Staking verby by Krugerwildtuin en ander oorde

Argieffoto: Sanparke

Lede van die vakbond Hospersa het Woensdag teruggekeer na hul werk by nasionale parke toe ʼn landswye staking vir hoër salarisse tot ʼn einde gekom het.

“Ons is dankbaar dat die beskermde staking deur sommige lede van die Health and Other Services Personnel Trade Union of South Africa (Hospersa) verby is en dat diegene wat daaraan deelgeneem het, teruggekeer het werk toe,” het Janine Raftopoulos, woordvoerder van SANParke, gesê.

“ʼn Uitgerekte staking sou salarisverliese vir ons kollegas beteken het en selfs nog meer lyding tydens hierdie moeilike ekonomiese klimaat. Ons is dankbaar vir al die SANParke-werknemers wat verseker het dat die dag-tot-dag-bedrywighede in ons parke nie ontwrig is nie en vir ons besoekers wat tydens dié periode geduldig was.

SANParke-bestuur het bevestig dat al hul werknemers Woensdag terug was op hul pos.

Raftopoulos het gesê die vakbond het Dinsdag amptelike korrespondensie aan SANParke gestuur waarin die onvoorwaardelike einde van die staking formeel aangekondig word.

Die staking het in Julie begin oor ʼn nuwe aanbod wat SANParke aangebied het. Die vakbond het egter op 27 Julie gesê die nuwe aanbod word verwerp en die staking het hervat.

Hospersa het in daardie stadium gesê lede het die nuwe aanbod van ʼn 6.1%-salarisverhoging en ʼn 1%-salarisvordering vir kwalifiserende werknemers verwerp. Die vakbond het aanvanklik ʼn 9%-salarisverhoging geëis toe hy begin staak het. Dié eis is later afwaarts tot 7.5% aangepas. Werkers wat gestaak het sluit bewaarders, veldgidse, skoonmakers en veiligheidswagte in.

SANParke het 19 nasionale parke landswyd, insluitend die Krugerwildtuin, Tafelberg Nasionale Park en die Karoo Nasionale Park.

Hospersa was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Lees alle vorige berigte oor SANParke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gaap ·

Tot die leeu op die argieffoto gee ‘n lang en vervelige gaap . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.