Staking by lykshuise is verby

Argieffoto

Dr. Gwen Ramokgopa, LUR vir gesondheid, het Donderdag gesê die uitgerekte staking deur forensiesepatologie-beamptes is verby.

“Ons is dankbaar om aan te kondig dat 100% van forensiesepatologie-beamptes gisteroggend (Woensdag) na hul werkstasies teruggekeer het,” het sy in ʼn verklaring gesê. “Ons spanne werk hard om die agterstand by die betrokke fasiliteite in te haal.”

Amptelike berigte dui aan dat die beamptes vir werk aangemeld het in Germiston, Hillbrow, Roodepoort, Diepkloof en ander fasiliteite in die provinsie.

“Terwyl ons die agterstand inhaal, versoek ons die families om geduldig te wees. Ons sal alles in ons vermoë doen om die liggame van hul geliefdes so vinnig as moontlik vry te stel. Ons vra ook om verskoning vir die ongerief aan die families, waarvan sommige kostes moes aangaan as gevolg van die vertraging en begrafnisse wat uitgestel moes word.”

Sy het gesê dis belangrik om te noem dat die kleiner fasiliteite nie ʼn groot agterstand het nie. Dit sluit Sebokeng, Carletonville, Ga-Rankuwa, Bronkhorstspruit en Heidelberg in.

“Die fasiliteite waaroor ons bekommerd is, is Hillbrow, Roodepoort en Germiston. Ons spanne sal harde werk om bedrywighede te stabiliseer en te normaliseer.”

Die bedingingsraad van openbare gesondheid en maatskaplike ontwikkeling het ʼn resolusie onderteken om al die eise van die werknemers op te los. Alhoewel die ooreenkoms onderteken is, het die forensiesepatologie-beamptes egter met die onbeskermde staking voortgegaan.

“Ons het deur die staking verantwoordelik opgetree en die regte van alle werknemers gerespekteer,” het Ramokgopa bygevoeg. “Ons het deurgaans met hulle vergader. Die meerderheid van persone maak staat op hierdie dienste. Ons moes dus drastiese maatreëls volg in die belang van die publiek.

“Dié maatreëls sluit in om briewe aan die werknemers te stuur om hulle te waarsku dat ʼn versuim, om na die werk terug te keer, tot hul afdanking sal lei. Ons het dit in die belang van die publiek, die departement van justisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens gedoen wat ook op patologiedienste staatmaak vir sekere sake.”

Sy het gesê hulle is dankbaar dat die werknemers op die versoek reageer het om na die werk terug te keer en noodsaaklike dienste te verskaf. “Ek sal oor die volgende paar dae met werkers en vakbonde vergader.”

Die werkers het die volgende eise gestel:
– Salarisskale is nie in ooreenstemming met die oordrag in 2006 van SAPD na die Gautengse departement van gesondheid nie
– Gevaartoelaag
– Verskaffing van toerusting en beskermde kleredrag
– Hersiening van posbeskrywings
– Spesiale toelae vir spesifieke take

Ramokgopa het gesê ʼn opleidingsprogram sal ook ontwikkel word sodat beamptes by ʼn statutêre liggaam kan registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tjert ·

GENUGTIG??? “Staking by lykshuise verby”….wa gan als heen as die afgestorwenis nou al beginne staak???!!!

Swartkat ·

Ag Tjert dit was n’ stil en rustige betoging en kan fie griewe nou ter ruste gele word

marous ·

Gevaar toelaag? Seker as ‘n kadawer opstaan en klappe begin uitdeel….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.