Staking verhoed verkiesing van Bfn-burgemeester

Stakende munisipale werkers het chaos by die Bram Fisher-burgersentrum (Glaspaleis) in Bloemfontein veroorsaak (Foto: Verskaf)

ʼn Spesiale raadsvergadering waartydens ʼn nuwe uitvoerende burgemeester en hoofsweep vir die Mangaung-metro verkies sou word, is Woensdagoggend deur stakende munisipale werkers gekelder.

Die vergadering sou om 10:00 in die Bram Fisher-burgersentrum (Glaspaleis) in Bloemfontein gehou word.

Stakende munisipale werkers het die ingang na die gebou versper en raadslede sodoende uitgehou.

Werkers van die metro se afdeling vir water en sanitasie asook vullisverwydering staak al weke lank omdat hulle nie verlede maand hul volledige salarisse of oortydbetaling gekry het nie.

(Foto: (Foto: Roy Jankielsohn/Facebook))

Werner Pretorius en Dulandi Leech, DA-raadslede in die Mangaung-metro, is by die ingang rondgepluk en hardhandig deur die werkers hanteer toe hulle die gebou wou binnegaan.

“Ons moet ons werk as raadslede doen en dit is om raadsvergaderings by te woon. Ek verstaan die werkers is ontevrede oor hul salarisse, maar dis nie die regte manier om uiting aan hul ongelukkigheid te gee nie,” het Pretorius gesê.

Die werkers het Dinsdag ook die metro se kantore in die Glaspaleis binnegestorm en met rommel bemors (Foto: Teboho Setlai/Facebook)

Van die raadslede kon die raadsaal binnegaan, maar die vergadering kon nie voortgaan nie omdat ʼn kworum nie bereik kon word nie. Die vergadering is vir nou vir Vrydag om 14:00 geskeduleer.

Volgens Adriaan de Bruyn, VF Plus-LP, het die polisie raadslede vanoggend in die steek gelaat.

“Dit is onaanvaarbaar dat polisieteenwoordigheid vandag ’n ronde nul op ’n kontrak was en raadslede onveilig moes voel in die plek waar hul wou saamwerk om omstandighede vir die inwoners van Mangaung te probeer verbeter,” sê De Bruyn.

Die werkers het Dinsdag ook die metro se kantore in die Glaspaleis binnegestorm en die gebou met rommel bemors en versierings omgestamp en vernietig. Die kantore moes weens die onluste noodgedwonge gesluit word.

Weens die staking word vullis sedert verlede maand nie verwyder nie. Riool en water vloei in vullisbestrooide strate af.

(Foto: Teboho Igi Modise/Facebook)

“Die stad lyk soos een groot vullishoop. Inwoners in van die buurte het onder leiding van woonbuurtverenigings al self begin moue oprol om vullis te verwyder,” vertel Pretorius.

“Dit is wel nie ʼn langtermynoplossing nie; ons pas nou slegs krisisbeheer toe. Ons moet verhoed dat die probleem eskaleer en ʼn groter gesondheidsrisiko vir inwoners kan word.”

Vergaderings sal na verwagting volgende week met belanghebbendes, die metroraad en woonbuurtverenigings belê word om moontlike interim oplossings te bespreek.

Volgens Pretorius is die feit dat daar tans geen politieke leierskap in die metroraad is nie die groot probleem wat lei tot agteruitgang in die stad.

Tans het Mangaung geen leierskap nie – burgemeester Mxolisi Siyonzana is deur die ANC gedwing om te bedank, en Mapaseka Mothibi-Nkoane, adjunkburgemeester, is geskors. Na volgehoue druk het Tebogo Motlashuping, waarnemende stadsbestuurder, so onveilig gevoel dat hy ook bedank het.

“Daarom moet die verkiesing so gou as moontlik sonder enige ontwrigting voortgaan.”

Pretorius sê dit was opvallend dat daar nie ʼn enkele ANC-raadslid Woensdag by die vergadering in sig was nie.

(Foto: Teboho Igi Modise/Facebook)

Daar was verlede week gerugte dat die ANC die raadsvergadering sou boikot uit vrees dat hulle die burgemeesterspos aan die opposisie sal moet afstaan omdat hul kandidaat nie dié posisie gewaarborg is nie.

Dit is omdat agt van die regerende party se raadslede sedert die verkiesing van die DA-speaker, Maryke Davies, uit die raad geskors is omdat hulle glo saam met die opposisie vir die speaker gestem het. Een van die lede was adjunkburgemeester Mothibi-Nkoane.

Die raadslede is tans besig met appèlprosesse teen hul skorsing.

“Die ANC weet hulle is nou vatbaar en kan hul politieke mag verloor,” sê Pretorius.

Volgens De Bruyn poog die ANC nie eers meer om die beste kandidaat vir ’n posisie te stel nie, “maar maak magsbehepte aanstellings slegs gebaseer op eie gewin wat kaderontplooiing sal bevorder”.

“Die ANC het geen politieke wil om omstandighede vir die inwoners van Mangaung te verbeter nie.   Hulle enigste oogmerk tans is om posisies in die raad te bekom wat ekstra geld in hul sakke sal bring.  Dienslewering het tot stilstand gekom in Mangaung as gevolg van volgehoue stakings wat nou reeds vir twee weke aanhou,” sê De Bruyn.

Maroela Media het navraag aan die woordvoerder van die metro gerig en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kiepie ·

Ons moet ons werk doen en dit is om vergaderings by te woon. Ja swaer!

Johanncb ·

Ons het werklik in ‘n morsige nasie ontaard! Waar iemand anders mors, doen ons dieselfde!

Johanna ·

Mense ken jul Dan NIE die polisie NIE? Hul die slegste van Alle uniform draers En kyk hul range. Ha ha. Ons boere en mede afrikaaners wat vir ons partye staan Moet nou begin sterkstaan

Friedrich ·

Hou die vergadering virtueel. Dit is 2023 en daar is goed soos Zoom, Google Meet, Open Meetings, en vele meer. Het hulle niks geleer deur Covid lockdows nie?!

Mariana ·

Stakings is uit die bose en net broeiplek vir kriminele om hul dade te verrig. Daar is nooit net ‘n staking nie, maar altyd vernietiging van iets ook. Ek besef dat die mense ongelukkig is en wie sou nie wees nie, maar dit is nie die manier op oplossing te kry nie. Vandat daar stakings is, is produktiwiteit ook iets van die verlede, gn wonder die land val uitmekaar. Daar is geen WIL van ANC om enigiets te verbeter nie…..
Net vir hulself.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Viva Anc, Viva! Saluut julle klomp sleg rubbish!

efjy ·

Is daar dan niks wat gedoen kan word om die wanorde en algehele gebrek aan verantwoordelik heid volgens wet te stop nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.