Staking los pasiënte week lank sonder sorg

Die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein.

Werkers het Maandag ná ’n chaotiese week van staking na die Pelonomi-staatshospitaal in Bloemfontein teruggekeer.

Dít nadat hospitaalbestuur aan ’n aantal van die vakbond Nehawu se vereistes voldoen het, veral wat betref ’n tekort aan personeel, die veiligheid van werkers en oortydbetaling.

Baesi Ramodula, uitvoerende hoof van die hospitaal, is boonop uit haar pos verwyder. Stakende werkers het haar kop geëis, maar die departement het aan OFM gesê die besluit om haar uit haar pos te verwyder, is al vóór die staking geneem.

Nietemin is pasiënte sowat ’n week lank skynbaar aan hul eie genade oorgelaat en is nuwe pasiënte en ambulanse tydens die staking by die hospitaal weggewys.

Stakende gesondheidswerkers, onder wie verpleegsters, portiers en skoonmakers, het aan die staking deelgeneem.

Gevolglik was daar dae lank nie genoeg hande om na bestaande pasiënte in die hospitaal om te sien nie en nuwe pasiënte het voor dooimansdeur gekom.

Sommige van die stakende personeellede is volgens die vakbond van Maandag af weer terug by die werk nadat die hospitaal, die provinsiale departement van gesondheid en die vakbond Nehawu ’n middeweg kon vind.

Die departement word intussen gekap oor sy hantering van die staking en word daarvan beskuldig dat hy Covid-19 as verskoning gebruik.

Niemand aan diens

Die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Foto: Google Maps

Mariette Pittaway, lid van die provinsiale wetgewer en die DA se woordvoerder oor gesondheid, sê sy is Woensdag meegedeel dat pasiënte by die Pelonomi-hospitaal aan hul eie lot oorgelaat is terwyl werkers gestaak het. “Daar was niemand aan diens nie.”

Pittaway het Godfrey Mahlatsi, waarnemende hoof van die Vrystaatse departement van gesondheid, gekontak. Dié het haar verseker dat die departement met die stakende gesondheidswerkers onderhandel en dat die situasie onder beheer is.

Mahlatsi het Vrydag tydens ’n vergadering tussen sy departement en die portefeuljekomitee vir gesondheid wéér sy versekering gegee dat die probleem hanteer word.

Dit blyk egter nie die geval te gewees het nie, aangesien Pittaway Vrydagaand meegedeel is dat die hospitaal geen nuwe pasiënte opneem nie en dat ambulanse weggewys word. “Dit was absolute chaos,” vertel sy aan Maroela Media.

Wéér het sy Mahlatsi gekontak en hy het haar glo die versekering gegee dat alle personeel terug is op hul poste nadat die departement met die vakbonde vergader het.

Dít het egter nie ooreengestem met inligting wat Pittaway vanuit die hospitaal ontvang het nie. Hiervolgens was daar slegs een verpleegster per vloer aan diens en was die hospitaal se deure vir nuwe pasiënte gesluit.

Pittaway het Saterdagoggend noodgedwonge iemand na die hospitaal gestuur om ondersoek in te stel. Dié persoon het voor dooimansdeur gekom. Die hospitaal se hekke was gesluit en die betrokke persoon is deur die hekwagte weggewys.

Pittaway vertel dat Covid-19 sedertdien as verskoning gebruik word vir die benarde situasie waarin die hospitaal verlede week gedompel is.

Volgens haar is daar in skrywes wat uitgestuur is, aangevoer dat die hospitaal gesluit is weens ’n toeloop van Covid-19-gevalle, terwyl die tekort aan personeel toegeskryf is aan personeellede wat positief vir Covid-19 getoets het.

“Die hoof van die departement speel nie oop kaarte nie,” meen Pittaway. “Die departement het geen aksieplan in plek gehad om die situasie te hanteer nie.”

Sy gaan dit nou onder die nasionale departement van gesondheid se aandag bring. “Hulle kan nie net pasiënte aan hul eie lot oorlaat nie.”

Khauhelo Mnqibisa, provinsiale sekretaris van Nehawu, het Maandagmiddag aan Maroela Media gesê die stakende gesondheidswerkers is weer op hul pos nadat aan hul griewe gehoor gegee is.

