Staking dreig by Unisa nog voor akademiese jaar begin

Hoopvolle voornemende student wag buite Unisa in Pretoria nadat die instansie gesluit is weens die dreigende staking (7 Januarie 2019). Foto: Brenda Masilela/ANA

Nog voordat die akademiese jaar behoorlik afgeskop het, het die studenteraad van Unisa se Sunnyside-kampus in Pretoria gedreig om te begin staak indien daar nie aan die eise van die studenteorganisasie Sasco gehoor gegee word nie.

Hoopvolle studente het Maandag die sypaadjies buite die universiteit se kampus in Pretoria vol gesit in die hoop dat die hekke oopgemaak sal word nadat die instansie gesluit is weens die dreigende staking. Die polisie was teenwoordig om die situasie te monitor waar die voornemende studente onder bome en sambrele skuiling teen die son gevind het.

Martin Ramotshela, woordvoerder van die universiteit, het Maandag gesê die universiteit het intussen op die eise van die studente gereageer. Sasco het ʼn lys van eise ingedien, insluitend dat studente van handboeke en skootrekenaars voorsien word.

Ramotshela sê sommige van die kwessies wat deur die studente geopper is, is opgelos en daar is ingestem dat die skootrekenaars aan hulle gelewer sal word voor die akademiese jaar begin.

Hoopvolle voornemende student wag buite Unisa nadat die instansie gesluit is weens die dreigende staking (7 Januarie 2019). Foto: Brenda Masilela/ANA

Hy sê egter van die studente se eise het intussen uitgebrei en nou soek hulle meer as wat hulle aanvanklik geëis het. “Die ooreenkoms was dat hulle wil hê skootrekenaars moet voorsien word en dit is nou gedoen. Nou wil hulle hê skootrekenaars én dat handboeke voorsien moet word. Dit is ʼn kwessie vir die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS), dit is nie ons kwessie nie,” sê Ramotshela.

Lundi Nhlenyama, voorsitter van Sasco, hou vol handboeke en skootrekenaars is noodsaaklike hulpbronne vir studiedoeleindes.

Oor die kwessie van kwalifikasies wat gestaak is, sê Ramotshela dit is ʼn ongelukkige voorval. “Ons kan dié voorval bevestig. Ons het die fout gemaak om programme op die stelsel te laai wat nog nie akkreditasie van die SA Kwalifikasieowerheid (Saqa) ontvang het nie, maar die universiteit het intussen ingegryp om die saak te beredder,” sê hy.

Ramotshela sê in sommige gevalle is die kwalifikasies intussen geakkrediteer en in ander gevalle is aanbiedinge gemaak aan die studente wat hierdeur geraak is. Hy sê die universiteit is tans in gesprek met Saqa oor die kwalifikasies wat nié geakkrediteer is nie en hopelik sal die probleem nog hierdie semester of vroeg volgende semester opgelos word.

Polisiebeamptes monitor die situasie buite Unisa in Pretoria (7 Januarie 2019). Foto: Brenda Masilela/ANA

Nhlenyama blameer Unisa se administrasieproses en sê daar is studente wat oorbruggingskursusse gedoen het, maar nou deur die universiteit geweier word weens ʼn tekort aan plek.

Studente eis ook dat ʼn inbelsentrum op die been gebring word om studente met hul aansoeke te help. Studente kan glo nie die universiteit telefonies bereik om aansoekprobleme uit te stryk nie en daar is niemand om hulle te help wanneer hulle probleme met die aanlynstelsel ervaar nie. Dit lei daartoe dat studente dikwels ver moet reis en in groot getalle na die Unisa-kampus stroom om aansoekprobleme uitgesorteer te kry.

Ramotshela sê die universiteit sal met studente in gesprek tree. “Ek kan bevestig daar is al met die studenteleierskap gekommunikeer en ons is besig om ʼn tyd en plek te bepaal vir ʼn ontmoeting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

dr. Sakkie van der Merwe ·

So begin die 2019 akademiese jaar. ‘n Voorsetting van 2018 en vorige jare. Eis op eis op eis. As daar nie aan die eise voeldoen word nie? Dan staak hulle of brand en verniel. Die bode kringloop wat die ANC geinisieer het is besig om ons land te vernietig.

