Staking duur voort by Kruger-wildtuin en ander oorde

Spelerige olifant Foto: Marianne Styan

Die staking van lede van die vakbond Hospersa by nasionale parke duur Donderdag voort.

Die staking is verlede week opgeskort ná ʼn nuwe aanbod deur die werkgewer, SANParke. Die Health and Other Services Personnel Trade Union of South Africa (Hospersa) het egter gesê die aanbod is verwerp.

“Lede van Hospersa het die nuwe aanbod verwerp, aangesien dit nie elke werknemer eweredig sal bevoordeel nie. SANParke se nuwe aanbod is ʼn 6.1% salarisverhoging en 1% salarisvordering vir kwalifiserende werknemers,” het Noel Desfontaine, sekretaris-generaal van Hospersa, gesê.

“Die 1%-vordering is slegs vir werknemers wat voordeel trek uit die implementering van salariskerwe, in reaksie op salarisongelykhede.”

Die vakbond het aanvanklik ʼn verhoging van 9% geëis toe hy verlede week begin staak het. Dié eis is later afwaarts na 7.5% aangepas.

“Ons lede se eis is ʼn regverdige verhoging wat alle werknemers sal bevoordeel. Ongelukkig voldoen die aanbod, deur SANParke, nie aan ons lede se eise nie en gevolglik duur die staking voort,” het Desfontaine bygevoeg.

Werkers wat staak sluit veldbewaarders, veldgidse, skoonmakers en veiligheidswagte in.

SANParke bestuur 19 nasionale parke, insluitend Kruger-wildtuin, Tafelberg- nasionale park en die Karoo- nasionale park. Die organisasie het vandeesweek gewaarsku dat hy besprekings vir 2018 met minstens ʼn week moet uitstel weens die staking.

Besprekings vir 2018 sou op 25 Julie oopgemaak het, maar is nou geherskeduleer vir 1 Augustus. Dit is nog nie duidelik of daar enige verdere uitstel sal wees nie.

Janine Raftopoulos, woordvoerder van SANParke, het Donderdag bevestig dat dienste by alle parke nie deur die staking beïnvloed word nie.

“Gaste kan met hul reëlings voortgaan om die parke te besoek, aangesien gebeurlikheidsplanne geïmplementeer is. Al ons parke, insluitend Tafelberg- nasionale park en die Kruger-wildtuin is oop vir besigheid. Daar is geen ontwrigting nie,” het sy gesê. “Ons verwag van Hospersa-lede om te voldoen aan die stakingsreëlings en dat hulle die reg van nie-stakers sal respekteer.”

Sy het gesê lede van die National Health Education & Allied Workers Union (Nehawu) het formeel die oorspronklike aanbod aanvaar en hul lede is op hul pos.

Besoek SANParke se webwerf vir besprekings of skakel 012 428 9111.
www.sanparks.org

Raftopoulos het gesê altesaam 4 089 persone werk by SANParke waarvan 2 136 lede is van Hospersa. By die Kruger-wildtuin staak 91 personeellede en by Tafelberg- nasionale park staak 4 persone. Altesaam 50 persone staak by Groenkloof, 42 by die Addo- nasionale park, 24 persone by Tsitsikama, 21 by Wilderness, 16 by Camdeboo en 12 by Marakele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.