Staking by binnelandse sake afgeweer

Argieffoto

Die vakbond Nehawu het ʼn ooreenkoms met die departement van binnelandse sake onderteken om ʼn dreigende staking oor werksure by die departement af te weer.

Die National Education Health and Allied Workers’ Union het gesê hy wou die departement oorreed om regulasies oor nuwe werksure terug te trek.

“Die werkers is gedwing om ondraaglike werksure te handhaaf en werkers is gevolglik onderwerp aan dissiplinêre verhore en ander is sonder betaling met verlof gestuur wanneer hulle nie aan die reëls voldoen het nie,” het die vakbond Vrydag gesê.

“Die ooreenkoms bevestig dat die reëls teruggetrek word en dat die werkers sal voldoen aan die vorige werkstoestande voordat die nuwe werksure ingestel is deur die departement se direkteur-generaal.”

Werknemers het gedreig om te staak en het oortydbetaling vir werk op Saterdae geëis. Nehawu voer aan werk op Saterdae moet nie verpligtend wees nie, maar vrywillig vir die werknemers. Die departement wou nie toegee nie en het gesê daar is nie enige geld beskikbaar vir oortydbetaling nie.

Die vakbond het voorgestel dat die nuwe ooreenkoms aan die bedingingsraad voorgelê word.

Die departement van binnelandse sake prosesseer paspoorte en geboorteregistrasies asook huwelik- en sterftesertifikate.

Die staking sou op 19 Junie begin het. Mkuseli Apleni, direkteur-generaal van binnelandse sake, het vroeër gesê sy departement was baie besorg oor die dreigement van ʼn staking voor een van sy besigste periodes in die jaar, naamlik die wintervakansie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieterlewismuts ·

Oortyd betaling was, vandag ek n student was baie dekades gelede, van toepassing op oortydwerk vir die “laer” range in enige organisasie. Bestuur is gewoonlik hiervan uitgesluit.
Moet dus nie in n organisasie oortyd werksprodedures in stel, as daar nie geld voor is nie.
As daar op sekere dae gewoon “oortyd” of dan buitentyds gewerk MOET word om die nodige dienste te kan lewer moet liewer gedink word aan skedulering op n rotasie basis, sodat daar nie buitentyds deur betrokke individue gewerk hoef te word nie.

Knapie ·

Die berig is bietjie eensydig. Ek dink nie daar was verwag om oortyd te werk sonder vergoeding nie. In die geval beteken oortyd dat jy meer as jou kontraktuele ure moet werk. Ek vermoed dat daar van personeel verwag was om op Saterdae te werk, maar dat hulle ure afgegee is deur die week, dus is dit nie oortyd nie. Ek dink dit is presies die rotasie basis waarna jy verwys.

Jerome ·

Hulle werk tans 7 ure per dag. Dus is daar 5 ure in die week oor vir Saterdag. Ek sien hulle staak tans vandag (17/06/2017) in Boksburg

Daniel ·

Oortyd is ‘n euwel. As ‘n kantoorwerker oortyd moet werk om sy werk klaar te maak vir die dag, het hy iewers deur die dag so bietjie slap gelê, dit ten monde van een van my seniors. Oortyd word maklik geskep om salarisse aan te vul en die werker raak gewoond die oortyd as deel van die salaris. Oortyd kos ‘n maatskappy baie maar dit is ook aanduiding dat dinge iewers nie lekker is nie. Is daar te min mense in diens as ‘n geheel vir die hoeveelheid werk wat verrig moet word? Is daar droë hout waarvan ontslae geraak moet word? Kan daar as alternatief kruisopleiding gedoen word om die las te verlig gedurende spitstye? Kan die stelsels verbeter word sodat eindresultate vinniger en doeltreffender bereik kan word? Is die mense nie dalk oor iets anders ongelukkig dat hulle so in die stille met ‘n sloerstaking besig is nie? Dit help nie om “tyd-af vir tyd-gewerk” te wil gee nie want oortydtarrief is hoër. As oortyd teen tyd en ‘n derde betaal word moet aftyd dan ook teen tyd en ‘n derde wees. In hierdie geval is ek van mening dat die direkteur-generaal voorbarig was om die werkers se diensvoorwaardes eensydig te wil verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.