Staking dreig by SAUK

Stakende werkers by die SAUK. Argieffoto: ANA

Vakbonde by die SAUK het Maandag gedreig om hul staking oor ʼn voorgestelde salarisverhoging te hervat nadat onderhandelinge met die werkgewer weer eens vasgeval het.

Die openbare uitsaaier het verlede week met die Broadcasting, Electronic, Media & Allied Workers Union (Bemawu) vergader en Maandag met die Communications Workers Union (CWU) waartydens ʼn hersiene aanbod aan hulle gemaak is.

Verlede maand het lede van die twee vakbonde begin staak nadat hulle geëis het dat werkers deur die bank 10% salarisverhoging ontvang wat teruggedateer word tot April 2017. Die SAUK wat finansieel in die knyp is, het egter vasgestaan op sy “0% aanbod”.

Ná onderhandelinge het die CWU die staking opgeskort weens “tegniese regsaspekte” wat eers uitgestryk moes word.

In die jongste ronde van onderhandelinge het die SAUK albei vakbonde ʼn 4,5% verhoging aangebied vir die laaste ses maande van die 2017/18 finansiële jaar wat betaal sal word op ʼn latere stadium wanneer die organisasie finansieel meer stabiel is. Die vakbonde het met hul lede vergader om terugvoer oor die vergaderings te gee en lede het die aanbod van die hand gewys.

“Dit is jammer dat Bemawu sowel as CWU se lede die SAUK se aanbod geweier het en besluit het om Donderdag voort te gaan met hul staking,” het Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, in ʼn verklaring gesê.

“Die staking val saam met die uitsending van die 54ste nasionale konferensie van die ANC. Die SAUK wil die publiek verseker dat al die nodige maatreëls getref is om te verseker dat die konferensie aan die publiek van Suid-Afrika uitgesaai sal word soos beplan.”

Kganyago het gesê die SAUK moedig alle werknemers wat nie aan die staking deelneem nie aan om vir diens aan te meld soos uitgestippel in hul diensvoorwaardekontrakte. “Die organisasie doen ook ʼn beroep op alle stakende werkers om nie hul kollegas te intimideer wat werk toe wil kom nie en om op ʼn waardige wyse met die staking voort te gaan. Dit is belangrik om te noem dat die beginsel van geen werk geen betaling sal geld,” het hy gesê.

Hy het gesê die SAUK is van plan om alle programme op radio en televisie uit te saai soos beplan. “Die bestuur van die SAUK sal voortgaan om met die vakbonde in gesprek te tree om te probeer om hierdie dooiepunt op te los.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

PJC ·

Ek wonder of iemand sal agterkom indien die SAUK van die toneel verdwyn.

Giep ·

Ek kyk LANKAL nie meer tv nie. Kinders kyk videos van heidi en nils holgerson en verder weet ek niks van sabc

Johann Marx ·

As die nuwe Raad net die geld terug vat Hlaudi aan homself uitbetaal het…….is daar meer as genoeg vir verhogings vir die mense wat die werk doen, en die masjien aan die loop hou… Moenie nou kom met “as die instansie later finansieël stabiel is nie”………begin by HOEKOM is die instansie NIE NOU finansieël stabiel nie? En gaan haal die verantwoordelikes…om vir die personeel te kom verduidelik waarom hulle werk, en moet aanhou werk, sonder verhoging…

gatiep ·

Mooi man staak sommer genoeg. Hou aan totdat julle toemaak.

snoefie ·

die organisasie moet hulle topbestuur saamstel uit ongeskooldes. dan sal hulle hulle doelwitte van algehele obdergang net soveel gouer bereik. in die aangesig van bankrotskap onderhandel hulle. is dit nie hulle cue om te sê, “vat wat ht kry of gaan soek werk wat jou sal gee wat jy wil hê” nie? werkgewers het ook regte!

Annelize ·

Gaan enigiemand dit agterkom as hulle staak? Daar gaan mos inelkgeval net mooi niks daar aan nie. Dus verstaan ek nie die rede nie

marous ·

Gaan plak by julle vorige voorsitters wat op hul rente leef….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.