Staking dreig by binnelandse sake

Argieffoto

Vakbonde dreig dat personeel by die departement van binnelandse sake binnekort kan staak indien daar nie aan hul eise voldoen word nie.

Volgens die regering se nuusagentskap is die kennisgewing vir ʼn staking op 19 Junie bedien deur vakbonde wat werknemers in die departement verteenwoordig.

Die departement en die vakbonde beplan om Dinsdag by die algemene staatsdiensbedingingsraad te vergader in ooreenstemming met die grondwethof se aanwysings.

Die departement is sedert Maart 2015 in ʼn voortslepende geskil met verskeie vakbonde oor die inwerkingstelling van die nuwe kantoorure by dienskantore, wat Saterdae insluit.

Die vakbonde maak beswaar teen amptenare wat op Saterdae moet werk. Volgens die vakbonde word daar van amptenare verwag om daadwerklik ses dae per week te werk in teenstelling met vyf dae per week.

Die vakbonde is van mening die ekstra dag onder meer ekstra vervoeronkoste vir beamptes inhou, asook onkoste om sorg vir hul minderjarige kinders te reël. Dit het ook ʼn uitwerking op hoe hul verlof toegeken word.

Die vakbonde dring daarop aan dat die departement beamptes behoorlik vergoed om op Saterdae te werk of om terug te keer na ʼn stelsel waar werkers vyf dae per week werk, van Maandae tot Vrydae. Die departement het reeds aangedui hy is nie in ʼn finansiële posisie om aan dié eise te voldoen nie.

Die departement het ʼn alternatief voorgestel waarvolgens beamptes op Woensdae afgegee word, om só seker te maak hulle werk net vyf dae per week en dit dan nie ekstra vervoeronkostes en dagsorg tot volg het nie. Die vakbonde het die aanbod van die hand gewys.

“In die lig van die verwikkelinge wil die departement beamptes inlig dat die normale reëlings steeds van toepassing is en dat daar van beamptes verwag word om by die huidige ure van dienskantore te hou,” het die departement gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alet

Regtig!!!!! Ek was gister by Krugersdorp tak en kan sê dat daar sekere mense is wat werk en ander wat kyk hoe min hulle kan doen. Toe dit 3 uur slaan, is daar skielik n vrag mense wat werk sodat hulle die publiek uit kan kry om te verhoed dat kantore laat oop moet bly. Ons moet n dag se verlof vat om vir ure in die ry te wees vir n aansoek wat letterlik 5 minute vat so n diens op n Saterdag is noodsaaklik. Ek weet as ek nou my paspoort moet gaan afhaal dat ek weer vir… Lees meer »

Sterretjie

Wie was onlangs by hul kantore? Want eintlik staak hul al lankal. Die een doen minder as die ander een wat klaar niks doen nie! Dis geen nuwe nuus nie. So gaan al wat ‘n diens is verder agter uit in die land. Daar is in elk geval nie meer diens, respek en lojaliteit in die land nie. En nou nog die resessie ook.

Justice

Vakbond unies met al hul stakings is saam met Zuma en die ANC besig om hierdie ekonomie se rug finaal te breek.

Johann Marx

Ek gee nie om HOEVEEL dae hulle wil werk nie…..Maak dit ‘n 4 dag werk-week as julle so voel. MAAR……werk daardie 4 dae van 2nm af tot 10nm…..dan hoef ek nie ‘n dag se verlof te mors om te gaan uitvind hoe pateties julle produktiwiteit regtig is nie!!

Scalla

Wat staan in hul dienskontrak tov werkspligte en beskrywing met aanstelling, alles behoort daar uitge spel te wees volgens wetgewing en indien dit so is moet hul daaraan voldoen.
Indien hul nou ontevrede is en staak moet hul besef daar is menigte gekwalifiseerde werkloses wat sal smag vir n werk en ook op Saterdae. Hulle moet besef niemand is onmisbaar in die wereld nie.