Staking duur voort by Gauteng-lykshuise

Argieffoto

Die Gautengse departement van gesondheid moet streng optree teen forensiese beamptes wat onwettig staak en ʼn dringende hofbevel moet teen die onwettige stakers bekom word, het die DA Sondag gesê.

Desperate families het hofbevele bekom om nadoodse ondersoeke te bekom by Gauteng se staatslykshuise sodat die liggame gereed gemaak kan word vir begrafnisse. ʼn Staking deur 180 forensiese assistente duur, sonder ʼn einde in sig, voort, het DA-woordvoerder Jack Bloom gesê.

“Ek weet van drie hofbevele deur Moslem-gesinne wat deur hul geloof vereis word om ʼn liggaam binne 24 uur ná afsterwe te begrawe. Dit is tragies dat ʼn hof genader moes word weens die patetiese hantering van die staking deur die provinsiale departement van gesondheid,” het hy gesê.

Families was vol hoop dat die agterstand van meer as 200 liggame vinnig hanteer sou word sedert gesondheidspersoneel van die weermag verlede week ontbied is om bystand te lewer, maar dit was slegs sewe persone.

Patoloë het oor die langnaweek sonder assistente gewerk, maar nuwe liggame kom gereeld by en hulle kan tans nie die lading hanteer nie. Aangesien daar nie genoeg spasie in die yskaste is nie, word liggame bo-op mekaar gestapel.

“Vakbonde voer aan die assistente staak nie, maar hulle doen slegs dit wat in hul posbeskrywings is, maar dit is vals. Ek het bevestig dat hul pligte spesifiek die volgende insluit, kragtens ʼn beskrywing van ʼn vakante pos vir ʼn graad een forensiese patologie-assistent wat onlangs geadverteer is: “Lewer bystand aan forensiese patoloë tydens ʼn doeltreffende forensiese outopsieproses kragtens die bestaande standaarde en riglyne,” het Bloom gesê.

“Die departement moet nou streng optree teen forensiese beamptes wat onwettig staak. Sommige patoloë is geïntimideer en vrees vir hul veiligheid.”

Die departement het reeds ingestem om die beroepspesifieke bedeling te herroep wat in 2009 tot salarisverminderings vir forensiese beamptes gelei het, het hy gesê.

Daar is nie ʼn spesifieke rede vir die staking nie, aangesien oortollige griewe in die onderhandelingsproses aangespreek kan word, maar die probleem is dat die departement nie baie geloofwaardigheid geniet nie, weens vorige beloftes wat nie vervul is nie.

“Die ANC hanteer vakbonde sagkens, omdat hulle nie kan bekostig om ʼn vriendskaplike vennoot aanstoot te gee nie. Premier David Makhura is onverklaarbaar nie by hierdie krisis betrokke nie. Hy moet pogings koördineer om te verseker dat veiligheid by die 10 staatslykshuise opgeskerp word en dat ander gesondheidswerkers gebruik word om die patoloë by te staan,” het Bloom verduidelik.

“ʼn Dringende hofbevel moet gebring word teen die onwettige stakers wat nie die oorledenes respekteer nie en ongelooflike trauma veroorsaak vir die familielede waarvan sommige al meer as 10 dae wag om hul geliefdes te begrawe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ekt n Bsc honeurd ·

Hallo, ekt n biochie honeurs en is werkloos. Ek is meet as bereid om te help en is seker daar is meer mense soos ek. Nie alle werkloses steel en kry toelae nie.
Gefrustreerde werklose waar moet ons gaan aanklop om te help

moeksie ·

dis glad nie waar nie, die werk word nog steeds gedoen, hulle staak nie, dis net belaglik dat hulle die werk van die Dokters moet doen, maar glad nie die betaling daarvoor ontvang nie! Ligame word nog steed van tonele op gelaai, by hospitale gaan haal, hulle is nog steed aan diens, maar omdat hulle nie verantwoordelik is vir die autopsies nie, word daar nou gese hulle almal staak… absolute snert! so kry asb eers al die feite dan praat ons weer.

Spook ·

Genugtig nou ly tot die dooies onder die lamsakige regering regtig

Scalla ·

Fire die persone wat verantwoordelik is, stel mense aan wat die job kan en wil doen,

NN ·

Dankie moeksie,dis so waar!Die wat nie feite het,moenie klippe gooi!Ja hul moet bystand lewer met autopsies,presies wat hul steeds doen,dis assisteer,nie die fisiese autopsie doen,wat die dokter se werk is!!So di wat se hul moet gefire word en regstappe moet geneem word,jul het nog nooit in di amptenare se skoene gestaan, jul het nie ‘n idee wat dit is om die werk te doen!

Dewald ·

NN, werk jy by staatslykshuis of het jy al by een gewerk? Die groot meerderheid van hul lewer nie op die oomblik enige bystand met die autopsies nie. Al lewer hul die assistering wat van hul verwag word, doen die forensiese pataloë nog steeds die meeste werk. Die assistente moet net oopsny en organe uithaal en in sommige gevalle die organe ook sny maar dis nog steeds die pataloë wat in detail moet kyk en bepaal wat die oorsaak van dood is. Die pataloë moet in sommige gevalle ook nog die organe verder onder ‘n mikroskoop bestudeer indien die oorsaak net met die autopsie nie vasgestel kan word nie. En as jy gewonder het, ek is ‘n admin klerk by ‘n staatslykshuis, so ek weet waarvan ek praat. Volgens betroubare bronne is hierdie staking/weiering om sekere pligte te doen onwettig is en dus kan daar ernstig teenoor hierdie mense opgetree word.

Marina ·

Hule kan my aanstel ekt ondervinding weet wat om te doen en ek sal ni staak ni.ek sal te bly wees om te kan doen wat ek graag wil doen.stel my aan

CAROL ·

As dit net is om lyke te was sal ek ook dit doen, (ek sal tot die mamma’s mooi maak (make-up)

Janie Monsieur ·

Dagsê CAROL,
Dankie vir jou navraag. Maroela Media behou die reg voor om kommentare te verwyder of te modereer wat nie met ons bepaling en voorwaardes strook nie. Dit is waartoe jy instem, deur die blokkie te merk elke keer as jy kommentaar wil lewer. Dit is hoe jou kommentaar “gemodereer” word. Lees gerus Maroela Media se bepalings en voorwaardes hier: http://maroelamedia.co.za/bepalings-en-voorwaardes/ .

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.