Staking by parlement opgeskort

Nehawu-betoging by die parlement (November 2015) Foto: Twitter

Nehawu-betoging by die parlement (November 2015) Foto: Twitter

Nehawu en die wetgewer se bestuur het Dinsdag bevestig die staking deur personeel by die parlement is opgeskort.

“Ons besluit om die staking op te skort spruit uit ʼn ooreenkoms wat ons met bestuur bereik het,” het Sthembiso Tembe, voorsitter van die National Education, Health and Allied Workers Union (Nehawu)-vakbond se parlementêre tak, gesê tydens ʼn perskonferensie nadat hy die werkers toegespreek het.

Personeel by die parlement staak oor ʼn dispuut oor hoe hulle bonusse bereken word.

“Die ooreenkoms bevestig die vakbond se posisie in terme van die ooreenkoms wat ons in Maart onderteken het waarin aangedui word dat prestasiebonusse betaal sal word gebaseer op die jaarlikse pakket,” het hy verduidelik. “Die bestuur het dit goedgekeur.”

Nehawu en die parlement het ook ingestem om ʼn taakspan saam te stel, waar albei kante verteenwoordig word en buitepartye ingesluit sal word indien nodig, om die persentasie uit te werk wat aan werknemers uitbetaal sal word.

Gengezi Mgidlana, sekretaris van die parlement, het ook die ooreenkoms bevestig.

Die taakspan moet voor Vrydag aan werknemers terugrapporteer en hulle sal dan besluit of hulle bestuur se aanbod aanvaar of verwerp. Intussen sal die werknemers Woensdagoggend weer vir diens aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.