Staking by steenkoolmyn kan nóg beurtkrag bring

mynboubedryf-mynbouhandves-steenkool

Foto: Hangela/Pixabay.com

ʼn Tekort aan steenkool weens ʼn voortdurende staking kan die reeds onderdrukte kragnetwerk verder ontwrig.

Die DA het Dinsdag sy kommer uitgespreek oor onluste wat tans by twee van Eskom se grootste steenkoolverskaffers woed. Die party het in ʼn verklaring gesê dat die Mzimkhulu Mining- en SG Coal-myne in Mpumalanga tans deur gewelddadige betogings deur die Trok-Assosiasie van Suid-Afrika (Tasa) tot stilstand gebring is.

Mzimkhulu Mining word besit deur Thema Langa. Hy is die swaer van Eskom se voorsitter, Jabu Mabuza.

Die staking verhoed dat steenkool ter waarde van sowat R8,1 miljoen per dag vervoer kan word.

Die myne het ʼn dringende interdik teen die stakers by die hooggeregshof van stapel gestuur.

In dokumente wat deur Mzimkhulu Mining by die Middelburgse hooggeregshof ingedien is, beweer die maatskappy dat trokeienaars in die eMalahleni-omgewing werkers intimideer en skade aan hul eiendomme berokken.

Mack Maleka van Mzimkhulu Mining sê die onwettige optrede lei ook daartoe dat die myne nie hul kontrakverpligtinge met Eskom kan nakom nie. Maleka sê die myn moes Dinsdag sluit vir die dag, omdat niemand toegelaat is om daar in te gaan nie.

Die DA het die betoging deur Tasa ten skerpste veroordeel en dit krimineel van aard genoem. “Tasa het besluit om te betoog op ʼn manier wat werkers verhoed om by hul werk uit te kom. Hulle intimideer mense en dreig om hulle seer te maak.

“Hierdie dade stel ook die kragsekerheid van die land in gevaar. Dit is onaanvaarbaar dat ʼn unie ʼn hele land gyselaar kan hou. Dit weerhou die steenkooltoevoer na een van die land se belangrikste strukture,” sê die party.

Die DA het ʼn beroep gedoen op Gwede Mantashe, die minister van minerale hulpbronne, om onmiddellik in te gryp en die betogings stop te sit, omdat dit Eskom verder kan verhoed om krag aan die land te voorsien.

“As voormalige voorsitter van die Nasionale Unie vir Mynwerkers behoort dit ʼn maklike en vinnige taak vir die minister te wees,” sê die party.

Die DA sê hy is ook bewus van talle kragopwekkingseenhede wat oor die afgelope naweek gebreek het. Volgens Eskom beteken dit dat die elektrisiteitsnetwerk verder onder druk geplaas word en die land weer beurtkrag kan verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Michael P ·

Die MINISTER. wat sal hy nou omgee hy het dan n beleid wat staak is. Hy kom dan uit die unies

Die uwe, Realiteit ·

As hy nie binnesmonds vir die koerante leuens mompel nie, jaag hy jong rokkies rond.
Daars nie tyd vir werk ook nie.

Johan ·

Brittanje het jare gelede so deurgeloop onder moedswillige stakings deur vakbonde. Ons moet kyk hoe hulle die probleem opgelos het…. And

Irma ·

Jabu Mabuza se tentakels strek tot daar waar hy sy stem behoorlik dik maak in sy eise aan die belasting betaler en ekonomie. Interressant dat sy familie by steenkool voorsiening betrokke is. Baantjies vir boeties.

KrokodilBotha ·

Een groot familie. Een groot Suid Afrika, nie vir ander se familie . Hoop staking hou maande.

Feite ·

Die DA doen n beroep op Mantashe (ANC) om in te gryp en die betogings te stop. Die DA begin seker nou besef dat die vakbonde betogings deur die ANC, waarvan Mantashe deel is, georkestreer word. Mantashe swaai die septer en kan dus in die mynwese n betoging laat gebeur en laat stop. Daar gaan n aansienlike losprys betaal moet word indien Mantashe die betoging laat stop, dis Virseker!

Gert van Wierdapark ·

Eish,maar die Kaders trek lekker voordeel uit die swart goud (steen-kool) wat vir Es -kom so in die Rooi in het!

Peet ·

Sal maar weereens my kop uitsteek.
Maak nie saak wie of watter affiliasie – dié is plein en simpel sabotasie/intimidasie en behoord vervolg te word.

Cherokee ·

Dit is die tempo waarteen steenkool verbruik word. En as daar nie meer steenkool is nie? Hop op komkommer oor werkers, Wat word gebruik as daar nie meer olie vir binnebrandmotors en steenkool vir elektrisiteit is nie? Dit word verbruik asof die bronne onuitputlik is.

RATEL ·

Nee o magtig. Sort asb jul mense uit of kry ons om dit vir jul te kom doen aangesien jul nie die ruggraat het.

Jan ·

Die syfer van 8.1miljoen per dag is nie reg nie. Dit is wat ‘n myn per jaar lewer.

Leon ·

Dit is omdat Mac Maharaj treine afgeskaf het om steenkool na die myne te vervoer. Hy het vragmotors ingebring wat dood op die paaie veroorsaak en die paaie stukkend trap. Blameer Mac Maharaj.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.