Staking dreig in ingenieursbedryf

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

ʼn Landswye staking dreig in die ingenieursbedryf ná onderhandelings vasgeval het toe die vakbond Numsa die werkgewer se jongste aanbod verwerp het.

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het ʼn sertifikaat van nie-resolusie versoek om te begin staak.

Numsa eis ʼn twee jaar algemene 15% loonverhoging wat terugdateer word tot 1 Julie 2017 en dat dit ook op werkgewersverenigings soos die National Employers Association of South Afrika (Neasa) en die Plastics Converters Association of South Africa (Pcasa) afgedwing word.

Die metaal- en ingenieursbedryf se gesprekke kom nadat die loonooreenkoms teen die einde van Junie verstryk het. Numsa het in 2014 gestaak ná gesprekke oor ʼn “leefooreenkoms” en “verbeterde werkstoestande” in die metaalbedryf vasgeval het.

Werkgewers in die metaal- en ingenieursbedryf se bedingingsraad (MEIBC) het loonverhogings aangekondig kragtens die minimumtarief.

Phakamile Hlubi, woordvoerder van Numsa, het egter Vrydag gesê werkgewers wil ʼn minimumbetaling van R20 per uur aanbied vir nuwe toetreders tot die bedryf, terwyl die huidige minimumbetaling R40 beloop.

Hlubi het gesê Numsa het hierdie aanbod met die minagting wat dit verdien, verwerp.

“Hierdie ooreenkoms sal werkstoestande vererger. Die aanbod veroorsaak chaos in die ingenieursbedryf en werkers wat baklei het om meer te verdien, loop nou die risiko om afgegradeer te word tot hierdie patetiese armsalige loon van R20 per uur,” het Hlubi gesê. Sy het bygevoeg die vakbond is skepties dat werkgewers hul woord gestand sal doen dat diegene wat nou meer verdien, nie afgegradeer sal word nie.

“Ons weet dat, in werklikheid, daar niemand is wat hulle sal verhoed om die werkers die helfte te betaal van dit wat hulle behoort te verdien nie. As ons hierdie belaglike aanbod aanvaar, sal nuwe werkers daaronder ly, en diegene wat reeds in diens is, sal minder verdien as wat hulle tans verdien,” het Hlubi verduidelik.

Sy het gesê Numsa sal “terugbaklei” om die werkgewers te verhoed om hierdie “armsalige loon” te implementeer. “Ons het ʼn sertifikaat van nie-resolusie versoek wat ons sal toelaat om te staak. Ons moet tot 15 Julie wag om te sien of die stakingsertifikaat uitgereik sal word. Numsa sal nie terugtree nie en ons sal nie geboelie word nie. Ons sal met alles wat ons het baklei om die regte van lede en hul families te beskerm om ʼn waardige lewe vir hulle te verseker.”

Intussen het die vakbond Solidariteit gesê dat ʼn moontlike ʼn einde aan die MEIBC kan beteken.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van die metaal- en ingenieursbedryf by Solidariteit, sal ʼn staking beteken dat die bedingingsraad inkomste sal verloor wat tot gevolg sal hê dat die MEIBC op sy knieë gebring sal word. “ʼn Staking sal beteken dat die MEIBC nie sy koste sal kan verhaal uit heffings op werkgewers en werknemers nie, wat van kritieke belang is om sy funksies te vervul. Projeksies dui daarop dat so ʼn staking die MEIBC se inkomste vir die maand kan halveer. Die gevolge wat hieruit sal voortvloei, sal die bedryf tot in sy diepste wese skud,” het Croucamp gesê.

“Solidariteit wil graag verder onderhandel en het derhalwe ʼn versoek gaan rig dat ʼn 30-dae-verlenging in die onderhandelingsproses toegestaan word. Ons doen ʼn beroep op vakbonde en werkgewers om toegewyd aan die kollektiewe onderhandelingsproses te bly,” het Croucamp gemaan.

Volgens Croucamp het sommige van die werkgewers ʼn loonverhoging van 5,3% in die bedryf aangebied terwyl die werkgewerorganisasies Neasa en Border hul loonaanbod onttrek het. “Hoewel Solidariteit vir ʼn 10%-verhoging gevra het, is die vakbond oorgehaal om die langtermyn sukses van die bedryf te verseker en is dus bereid om verder oor die verhogings te onderhandel,” het Croucamp verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johannes van Staden ·

Almal staak en is kwaad en maak dit tog saak as die anc niks maak

CHRISTA ·

Hierdie unies smokkel met die werkers se koppe!! Die leiers van hierdie unies betaal hulleself massiewe salarisse uit die ledegelde en as die staalbedryf werkers afdank sit hulle lekker warm en dikgevreet in hulle “mansions” – min gepla oor die werkloses.

Johann Marx ·

Hierdie vakbonde-besigheid is die oorsaak van SA se werkloosheids-syfer. As ‘n klomp werkers aandring op ‘n verhoging of salaris wat die vervaardigers nie kan betaal nie, dan word die helfte van die werksmag afgedank, hulle geld word vir die eisers gegee, en die werkslading op die oorblywendes verdubbel. En uiteindelik maak besigheid na besigheid hulle deur toe…en sit almal wat so geskree het op straat. Dan kom ons by die punt waar 17 miljoen mense in hierdie land ‘n “social grant” ontvang……wat betaal word deur die 15 miljoen wat werk….

Hans ·

Daar is mense wat alles moontlik sal doen om n werk te kry om vir hulle gesinne te kan sorg. Die vakbond is onrealisties verby met loonvehogings van 15%.

Vryheid ·

Gee elkeen 20% verhooging, Mercedes Benz en n 13de tjek. Die ekonomie kan dit mos bekostig siende dat ons junk status en in resessie is.

Basjan ·

Kan iemand vir my verduidelik wat die funksie van die MEIBC is, asb? Is hulle daar om net ledegeld in te samel of dra hulle werklik die belange van die werker op die hart?

Paul ·

Neasa en Pcasa is tog sekerlik werkGEWERSorganisasies. Met ander woorde, Numsa eis dat die 15% teruggedateerde tweejaarooreenkoms op werkgewers wat aan Neasa en Pcasa behoort, afgedwing word, nie dat dit “aan hulle gebied word” nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Paul

Ons vra verskoning vir die flater.
Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.