Cryosphear ·

Ek stem. Was die 7de by Vaal Driehoek satteliet kantoor. Het 3 ure daar gesit toe word vir ons gesê ons moet huistoe gaan hulle sluit die kantoor. Ek vertel toe die persoon dit is ‘n siek mentaliteit wat die sosiale fabriek van SA vernietig (in English of course). Gelukkig my laaste semester (as ek antwoord op my vrae kan kry). Ek sê ook JULLE hou studente wat HARD WERK gyselaar! Trek net sy skouertjies op

D ·

Lekker Suid-Afrika. Land van melj en heuning. Alles moet verniet wees

dejager ·

Is daar enige ander universiteit in die wêreld wat skootrekenaars uitdeel?

Thinus ·

MM, is die staking by Unisa of by die Universiteit van Pretoria?

Mariné Lourens ·

Dagsê Thinus

Die studente het gewag buite die Unisa-kampus in Pretoria. Ons vra om verskoning vir die foutiewe onderskrif by die foto. Dit is nou reggestel.

Groetnis
Mariné nms Maroela Media

Corlie van der Berg ·

Sal u assseblief die verwarring rondom Unisa en die Universiteit van Pretoria opklaar. U verwys na die krisis by Unisa se Sunnyside kampus maar die onderskrif by elke foto lui dat die probleme by die Universiteit van Pretoria ervaar word, wat nie die geval is nie.

Mariné Lourens ·

Dagsê Corlie

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die foutiewe onderskrif by die foto. Dit is nou reggestel.

Groete
Mariné nms Maroela Media

Ja swaer ·

As die regering miljarde rande kan in die rioolpyp afgooi met die SAL en vele ander korrupsie projekte, kan hulle seker maar n paar miljoen afstaan aan studente se rekenaars. Dis nog maar die begin vd jaar se nonsies. Ek verneem ‘studente honger’op kampus geniet nou aandag. Maw dit sal een vd dae weer brand en afbreek om verniet te gaan sit en eet op belastingbetalers se rekening

wilma ·

Eienaardig genoeg het niemand nog ‘n graad geëis voordat ‘n handboek oopgeslaan is nie! Dit is seker volgende.

Doempie ·

Wilma, ek het dieselfde gewonder. ñ Graad en ñ werk waar jy rondsit en die rande inrol. “Want it? Earn it”!

Michael Bouwer ·

Vir die van julle wat nie n’ idee het wat aan gaan nie, dit is regestrasie tyd, daar is nou nog studente wat nie hulle punte het vir eksamens wat hulle geskryf het in Okt/Nov nie. Dit is belaglik. Studente wat Honours wil doen het nog geen terugvoer gekry oor of hulle aanvaar is of nie. Dit is absoluut pateties. Jy kan nie bel of emails stuur nie, want niemand antwoord die foon of jou emails nie. Imagin, jy het ansoek gedoen in Augustus en jy wag nou nog om te hoor? Nee! Die plek moet hulle self regruk. Hulle admin is belaglik. Elke jaar is dit die sele storie.

Gritha ·

Ek wonder hoeveel skootrekenaars gaan verlore raak en dan word daar geeeis vir nuwe een. My dogter studeer ook sy werk en betaal haar eie studie en sy leef nog steeds. Se maar net.

Mariné Lourens ·

Dagsê Hannah

Die studente het gewag buite die Unisa-kampus in Pretoria. Ons vra om verskoning vir die foutiewe onderskrif by die foto. Dit is nou reggestel.

Groetnis
Mariné nms Maroela Media

Spike ·

Nou toe comrades. Julle moet die baba wat julle gebaar het nou grootmaak.

Tania Heyns ·

Dagsê lesers

Dankie vir julle kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die onderskrifte is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

At Dippenaar ·

Ag toemaar julle arme bloedjies, al sit jul heeldag in die son en kry net einde 2019 slegs 25%, oom Cyril sal sorg vir gratis onderrig en dat julle slaag.

De Villiers ·

Die rede waarom sulke absurde stakings en eise in ons land plaasvind is omdat ‘menseregte’ mos geld, selfs oor ‘n skootrekenaar. Dit gee hulle mag. Wat dit egter vererger is die feit dat, soos in hierdie geval, Unisa daaraan toegee. Dit gee hulle net meer rede om oor nóg belaglikhede te staak. Dit maak van hulle rebelle aangesien hulle hul sin kry. En so dra hulle hierdie kultuur eendag net oor na die werksplek en in die samelewing in omdat hulle daarin verstout geraak het.

