg om die munisipaliteit se eiendom te beskadig en die strate te bemors nie. Die gedrag grens aan misdadigheid,” het Nawa gesê.

“Ons hoop die polisie doen hulle werk en laat die skuldiges aan die pen ry.”

Awie Erasmus, die VF Plus-woordvoerder in die Tshwane-metroraad, het ook die skade wat tydens die onwettige staking aangerig is, gekap. Die party eis boonop dat Samwu se leiers aanspreeklikheid daarvoor aanvaar.

Die spesiale plaaslike arbeidsforum het eergister met Tshwane se administrateurs, verteenwoordigers van Samwu en die vakbond Imatu vergader om die inwerkingstelling van ʼn 6,25%-verhoging te bespreek, asook die inwerkingstelling van ʼn gesamentlike normeringsooreenkoms.

(Foto: Tshwane-metroraad)

Die kwessies het oorgestaan van ʼn vorige vergadering, maar die saak is weer nie afgehandel nie nadat Samwu se leiers uit die vergadering gestap en ʼn kworum nie bereik kon word nie.

Volgens Erasmus het Samwu aangedring op bykomende vergoeding wat nog nie uitbetaal is nie. Die betalings moet gedoen word omdat die metroraad se gradering van vlak 9 na vlak 10 opgeskuif het, wat beteken dat hoër salarisse terugwerkend betaal moet word.

Hy sê wanneer ʼn arbeidsgrief ontstaan moet soos Samwu die voorskrifte soos enige ander vakbond volg en mag daar nie tot geweld oorgegaan word nie.

“Die situasie in geheel laat rooi ligte oor die stad se finansies flikker. Waar die administrateurs vroeër aangedui het dat ʼn betaling wel gemaak sal word, word dit nou teruggehou,” het Erasmus gesê.

“Die VF Plus maan die administrateurs om die situasie vinnig en oordeelkundig op te los aangesien dienslewering hierdeur verder verswak word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

meisiekind92 ·

Belaglik! Daar word geen werk gedoen nie maar hulle verwag soos altyd n verhoging! Ons is al moeg gesukkel met die Munisipaliteit

Kokerboom ·

Dis tyd dat Pretoria se belastingbetalers beheer neem oor hul stad. Betaal AL die kaders betrokke by skade af en kla SAMWU aan vir skadevergoeding.

Suzette ·

Ek kan nie verstaan dat hierdie spul altyd alles moet afbreek nie…..

Rina ·

Die Tshwane Metro Polisie wag al hoe lank vir die geld wat aan hulle uitbetaal moet word maar Tshwane sloer en dit word net nie gedoen nie. Ek stem nie saam met die plundery nie maar die Metro Polisie MOET WERK want die leiers sit agteroor in hulle stoele en doen niks. Dit gaan nie ophou alvorens hul hul “backpay” kry wat nou al hoe lank sloer nie. Daar is nou ewe skielik nie geld nie. Wat het van die geld geword? Weet ek gaan swak kommentaar kry maar betaal die geld uit anders gaan dit net baie erg raak. Die Metro laat sy lede in die steek!!!!!!!

Johan ·

Dank Metro P sommer af..wat doen hulle? Ek kan jou sê: vang mense oor drank en sigarette dis al. Verder is dit totaal wanorde. Dank hul af en maak toe, nikswerd klomp.

Harry ·

Hier is iets om aan te dink. SA eis dat die leier/oud leier instaan vir misdade gepleeg onder hulle toesig. Netso behoort die leiers van so n vakbond beboet te word vir sulke misdade.
Dit behoort dan vinnig te stop.??

Hennie ·

Ek dink vaktbonde se ledebydrae moet afgehaal word van die salarisse. As jy lid wil wees van so ‘n hooligan organisasie dan moet jy dit self gaan oorbetaal. Niks met jou werk uit te waai nie…

Yolandie ·

Dit wat die regering nou kry net omdat hy die stakers die reg gegee het n die grondwet om te staak. Kyk nou die nadraai…….boontjiie kry sy loontjie. Dit het die regering nou vd mentaliteit wat hy kweek onder sy kiesers.

Mariana ·

Breek af, brand, verniel, almal goeie eienskappe van hierdie mense. Net jammer dit is op die einde van die dag die belastingbetaler wat maar weer moet opdok. Hierdie unies is en was nog altyd ‘n groot probleem in hierdie land

Skyspy007 ·

Maak soos die pommies se destydse leier Maggie Thatchie….as julle staak of unies betrokke maak, dan maak ons julle TOE. Dit het gebeur toe hulle staak en ALLE myne is toegemaak. Wat meer is nodig? Die land (nie my land nie)….ek stem nie vir hulle nie, is in ‘n totale gemorshoop van die cANCer oorgeneem het.

Sarel ·

Niemand word ooit vir skade verantwoordelik gehou nie. Skade word landwyd aangerig en geen stappe of eise word ooit gedoen of ingedien nie. Vakbonde??? Was self verteenwoirdiger maar het my vertroue verloor.

Anel ·

Nou, daar is nie geld nie. Daar is mense wat nie eens werk het nie. Wie gaan vir die skade betaal? Ons, die onskuldige belstingbetaler. Gebruik die geld wat dalk sou gaan vir verhogings en toekomstige verhogings. En verhaal skadevergoefing van vakbonde. Hulle mag staak en optogte hou oor geld maar ons mag nie vreedsame optogte hou teen plaasmoorde nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.