Stakings kos werkers miljoene

Argieffoto van werknemers wat staak. Foto: @WisaniMadibs / Twitter

’n Verslag deur die departement van indiensneming en arbeid toon dat Suid-Afrikaanse werkers in 2018 alleen ’n geraamde loon van R266 miljoen weens stakings verloor het. Werkonderbreking gedurende dié jaar was ook die hoogste in vyf jaar.

Volgens die departement se Industrial Action Report (IAR) vir 2018 het meer geld in 2018 verlore gegaan as die R251 miljoen wat werkers gedurende 2017 verbeur het.

Die verslag benadruk die ekonomiese gevolge van stakings vir werkgewers en werknemers. Werkgewers sal waarskynlik winste verloor as gevolg van stadige diens of verlies aan produksietyd.

In 2018 was altesaam 137 712 werkers in arbeidsgeskille betrokke, bykans 11% meer as die vorige jaar.

Die aantal werkonderbrekings het ook in 2018 toegeneem – vanaf 132 in 2017 tot 165 in 2018. Dit verteenwoordig ’n toename van 25% in stakings oor ʼn jaar se tyd. Die aantal werkonderbrekings in 2018 was boonop 3,5 keer meer as in 2014.

“Die toename in die aantal stakings in 2018 het gekom op ’n tyd toe die land deur ’n tegniese resessie getref is en die bruto binnelandse produk (BBP) negatief presteer het in die tweede kwartaal van daardie jaar,” luidens die verslag.

Gedurende 2018 het meer as een miljoen (1 158 945) werksdae verlore gegaan weens 165 nywerheidsgeskille. Dit verteenwoordig die somtotaal van die aantal werksdae per werker wat jaarliks verlore gegaan het. Dit dui op ’n toename van 20,7% vergeleke met die 960 489 werksdae wat in 2017 weens 132 stakings verlore gegaan het.

Volgens die verslag het munisipale werkers asook werkers in die gesondheid- en maatskaplike dienstesektor in 2018 die meeste gestaak, met altesaam 77 stakings. Dié stakings het daartoe gelei dat 303 119 werksdae daardie jaar verlore gegaan het.

Die vervaardigingsbedryf het in 2018 aan 23 stakings deelgeneem, met 227 040 verlore werksdae.

Tussen 2014 en 2018 was die vraag na lone, bonusse, ander byvoordele, griewe teen werkgewers en onaangename werksomstandighede van die hoofredes waarom werkers tot protesoptrede oorgegaan het.

In 2018 het die meerderheid werkers (68%) gestaak om hoër lone, bonusse en ander byvoordele van hul werkgewers te eis.

Die stakingsneiging toon ’n hoër getal onbeskermde stakings in 2018 as in die vorige jaar, wat daarop dui dat vakbondleiers aandag aan dié kwessie sal moet gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Strandloper ·

Slim vang toe sy baas ne, lyk my hul het sakke vol geld….of word hul dalk onder die tafel deur betaal met ons belasting geld wat om elke hoek en draai verdwyn….

quartus ·

Staak nog meer asb..sommer elke dag..geen salaris word betaal,oortyd,ens,,en werkgewer spaar op elektrisiteit,riool ag en sommer alles..so staak asb,,julle unie hoofde word ryker en julle armer..geen maar geen simpatie nie..call the care bears and see if they care…

Eragrostis ·

Dit hang af wat werkers as griewe teen werkgewers en onaangename werksomstandighede beskou. Almal wil net meer en meer hê, en werkgewers moet net meer een meer opdok vir hoër lone, bonusse en ander byvoordele, dit terwyl dit ekonomies vir werkgewers moeiliker gaan, want hul oorhoofse kostes word net meer soos wat die rand verswak wat ń direkte negatiewe effek op die winsgewendheid van besighede het. Waar dink die unies moet werkgewers dié gelde uitkrap vir die werkers se versoeke as besighede minder wins maak? Die probleem lê eerstens by die ANC wat die land in die afgrond in bestuur, en tweedens by die unies wat werkers aanhits om te staak en vir werkgewers voorsê wat om te doen, albei faktore wat die ekonomie baie negatief raak. Ongelukkig leer die ANC en unies steeds nie uit hul foute nie omdat hulle sosialisties ingestel is. Daarom sal hierdie probleem voortduur indien nie vererger nie. Hulle is darem so voorspelbaar en hardkoppig.

Yolandie ·

Wil eerder betoog en toi toi as om te werk. Maar oooh wee as hulle nie betaal word nie is die gort ook gaar. Die ideaal sal seker wees om niks te doen en geld val uit die lug. Die regering leer al klaar die juig van vandag dat hulle toelae kan kry.

HOOP ·

Vakbonde , kon nog nooit verstaan hoe jy elke maand betaal en dan as jy moet staak as hulle so se hulle jou nie vergoed uit hulle koffers nie maar jy moet aanhou betaal , ek wil ook net die hele dag sit en aan nonsens dink.

Pampoen ·

Alhoewel daar oorwegend negatiewe persepsies van stakings is, moet ons tog net toegee dat werkgewers nie vlerkies het nie.

Stefan ·

Maar die vakbonde kry die hoogste performance bonusse ooit, want kyk hoeveel hulle weer vir die lede gedoen het.

Reni ·

Ek dink ons het n “iron lady” nodig wat die vakbonde hok slaan dan sal dit al klaar beter gaan. Een van die dae staak hulle omdat hulle nie peanut en stroop toebroetjies kry nie.

Niklaas ·

Daardie ToiToi riel ook bekend as Willie-werkie-wals gaan nog baie hongersnood veroorsaak en hul besef dit nie. Kyk net hoeveel miljoen is verlore a.g.v. die werksonderbrekings. Daai geld kon baie beter aangewend gewees het. Dis tyd dat die kaders begin kyk na die potensiële SA situasie oor 10 jaar , (as hul kan of wil)

Magda ·

Nou ja dit se alles – of jy het ditof nie en die mense wat so staak vir meer kry eintlik BAIE minder – Geen salf te smeer as jy DOM is nie. As die maatskappy vir wie jy werk kan bekostig om verhogings of seels bonusse te gee is ek seker hulle sal, as hulle dink jy verdien dit. Stakings is seker die grootste gevaar vir werk skepping en dink dit moet sonder betaling gedoen word as daar stakings wel voorkom. Dit moet regtig NOU stop.

netekalleen ·

Tussen stakings en loadshedding is dit geen wonder dat soveel maatskappye moet sluit nie. Die werkers veroorsaak hulle eie ten gronde gaan met al die gestaak. Ek wonder of daar n week omgaan in ons land wat daar nie n staking van een of ander tipe is nie

Peetjie ·

Raak ontslae, en knip die Unies se vlerkies. Dit is by hulle wat die gemors begin, en hulle gee nie n duit om vir die werkers nie. Hulle ry met van die luukste voertuie terwyl die werkers nie kos het om te eet nie….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.