HPV ·

Eise, sodra toegegee word, nog meer eise! Word nie toegegee, breek,brand en verniel ons alles selfs onskuldige mense se eiendom. Los hulle tot niks meer oor is nie en dan bakhand staan en vra waar is Suid Afrika se welvaart heen? Waar is werkgeleenthede heen? Waar is alles wat afgebrand en verniel is nou? Ek beny elke dag mense wat pak en gaan! Hier is geen soos in geen toekoms vir eerlike hardwerkende mense.

Wilna ·

My dogter gister on line geristreer vir haar volgende semester, gelukkig als deurgegaan. Nou wonder ons net of sy ook ‘n skootrekenaar gaan kry. ?

Se maar net. ·

Plaas die regering eerder die R20 mij wat hy gebruik vir 2 standbeelde in Durban eerder aan hierdie selfregverdigde klomp gee itv handboeke en skootrekenaars…
Hulle word groot gemaak deur ‘n lee belofte regeri g en EFF dat hul net alles moet he. Hulle howf niks te verdien nie.
Maak mens net moedeloos… Hoe gaan hul ooit hul denkproses regkry en wakker skrik?

GM ·

Universiteite het gewoonlik rekenaarsentrums, en ‘n biblioteek. Ek het nie ‘n idee hoe UNISA se prosedures werk nie, maar waar ‘n wil is, is ‘n weg. Ek het verskeie take gedoen gekry deur van handboeke gebruik te maak en als neer te skryf wat ek in die taak wou gebruik. As ek iets op die internet wou oplees, het ek my foon gebruik as ek lugtyd opgehad het (en die oorgrote meerderheid van daardie wat so kla oor skootrekenaars, het ‘grand’ fone), of by ‘n internetwinkel gaan sit die kere wat ek nie naby ‘n rekenaarsentrum kon wees nie, en ‘n paar rand kon afstaan. Daarna moes ek tyd afstaan om die taak getik te kry, dikwels in die oggendure wanneer die rekenaarsentrums stiller was.

As eerstejaars, was min van ons bevoorreg om ‘n beurs te hê, as jy was, was dit meestal ‘n gedeeltelike beurs. Die meeste instansies wou eers SIEN of jy die spit sal kan afbyt.

Die ‘entitlement’-sindroom van die klomp, moet nie so gevoed word nie. Dit raak nou regtig pateties. Hulle gaan seker ook uit die eksamenlokaal uitstap omdat die vraestel te moeilik is, en dan ‘demand’ om deurgesit te word.

zoom zoom ·

Hoekom word daar nie ook na laerskool en höerskool kinders na omgesien nie. As #feesmustfall net vir studente wat gaan studeer van toepassing is dan moet ons as ouers van kinders op laerskool en höerskool ook maar skole en staatsgebou afbrand. Lyk dan word daar iets gedoen

Hennie ·

Wonder wie gaan die Wi-Fi en data betaal vir die bloedjies se rekenaars

is ek reg ·

Unisa, jy skryf in en swot oor die pos????? My kind het deur hul geswot en sy het tot haar honeurs gekry. Ek kon geen ander studies bekostig. Boeke het ons self gekoop en selfs 2dehandse boeke by ander studente oorgekoop. Rekenaar was beperk tot na ure by my werk . Ek verstaan nie mooi, dit is die arm man se manier van verder studeer en nou kom die res en neuk dit op met eise. My kind het gewerk en geswot. Ek verstaan regtig nie hoe dit werk nie. As jy iewers wil kom, swot op die manier wat jy kan. En volg dan die pad wat vir jou aangewys word. By die mense bestaan dit net ek wil he en nog he en nog he…… so gaan dit aan.

Trudie ·

My kind leer ook deur unisa. Sy sukkel om te registreer. Hulle se hulle is van lyn af in Potch. Sy het n geleentheid gehad om verder in USA te studeer. Alles was reg dat sy kon begin, maar het vir n email gewag van unisa. Die uiteinde is sy terug in one deurmekaar land. Nou moet sy maar hier werk en haar studies betaal. Dit is belaglik wat in di stelsels aangaan.

GJvR ·

My seun het vir 3 dae probeer om aanlyn te registreer sonder enige sukses. Gaan in na Unisa Kaapstad vir registrasie en daar staak hulle as gevolg van die oproer deur studente wat nog nie hul uitslae gekry het nie… Nou wat nou!! Sluitingsdatum kom nader. Ons land se opset is belaglik

Peter Holmes ·

Solidariteit moet dringend Akademia en Soltech uitbrei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.