Staking duur voort by Metrobus

Metrobus (Foto: JoburgMetrobus/Twitter)

Die bestuur van Metrobus het Dinsdag pendelaars in Johannesburg om verskoning gevra ná die tweede dag van ʼn staking deur lede van Demawusa.

Metrobus het gesê hy werk hard om ʼn volhoubare oplossing te kry vir die staking van busbestuurders van die Democratic Municipal & Allied Workers Union of South Africa (Demawusa). Die maatskappy wil seker maak dat dienste so vinnig as moontlik kan terugkeer na normaal.

“Metrobus het die afgelope twee dae gesukkel om duisende pendelaars van verskeie dele in die stad te vervoer weens diensontwrigtings as gevolg van die staking,” het Goodwill Shivuri, woordvoerder van Metrobus, gesê.

Shivuri het gesê die bestuur is in onderhandelings met Demawusa, maar die vakbond hou vol dat die staking sal voortduur totdat daar aan al hul eise voldoen word.

“Daar is al baie vordering gemaak, met 44 eise wat ter tafel gelê is. Ons het reeds ʼn ooreenkoms bereik op meer as 60% daarvan. Die staking beïnvloed pendelaars nadelig wat op openbare vervoer staat maak om by hul werk en skole uit te kom.”

Metrobus het gesê nie-stakende werkers kon nie werk nie, as gevolg van “geringe intimidasie”. Die busdiens moes in sy geheel opgeskort word.

Die maatskappy raai pendelaars aan om alternatiewe reëlings te tref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Hierdie optrede ontwrig nie net ‘n samelewing nie, dit kos ‘n klomp pendelaars baie ekstra Rande ekstra om by die werk te kom? Waarom word ek, as bus-gebruiker, finansiëel uitgebuit omdat die busbestuurders ‘n klomp eise het? In Japan staak busbestuurders ook….maar hulle hou nie op werk nie…hulle laat net al die pendelaars “gratis” op die busse ry!!

Christa ·

Dit is hoekom ek nie meer van die dienste gebruik maak nie. Pryse is buitendien te hoog vir sulke swak diens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.