Stakers wil Woensdag Rand Water se krane toedraai

water-kraan

(Argieffoto: pixabay)

Rand Water sê hy het gebeurlikheidsplanne gereed om te verseker water word steeds aan sy klante voorsien te midde van ʼn dreigende staking deur lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu).

Justice Mohale, woordvoerder van Rand Water, sê die instelling is ingelig oor die vakbond se voorneme om Woensdag om 08:00 te begin staak.

“Die vakbond hou voor dat die organisasie se versuim om met hom te beraadslaag voor ʼn besluit om nie sy werkers prestasie-aansporingsbonusse te betaal nie, die rede vir die staking is. Rand Water betwis dit.”

Rand Water sê hy het ʼn stelsel wat voortgesette waterverskaffing sal verseker en belanghebbendes sal op die hoogte van enige verwikkelinge gehou word.

Volgens Samwu sal die staking onbepaald duur.

“Die besluit wat Samwu geneem het om te staak is nie ʼn maklike een nie, omdat ons weet die krane in alle gebiede wat deur Rand Water gediens word, sal opdroog.”

Samwu voer aan die rede vir sy staking is “eerbaar en regverdigbaar” en binne sy regte.

Rand Water verskaf water aan onder meer munisipaliteite in Gauteng, Noordwes, Mpumalanga en die Vrystaat.

Samwu sê hy gaan nie toelaat dat ʼn werkgewer sy lede boelie deur hul diensvoorwaardes eensydig en sonder beraadslaging te verander nie. “Ons lede en hulle belange kom eerste.”

Die vakbond sê hy het ʼn ultimatum aan Rand Water gestel om dadelik sy “anti-werker-beleid” om te keer en alle bepalings en voorwaardes van indiensneming te herstel, onder andere die betaling van aansporingsbonusse.

Samwu waarsku ook dat die staking gesien moet word as ʼn voorsmaak van wat op Rand Water wag wanneer hy sy salaris- en looneise later voorlê.

Die vakbond eis onder meer ʼn minimum salaris van R15 000, ʼn behuisingstoelaag van R3 500 vir alle werkers, ʼn R4 000-salarisverhoging onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Bedingingsraad vir Plaaslike Regerings (SALGBC), ʼn 80%-bydrae deur die werkgewer tot ʼn mediese fonds, ses maande betaalde kraamverlof vir ma’s en ʼn maand betaalde kraamverlof vir pa’s en ʼn 25%-bydrae deur die werkgewer tot ʼn pensioenfonds.

Rand Water sê hy het gesonde verhoudinge met vakbonde en bly verbind tot gesprekke met die vakbond om ʼn oplossing te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Androclus ·

Laat hulle breek hulle is gewoond om dit te doen om hul sin te kry,kyk na die belaglike eise wat hulle stel is om van naar te word,ek verdien nie eers daardie geld wat al 27 jaar werk nie.

JM ·

EISE, eise, eise … wil net hê! Prestasie-aansporingsbonusse: WAT ‘N GRAP! ‘n Bonus is ‘n VOORREG, nie ‘n REG nie, daar moet voor gewerk word! Hoog tyd dat weggedoen word met vakbonde, hulle is ‘n euwel.

Kokerboom ·

Die “demand” kultuur maak my naar!Rand Water…sny hul watertoevoer af!!Of verdriedubbel hul watertariewe om op te maak vir verhoogde uitgawes agv onredelike eise

LANA is ELANè ·

“Banana Republic” is al wat by my opkom as ek hier lees. Verder sal ek eerder net stilbly

Elize ·

Laat ek nou met sulke belaglike eise by my baas kom dan sit ek met my gat in die straat!

Jaco ·

Rand Water is ‘n staatsbeheerde onderneming, so uiteindelik is die ANC daar in beheer. Die stakers is weer lede van SAMWU, wat by COSATU geaffilieer is. COSATU is weer in alliansie/grootliks deel van die ANC. So eintlik staak die ANC teen die ANC. Vreemd. Ek het gedink dis net “die rassistiese DA” teen wie gestaak word.

Blikkies ·

Belaglike Eise.
‘Samwu voer aan die rede vir sy staking is “eerbaar en regverdigbaar” en binne sy regte.’
Hierdie ouens weet nie meer hoekom ‘n vakbond daargestel is en wat hulle beperkte bydrae is tot die wernemers nie. Sal enige lee beloftes aan die lede maak, selfs aanhits om skade te doen, solank die lede net Samwu se sakke volhou.

Hendrik ·

Ek weet nie hoekom kla almal so nie. Seker omdat ek my eie krag en ons gemeenskap ons eie water het. Keuses moet gemaak word en ek voel jammer vir mense wat nie beweegruimte het om uit die gemors te kom nie.

Genis ·

Hoe lank gaan die klomp almal kaap? O ja CR het ook in n fakbond groot geword… Dis tyd dat ons wat betaal ons krane toe draai….

Aikie ·

As jy ‘n “prestasie bonus” wil hê moet jy daarvoor WERK en die ekstra myl loop. Dit is hoekom dit’ n prestasie bonus genoem word.
Ek dink die tyd begin nou aanbreek om ‘n Margaret Thatcher op die vak unies te trek en hulle toe te maak. Hulle “shenanigans” is besig om die land tot in die afgrond te dryf. R15K met byvoordele vir iemand wat’ n besem dryf, bid jou dit aan.
Ons “Demokrasie” is besig om te ontaard in ‘n sosialistiese staat.

Persheks Adri ·

Ek’s seker iemand het van kopdoek se rookgoed gerook en nou raak hulle tatie in die kop

Jakes ·

Die vakbond is n sirkus en sy eise word deur narre gestel. Solank soos wat vakbonde die kitaar in SA slaan sal die land verder verval in chaos en armoede.

Grassie ·

“Eerbaar en regverdigbaar” seg Samwu. Hulle het nie ‘n greintjie begrip wat daardie woorde beteken nie. Om gewone landsburgers van hul water te ontneem kan baie ernstige gevolge inhou maar dit traak hulle nie. Daar was in die verlede wetgewing dat dit ‘n kriminele oortreding is om seker dienste te ontwrig, waarvan watervoorsiening een was, maar ek weet nie of daardie wette nog bestaan nie. Indien wel, word dit al lankal blatant geïgnoreer.

Sambok ·

Boorgat en sonkrag is die antwoord-net jammer ons almal kan dit nie bekostig nie-verkiesing kom nader en beloftes gaan weer aan orde van die dag wees

Piet parys ·

Hulle moet vir hulle broers sè om n slag vir dienste te betaal . En tien teen een is hulle self wanbetalers van dienste en dan skreeu hulle vir meer geld . Hulle is nie eens instaat om hulle werk behoorlik te doen nie . MAAR MEER WIL HULLE HÊ.

quartus ·

Hierdie mense sien n prestasie bonus as iets waarop almal geregtig is . Hoe gaan ons hulle oortuig dat die bonus slegs vir mense bedoel is wat meer as hulle deel doen. Mense wat uitstaan Mense wat trots is op hulle werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.