“Die werkers, die hospitaalbestuur en die departement kon konsensus oor ’n aantal kwessies bereik,” het Mnqibisa gesê.

Dié kwessies sluit in ’n oorvol ongevalle-eenheid, ’n tekort aan hospitaalbeddens en personeel, die oorbetaal van agterstallige vergoeding vir werk wat oortyd gedoen is en die beveiliging van werkers in die hospitaal.

Kritieke tekort aan personeel

Armand Cloete, VF Plus-LPW, sê die staking is die direkte gevolg van onstabiliteit in die hospitaal se bestuur en ’n mislukte provinsiale regering.

Volgens Cloete het die Vrystaatse departement van gesondheid Vrydag erken dat die onstabiliteit bestaan weens onder meer kritieke poste wat vakant is.

Die nasionale minister van gesondheid, Joe Phaahla, het in antwoord op ʼn vraag van die VF Plus se gesondheidswoordvoerder, Philip van Staden, gesê die Pelonomi-hospitaal beleef tans ʼn tekort aan 22 dokters en 113 verpleegpersoneel. Daar is ook ʼn tekort aan skoonmakers.

Tog word vakante poste nie gevul nie, wys Cloete daarop. Hy meen die gebrek aan bestuur is ook nie tot dié hospitaal beperk nie.

“Uit die departement se jaarverslae wat tydens ’n portefeuljekomiteevergadering van die Vrystaatse wetgewer bespreek is, is dit duidelik dat die ANC-regering nie gesondheidsorg in die provinsie kan verseker nie.”

Twee distriksgesondheidsrade funksioneer nie weens die feit dat munisipale raadslede nie vir vergaderings beskikbaar was nie. Daar is ook vier hospitale wat tans wanfunksionele rade het.

’n Woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid kon die hele naweek en ook Maandag nie vir kommentaar bereik word nie.

Daar is Maandagmiddag weer oor die uitdagings by Pelonomi vergader, sê Mnqibisa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Johann ·

En dan wil die ANC hierdie onbesonne onbevoegdheid op ‘n NASIONALE vlak loslaat?

Di ·

Weereens ‘n bewys dat die hele spul ANC kaders onbevoeg en te sleg is om die werk te doen. Hulle sit net in die poste om daai hengse salaris te verdien elke maand, gee nie ‘n duit om oor die pasiente en die plek wat uitmekaar val weens hulle slegtigheid nie. Raak onstlae van al hierdie useless mense wat niks beteken vir die samelewing nie.

Mariana ·

Dit maak nie saak hoe mens daarna kyk nie, as jy ‘n gesondheidswerker, verpleegpersoneel en dokters, jy staak nie en as jy dit doen behoort jy jou werk te verloor. Dit is veronderstel om ‘n edele beroep te wees en jy lê eed af om te alle tye jou pasiënte te beskerm. Met die SA van vandag het hulle ook nie meer trots nie, geen inbors, geen intergriteit nie. Hulle hoort nie in daai poste nie, maar daar moet mos plek gemaak word vir die spul, terwyl die wat daar hoort nie daar mag wees nie. Kyk na die toestand van hospitale, voor ’94 was dit iets om op trots te wees nou is dit chaos en skande.

Toy ·

Hulle het die vermetelheid om te staak, wat as een van hul familielede daar le of selfs een van hulle beland daar en mense staak en hulle kry nie die nodige aandag en versorging nie. Hulle het met mense se lewens te doen. Dit is swak.

Christine ·

Hulle voel vir hul eie familie niks, soos die Adjunk Minister wat onlangs ses van haar familielede in hul huis laat doodmaak het.

Theo ·

Dit is n skande, die mense behoort hulle koppe in skaampte te sak.

Nie Verbaas ·

Weereens n bewys van ANC BEE gedrewe “integriteit”. Hulle gee nie n duit om as iemand sou sterf as gevolg van hulle nalatigheid nie.

Misky ·

Werkloosheid was nog nooit in die land se geskiedenis so hoog nie, maar daar is honderde poste wat nie gevul word nie. Hoe onbevoegd moet jy nie wees om daai slotsom uit te kom nie?????

