Staking bring Brussel-lughawe tot ʼn stilstand

Argieffoto van Brussel-lughawe (Foto: 50SkyShades.com)

Argieffoto van Brussel-lughawe (Foto: 50SkyShades.com)

Brussel-lughawe het alle vlugte opgeskort weens ʼn staking deur lugverkeerbeheerders ná selfmoordbomaanvalle verlede maand.

Twee aanvallers het op 22 Maart hulself in die lughawe se vertreksaal opgeblaas en ʼn derde persoon het ʼn bom in ʼn ondergrondse treinstasie laat afgaan. Altesaam 32 persone is dood. Die lughawe moes vir ʼn paar dae lank sluit en dienste het nog nie na normaal teruggekeer nie.

Die terreuraanvalle het plaasgevind midde ʼn dispuut tussen die lughawe en lugverkeerbeheerders wat betref ʼn vermindering van voordele tydens vroeë aftrede. ʼn Ooreenkoms is Dinsdag gesluit waarvolgens die aftreeouderdom van lugverkeerbeheerders verhoog sou word, het die Belga-nuusagentskap berig. Die “gilde van lugverkeerbeheerders” was egter nie tevrede met die ooreenkoms nie, het die lugvaartmaatskappy Belgocontrol in ʼn verklaring gesê. Volgens Belgocontrol is hul lugverkeerbeheerders siek en nie in staat om te werk nie.

“Geen lugverkeerbeheer is tans beskikbaar by Brussel-lughawe nie,” het die lughawe op sy webwerf bevestig. “Daar is geen vlugte nie.”

Die polisie het ook toegangspaaie na Brussel-lughawe gesluit, het Belga berig. Die lughawe kan tans slegs deur paaie bereik word, aangesien spoorlyndienste nog nie hervat het ná die aanvalle nie.

Charleroi-lughawe, ongeveer 50 km suid van Brussel, wat ook die Belgiese hoofstad bedien, word ook deur die staking geraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.