Staking duur voort by Agni Steels

Die Liberated Metalworkers Union of South Africa (Limusa) het Maandag gesê sy staking sal onbepaald by Agni Steels in Port Elizabeth voortduur, weens voortslepende loononderhandelings wat in 2016 met die maatskappy begin het.

Die staking duur Maandag al vier dae lank. Die vakbond eis R48 per uur, terwyl die maatskappy tans R24 per uur betaal. Die vakbond het intussen sy eis aangepas tot R40.37 per uur.

Agni Steels is ʼn gesamentlike vennootskap tussen swart en Indiër sakemanne wat ʼn R400 miljoen moderne staalmeul by die Coega-nywerheidsontwikkelingsone naby Port Elizabeth bedryf. Ongeveer 270 persone werk by die aanleg en 200 van dié persone is deel van Limusa.

Cedric Gina, algemene sekretaris van Limusa, het in ʼn verklaring Agni Steels daarvan beskuldig dat hulle verskeie pogings aangewend het om die onderhandelings uit te stel, maar al dié pogings was tot dusver onsuksesvol.

“Die maatskappy wou die eise aanspreek terwyl ons die aanbod bespreek het, en het ʼn teenaanbod gemaak en die maatskappy het ʼn ooreenkoms met die minderheidsvakbond Numsa onderteken. Numsa het geen eise gemaak nie en was ook nie deel van die dispuut nie,” het Gina gesê. “Dié optrede van die maatskappy het tot ʼn dooiepunt gelei en Limusa het ʼn kennisgewing van staking op 27 September 2017 aan die maatskappy oorhandig.”

Die maatskappy het egter op 1 Oktober die arbeidshof genader vir ʼn tussentydse interdik en dit is toegestaan. Die arbeidshof het ʼn week later die saak aangehoor en Limusa het die saak gewen en die tussentydse bevel is teruggetrek. Dit beteken dat die arbeidshof bevestig het dis ʼn beskermde staking.

“Die maatskappy en die vakbond het op 8 Desember vergader om die dispuut op te los, maar die maatskappy het versuim om die eis van R40.37 en terugbetalings aan te spreek. Dit het daartoe gelei dat die onderhandelings weer in duie gestort het en die staking het begin,” het Gina bygevoeg. “Die staking sal onbepaald voortduur, aangesien werknemers ernstig is oor hul eis van R40.37 per uur. Dié eis het ten doel om werkers op ʼn gelyke voet te bring met hul eweknieë in die metaal- en ingenieursbedryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JZ ·

Kan die mense nie in hulle koppe kry dat staakings net hulle self op die ou ent benadeel, hulle wys hulle massels maak die besigheid seer en voel dan goed”ons het hulle nou goed opgevoeter”, Die besigheid kry swaar maak sy deure toe. Nou is die selfde mense kwaad want hulle het nie meer werk nie en begin nou toi toi want hulle wil werk he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.