Shakespeare ·

As jy wil doodgaan dan gaan jy Pelonomi Hospitaal toe. Useless tot op die been. Jy kan ook ‘n ander staatshospitaal kies. Die effek bly dieselfde. GEEN etiese waardes opleiding of empatie nie.

Elinette ·

Nee …. nee …. Hier moet ek opkom vir ons mense by ons plaaslike (streeks) hospitaal (Worcester). Baie pasiënte, ja, verpleegpersoneel GESTRÊÊÊK tot hul maksimum, maar hulle kyk na hul pasiënte en selfs die kos is nie sleg nie!

Christine ·

Wat verwag mens as die skoonmaak personeel bevordering kry na verpleegpersoneel?

Suzette ·

Hoegenaamd niks, dit grens aan poging tot moord. Hoe durf die minister van gesondheid dit toelaat. Praat nie eers van president nie. Fire die hele spul

Sarel ·

Hierdie mense is nie die naam ” Gesondheidswerkers” werd nie.

Marius ·

Hospitaal personneel wat staak verdien dit nie om ‘n werk te hê nie. Pasiënte kom altyd eerste.

Skappie ·

Dit was glad nie so voor 1994 nie. Ons Suid-Afrikaners was trots op ons land. Nou weet ons nie meer nie, dit gaan oral sleg. Die mense kan nog gelukkig wees om hulle werk terug te kry. Ek ek moes staak, sal ek nie meer my werk he nie.

Elinette ·

As jy verpleeg het voor 1994 en jy het gestaak, kon jy maar jou navy skoentjies onder Matrone se lessenaar gesteek het en jou kappie en manteltjie vir ewig opgehang het.

Maggies ·

Te kort aan personeel terwyl daar hoeveel klaar gestudeerde dokters is wat nog nie vit hul diensjaar geplaas is nie.

Jacobus ·

Ons moet besef dat nóg die ANC, nóg die top van ANC enigsins belangstel in SA se mense. Die hantering van die sg pandemie en die blatante diefstal is bewyse daarvan.
Te kort aan dokters ,- wat van honderde wat wag om geplaas te word – kriminele skande. Die provinsies is maar net ‘n mikrokosmos van die sentrale regering!

Swerwer ·

Wat het geword van die “EED” wat ons jare terug afgelê het , bestaan dit nog, lyk my nie so nie.
Geen Persoon in Versorging of Medies mag staak nie. Pelonomie is al in ‘n toestand, wil beslis nie weet hoe lyk en ruik dit na ‘n week nie! Ag nee genade die samelewing moet hulself regruk en nie net aan hulself dink nie. Dit is niks minder as reg dat Personeel aangestel moet word nie, maar stel dan bevoegde persone aan, opleibare persone.

Lourens CFG ·

Mariette Pittaway stuur eers Sat iemand om te gaan ondersoek instel????
Sy moes dit met die eerste rapportering gedoen het.
Nog iets, wat het geword van SAP, weermag, brandweer, hosp personeel ens. wat nie MAG staak nie???

Ansie ·

Dis nie dat Mahlatsi mense mislei nie, hy lieg blatant en dis onaanvaarbaar. Die publiek het die reg om die waarheid te weet. Of steek hy dalk iets weg?

Dup ·

Onbewame en lui persone word in sleutelposisies aangestel.Alles “gaan goed” vir ñ ruk maar uiteindelik stort die kaartehuis in duie.Dan storm die vakbonde in en vernietig dit wat oorbly.So word ons land in sy peetjie in bestuur.

Nico ·

Alweer die vakbonde wat chaos veroorsaak, speel met mense lewens en dit net oor geld en omstandighede. Die vakbonde moet eerder die fout gaan soek by die ANC regering wat nie weet hoe om sake te hanteer nie, druk al geld in hulle sake.

Jakes ·

Wel hierdie uiters afskuwelike gedrag waar siek mense geen behandeling ontvang nie wys maar net hoe swak die ANC dinge beheer. Hulle onbevoegdheid is seder 1994 duidelik. Dank die hele spul af en stuur hulle tronk toe.

Ettienne ·

Ek weet nie hoe die lot met sulke onetiese optrede wegkom nie…die stakende health workers moet en masse by die HPCSA verkla word n summier van die rol geskrap word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.