Staking by inkomstediens begin

Argieffoto

Net ʼn dag nadat Edward Kieswetter as die nuwe taksbaas aangekondig is, het ʼn staking in volle swang by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) begin.

Duisende werknemers wat lede is van onderskeidelik die National Education Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) en die Vereniging vir Staatsamptenare (PSA) het begin staak om te eis dat ʼn 11,5% salarisverhoging aan alle werkers toegestaan word. Die inkomstediens bied 7% aan.

Daar word gevrees dat die staking doeane-bedrywighede by grensposte kan ontwrig, wat dwelms en onwettige goedere die land in kan laat vloei.

SAID-werkers het die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se bemiddelingsvoorstel van ʼn 8%-salarisverhoging vir alle werkers verwerp. Khaya Xaba, woordvoerder van Nehawu, het gesê werkers sal nie bes gee oor hul eise nie.

“Ek kan bevestig dat die SAID 100% tot stilstand gebring is, want werkers het ʼn 11,5%-salarisverhoging in die oog, nie 7%-slawelone nie. Die staking is aan die gang en sal voortduur totdat die SAID-bestuur aan ons eise voldoen,” het Xaba gesê.

“Al ons lede en dié wat deel is van die PSA is deel van die staking. Daar is geen planne vir ʼn vergadering met die SAID vandag nie, maar as hulle wil vergader is ons altyd beskikbaar.”

Nangomso Jacobs, woordvoerder van die Lughawensmaatskappy (Acsa), kon nie onmiddellik bevestig of SAID-beamptes by lughawens opdrag gegee is om by die staking aan te sluit nie, aangesien lughawens nasionale sleutelpunte is.

Die SAID het wel gister bevestig sy onderhandelinge met die vakbonde het ʼn dooiepunt bereik ná onderhandelinge sedert November verlede jaar. Die inkomstediens het gesê hy het die nodige gebeurlikheidsmaatreëls getref om minimale ontwrigting aan belastingbetalerdienste te verseker.

“Hoewel die SAID die grondwetlike reg van werknemers om te staak erken, is die inkomstediens net so bewus van die staat se verpligting om seker te maak hy het toegang tot voldoende hulpbronne om landsburgers van gesondheidsorg, voldoende kos en water, maatskaplike ondersteuning, behuising en basiese onderrig te voorsien.

“Dit is daarom in openbare belang vir hierdie dispuut om opgelos te word gegewe die SAID se noodsaaklike rol as inkomste-invorderaar.”

Die SAID het gesê hy sal weer by die KVBA aanklop om te versoek dat hy ingryp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Dries du Toit ·

Vandag moes SARS terugbetalings doen aan duisende kleinbesighede wat op die rand van bankrotskap staan. Tragies gaan dit nie gebeur nie. Ek wag al 3 jaar vir my geld wat hulle gevat het van n Anuteit wat hulle belowe het hulle sal terug betaal het binne 10 dae. Ek is siek.

Johann cb ·

Hopelik besef die stakers dat die leiers van die Unies die enigste persone is wat finansieel baat vind by die staking…

marous ·

Hou op om belasting te betaal en hulle het geen werk om oor te staak nie . Punt

Koos B ·

Hulle het nie vandag begin staak nie jy moet eers werk voor jy kan staak

Elsa ·

11.5% is nie baie gevra. Gee dit vir hulle. Nie lank terug is daardie “dame” wat hoof is van IT, n salaries verhoging van 43% gegee. Dis maar een wat ons van weet…

Elize ·

SAID wees dankbaar vir julle 7%. Ek het in twee jaar nog geen verhoging gekry nie. Dit het my gekos om te bedank en is toe weer heraangestel met ‘n klein bietjie meer.

Hennie ·

Ek wonder so in die stilligheid hoe vergelyk SAID salarisse et hul eweknieë in die staatsdiens? Ek het so ‘n vermoede dat hulle goed vergelyk met Eksdom se mense… Moerawiese salarisse

alida ·

Die dwelms en onwettige goedere stroom in elk geval al vir jare oor die grense. Waaroor stres hulle nou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.