Staking in staatsdiens dreig

leers staatsdiens administrasie

(Foto: pixabay)

Terwyl die regering sy bes doen om te voorkom dat groot groepe mense byeenkom en die koronavirus verder versprei, dreig die vakbond Nehawu om in duisendtalle op te ruk uit protes dat hul lede nie vanjaar salarisverhogings kry nie.

Die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) berei voor vir ʼn reusestryd nadat die regering Dinsdag by ʼn spesiale vergadering van die koördinerende bedingingsraad vir die openbare sektor (PSCBC) voet by stuk gehou het dat geen staatsamptenaar ʼn salarisverhoging gaan kry nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy begrotingsrede vroeër vanjaar aangedui dat die staat aan sy salarisrekening gaan besnoei – en geen verhogings nie vir staatsdienswerkers is een van die maniere om dit te doen.

Nehawu sê die inflasiekoers is in dié stadium 4,4% en werkers is veronderstel om die verhogings wat reeds vir die verskillende posvlakke beding is, op 1 April te kry.

Die vakbond sê die regering se ommeswaai oor die beloofde verhogings is ʼn “aanval op werkers” en dat enige poging om gesamentlike bedinging te verwerp ʼn “oorlogsverklaring” is.

“Die regering is verskeie kere gemaan om werkers nie uit te lok of opruiende verklarings te maak nie – staatsamptenare kan die hele staatsdiens ontwrig,” het Nehawu Woensdag gewaarsku.

Die vakbond sê hy gaan nie toelaat dat daar op ʼn outoritêre en ondemokratiese manier opgetree word nie en dat salarisooreenkomste wat reeds aangegaan is, ononderhandelbaar is.

(Foto: pixabay)

Nehawu sê hy gaan sy lede mobiliseer om op 30 Maart in duisendtalle op te ruk om protes teen die staat se besluit aan te teken.

Dit terwyl pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand beveel het dat geen byeenkoms van meer as 100 mense in die lig van die toenemende verspreiding van Covid-19 in Suid-Afrika mag voortgaan nie.

In die staatsdiens moet iedereen ʼn hand bysit om die vinnige verspreiding van die virus so ver moontlik te probeer keer, maar dit lyk of Nehawu nie net die bevel gaan verontagsaam nie, maar ook die staatsdiens met ʼn betoging gaan probeer lamlê. Baie van Nehawu se lede is gesondheidswerkers, mense wie se diens juis nóú noodsaaklik is.

Nehawu het die regering daarvan beskuldig dat hy staatsdienswerkers die sondebokke vir die regering se yslike geldprobleme maak. Dít terwyl die regering die ware oorsake hiervan – korrupsie, nuttelose en verkwistende uitgawes, asook reddingsboeie aan sukkelende staatsinstellings – hopeloos ignoreer.

“Ons lede kan nie gestraf word vir ʼn ekonomiese krisis wat hulle nie veroorsaak het nie, terwyl die regering versuim om besuinigingsmaatreëls toe te pas rakende die salarisse en voordele van uitvoerende hoofde en direkteure,” het Nehawu gesê.

Die vakbond sê hy sal alles moontlik doen om sy lede se voordele en inkomste te beskerm.

“Die regering tender nou al lankal vir ʼn oorlog met werkers. Ons sal hulle gee wat hulle vra.”

Die DA het in reaksie gesê die beoogde saamtrek kan duisende lewens in gevaar stel.

Hy gaan die minister van staatsdiens en administrasie, Senzo Mchunu, vra om ʼn stokkie daarvoor te steek.

“As die regering versuim om dié dreigende ramp af te weer, gaan die DA vra vir ʼn dringende interdik teen die beoogde optrede om die gesondheid en veiligheid van duisende staatsdienswerkers en ander Suid-Afrikaners te beskerm teen blootstelling aan die koronavirus,” het Leon Schreiber, die DA se woordvoerder vir die staatsdiens gesê.

Schreiber sê vakbonde soos Nehawu se roekelose afpersing moet stopgesit word.

“As ons die katastrofiese gesondheids- en ekonomiese gevolge van Covid-19 gaan oorleef, moet ons landsbelang bo die selfsugtige politieke belange van vakbonde soos Nehawu stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eugene

Vat die leiers van die vakbonde nou vas en lees hulle behoorlik die leviete voor. Dit is belaglik dat sulke mense gedurende die grootste bedreiging ooit vir ons ekonomie sulke dinge se en beplan. Cyril sal moet sy stem dik maak teenoor hierdie bedmaatjies van die anc

Johan

Nou ja, laat ons sien waar is patriotisme nou heen…….

Willem

Unies dink die land behoort aan hulle.

Manda

Iemand gaan bes gee hier – die universe wat ons maar moet oorsien tot hulle klaar betoog het kry die virus of Mr Moweni sal moet sê askiesie on sal bietjie gee. Ignorance is the eight deadly sin for a reason…

Johan Venter

Dalk bring die virus ook ‘n kentering teweeg in die ANC se sosialistiese kommunistiese ideologie, maar dan het hulle hul volgelinge mos nou grootgemaak om te staak as hulle ontevrede is, en natuurlik die onmoontlikste tyde, niks word ontsien nie.