Staking in petroleumbedryf ná weke verby

Argieffoto

Argieffoto

Die weke lange staking in die petroleumbedryf het Woensdag tot ʼn einde gekom nadat ʼn ooreenkoms tussen die vakbond en werkgewers bereik is.

Jerry Nkosi, ʼn woordvoerder van die vakbond Ceppwawu, het aan Maroela Media bevestig dat werkers sedert gister begin terugkeer werk toe. “Al die werkers het tot Maandag tyd om hulle weer by die werk aan te meld, aangesien sommige van hulle dalk nou ver van hul werksplekke af is en dit ʼn rukkie sal neem om terug te keer.”

Lede van Ceppwawu het op 28 Julie begin staak in ʼn poging om die Nasionale Petroleumwerknemersvereniging te dwing om aan hul looneise toe te gee. Afgesien van ʼn 9%-salarisverhoging, het die vakbond ook geëis dat tydelike werknemers ná drie weke permanent aangestel word.

Nkosi het Donderdag gesê daar is ooreengekom dat werkers ʼn 7%-loonverhoging in die eerste jaar sal ontvang, gevolg deur ʼn 1,5%-verhoging plus inflasie in die tweede jaar. Hy het gesê die besonderhede betreffende die res van die ooreenkoms moet nog bespreek en gefinaliseer word.

Die drie weke lange staking het tot gevolg gehad dat verskeie vulstasies, veral in Gauteng, brandstoftekorte ervaar het. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het ook tydens die munisipale verkiesing op 3 Augustus gesê dat die petrolstaking dit vir die kommissie moeilik gemaak het om stembriewe by sekere stemstasies in Mpumalanga af te lewer.

Ceppwawu verteenwoordig nagenoeg 15 000 werkers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Sou nogal interressant gewees om te hoor hoeveel mense het die verskoning gebruik…(Daar is nie petrol, ek kom nie werk toe nie)

Elsabe ·

Danksy dit gaan die brandstof seker weer stuuuuuuiiiiiiggggg volgende maand!!!!!

Paul ·

Nee, die prys gaan daal. Stakings het geen impak op die prys nie. Al wat ‘n impak het, is die rand/dollar-wisselkoers en olieprys in dollar.

En mens spel dit “styg”. Daar is nie ‘n woord soos “stuig” nie.

Jeanne ·

Dit was nou glad nie juis suksesvol nie, ek weet van niemand wat gestrand was agv daarvan nie, daar was ‘n motorhawe naby ons wat ALTYD petrol en diesel gehad het, nie een dag daarsonder gewees nie, vreemd hoe dieselfde mense elke jaar staak. Laat gaan hulle na twee weke se staking en stel nuwe werkers aan, daar sit tonne mense sonder werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.