Staking van SAL-bedrywighede ‘net nog ʼn vertragingstaktiek’

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die DA het beswaar gemaak teen die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakereddingspraktisyns se besluit om alle bedrywighede te staak en meen dit is gedoen as vertragingstaktiek.

Volgens die DA is dit gedoen om die regering meer tyd te gee om belastingbetalers se geld bymekaar te skraap om die beleërde lugdiens te red.

Die sakereddingspraktisyns het Dinsdag aangekondig dat hulle besluit het om alle lugdiensoperasies onmiddellik te staak, en dat hulle besig is met ʼn proses om die lugdiens onder bewaring en instandhouding te plaas totdat besprekings oor finansiering afgehandel is.

SAL is in Desember in sakeredding geplaas en die regering het vroeër onderneem om nog ʼn reddingsboei van R10,4 miljard te verskaf.

“Die sakeredders se besluit het weereens bewys dat die hele sakereddingsproses polities gedrewe is,” meen Alf Lees, DA-lid van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).

Hy sê met geen private beleggers in die oog om die lugdiens te red nie, is die enigste logiese opsie om die lugdiens te likwideer.

“Dit is ondenkbaar om te dink dat die ANC-regering, in hierdie tyd van ekonomiese druk en werkloosheid, dit selfs sou oorweeg om broodnodige belastinginkomste te gebruik om ʼn onredbare lugdiens te finansier.”

Die DA doen ʼn beroep op banke en krediteure om enige versoeke van die ministers van openbare ondernemings en finansies, Pravin Gordhan en Tito Mboweni, vir bykomende lenings aan die lugdiens van die hand te wys.

“Dit sou moreel onverdedigbaar wees vir banke om miljarde rande se bykomende lenings aan SAL toe te staan. Ons verstaan wel dat die banke finansiering aangebied het om aan die vrywillige skeidingspakkette vir werknemers te voldoen op voorwaarde dat SAL gesluit word. Ons hoop dat die banke die regte en etiese ding sal doen en nie sal vou onder die ministers se druk en die volle R10,4 miljard aan SAL beskikbaar sal stel nie.”

Lees sê die banke hou nou die toekoms van SAL in hul hande en moenie gewone Suid-Afrikaners in die steek laat deur ʼn finansiële reddingsboei na SAL te gooi nie.

“Die DA sal elke manier ondersoek om sodanige lenings aan SAL teen te staan. Ons sal ook die moontlike reddingsboei van R10,4 miljard vir SAL teenstaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dries ·

Dit is nie genoeg vir hulle om een bankrot entiteit te beskerm ten koste van die belasting betaler nie. So sal hulle aangaan en aangaan

Pieter ·

Hehe en so hou die ANC sirkus aan nog altyd gese gorhdan is deel van die sirkus dink hy is slim soos sy kaders

Persheks Adri ·

Daai klomp wat nog nie eers betaal het nie wil seker so graag op die vliegtuig klim… Bou ‘n brug en besef dat dit geld mors is en belê in iets anders regtig daar is ander vliegtuie beskikbaar!

Inkpot ·

So gaan alles tot niet.
Geen treine, busvervoer is daarmee heen en nou ook lugvervoer.
Al wat oorbly is taxi’s.

Persheks Adri ·

Want dis vir our people jy weet mos. Niks vir ons nie gebruik net ons geld op hoed wat nie werk nie

annie ·

Die wonderlike redders… waar het hulle voorheen groot suksesse behaal? En die afgelope 6 maande groot geld verdien vir wat om te wys? Wag hulle vir die Ethiopiese lugdiens om in te speel of dalk ‘n Arabiese staat? Iets gaan aan. Wat?

Hennie ·

Wie is so onosel om op Mango of SAA te boek? Ek hoop diegene wat dit wel gedoen het, verloor elke sent daarvan! Vlieg SAFAIR! Hulle is die beste!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.