Stand van damme bekendgemaak; ingryping om waterkrisis af te weer

Argieffoto

Die burgerregteorganisasie AfriForum het gister sy blou-en-groendruppelprojek vir 2017 in Randfontein bekend gestel en is besig om spanne regoor die land te mobiliseer om die drink- en rioolwatergehalte in dorpe te toets waar daar aktiewe AfriForum-takke is.

“Dit is duidelik dat die regering nie ernstig is oor die gesondheid van die mense van Suid-Afrika nie omdat vyf jaar al sedert die laaste amptelike Blou-en-Groendruppelverslag verloop het,” het Chris Boshoff, omgewingsakekoördineerder by AfriForum, gesê. “Die ANC-regering probeer om hul onbevoegdheid weg te steek deur inligting van die publiek en selfs die parlement te weerhou. Gewone mense ly die meeste onder die waterkrisis, en omdat ons nie meer op die regering kan staatmaak nie, moet ons watergehalte self toets.”

AfriForum het verlede jaar verseker dat 7 miljoen mense se drinkwatergehalte aan gestelde standaarde voldoen deur toetse uit te voer wat deur die Universiteit van die Vrystaat ontwerp is. “Besoedelde drinkwater kan mense ernstig siek maak,” het Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, bygevoeg. “AfriForum sal sorg dat enige besoedeling so gou moontlik aangespreek word deur ’n aanmaning aan die betrokke munisipaliteit te stuur en te eis dat die probleem binne 48 uur reggestel word.”

Boshoff noem ook dat AfriForum bekommerd is oor die departement van water en sanitasie (DWS) se swak bestuur en uitvoer van strategieë. Ander bekommernisse sluit in:

1. Die DWS het weer eens nagelaat om die amptelike Blou-en-Groendruppelverslag te publiseer wat die land se watergehalte en die bestuur daarvan belig. In Januarie vanjaar het die parlement ’n verslag van 2014 ontvang en teleurstelling uitgespreek dat inligting oor water in Suid-Afrika so verouderd is.

2. Tydens ’n droogte is die verdunning van riool- en ander afvalwater wat in riviere en waterbronne vloei weens die afname in natuurlike watervloei minimaal, wat die besoedelingkonsentrasie in waterhulpbronne en dus ook die risiko van gesondheidsgevolge deur watergebruiksaktiwiteite stroomaf verhoog.

3. Die regering is die grootste besoedelaar van Suid-Afrika se water omdat 4 200 megaliter riool wat nie aan toepaslike gesondheidstandaarde voldoen nie per dag in riviere en damme gestort word.

4. Munisipaliteite verloor meer as 40% van hul drinkwater weens lekkende waterpype, maar word nie daarvoor aanspreeklik gehou nie.

5. Ingevolge ’n 2013-verslag van die DWS het slegs 21% van die stelsels oor die nodige aantal toesighouers in terme van die voldoening aan diensvereistes beskik, terwyl 66% van dié stelsels deur toesighouers bestuur word wat nie oor die nodige kwalifikasies beskik nie.

6. Volgens ’n 2015-verslag van die Wêreld Gesondheidsorganisasie kan ’n geraamde 9% van kindersterftes in Suid-Afrika aan besoedelde water toegeskryf word.

7. Die DWS – as die bewaarder van water – vervul nie sy verpligtinge nie.

8. Die DWS pas nie wetgewing toe wanneer munisipale owerhede die skuldige party is nie.

9. Ten spyte van die groot aantal waterverwante probleme moes die DWS R827 miljoen aan die nasionale tesourie terugbetaal omdat die geld nie in die 2015/2016 finansiële jaar gebruik is nie.

AfriForum is van mening dat ’n onafhanklike waterreguleerder steeds ’n betekenisvolle rol in Suid-Afrika kan speel en moontlik watergehalte, -voorsiening en -bestuur kan verbeter. “Indien Suid-Afrika ’n onafhanklike waterreguleerder het wat nie vir politieke inmenging vatbaar is nie en water- en dienstewetgewing sal afdwing, sou ons minder lekkasies, openbare klagtes en protes, skoner riviere en damme, gesonder gemeenskappe, ’n groeiende ekonomie en meer water gehad het,” sê Boshoff.

DWS het intussen bekend gemaak hy is besorg oor die stand van damme in die land. “Ons het nog nie beduidende reënval beleef om die druk op damme te verlig nie,” het Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, gesê. “Elke druppel water moet gespaar word. Die Wes-Kaap beleef watertekorte, maar die Suid-Afrikaanse Weerdiens het voorspel dat reën vandeesmaand verwag kan word.”

Die gemiddelde damvlakke landswyd neem weekliks af en het van verlede week se 72.9% gedaal tot 72,7%.

– Die Algoa-stelsel (Port Elizabeth) het van 41,4% gedaal tot 40,6%. Dié stelsel het verlede jaar op 79,3% gestaan.
– Die Amathole-stelstel (Oos-Londen) het van 71,4% gedaal tot 70,9%. Die stelsel het verlede jaar op 88,5% gestaan.
– Die Bloemfontein-stelsel het met 0,3% gestyg van 51,2% tot 51,5% en het verlede jaar op 32,7% gestaan.
Kaapstad-damme het van 22,9% gedaal tot 22,3%. Die stelsel het verlede jaar op 31,7% gestaan. Die stad oorweeg om vlak 4-beperkings in te stel. ʼn Wes-Kaapse Waterindaba word op 16 Mei 2017 gehou.
– Die Krokodil-Wes-stelsel (Pretoria, Brits en Rustenburg) het slegs met 0.4% gedaal (van 99,7% tot 99,3%). Die stelsel het verlede jaar op 95,4% gestaan.
– Die Geïntegreerde Vaalrivierstelsel (Gauteng Sasol en Eskom) het met 0,1% gedaal van 84,2% tot 84,1%. Die stelsel het verlede jaar op 59,5% gestaan.
– Die Umgeni-stelsel (Durban en Pietermaritzburg) het van 62,7% gedaal tot 62,4%. Die stelsel het verlede jaar op 54,5% gestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pastoor ·

Skokkend om te sien hoe water gemors word. Skole parke. Hier in ons dorp word 100de voertuie met munisipale water gewas. Oor naweke nog erger. Munisipaliteit sê niks. Ek sê julle rye taxis word gewas. Die vuilgoed wat uit die voertuie kom word uitgevee en net daar in die parkerings gegooi absoluut skokkend. Mors duisende liters per dag

Johanna Botha ·

Kan iemand dalk vir ons se wat in SA is nie n groot gemors nie ….die anc gee net mooi niks om vir die mense nie ….en almal eet dit vir soetkoek op

jeannie du Plessis ·

Dit is so jammer dat die regering so min omgee om te sorg dat ons baie kosbare water beter bestuur word. Hulle vermors geld, gebruik nie geld wat bestem is om die probleme op te los en is min gepla oor al die rou riool wat in riviere gestort word.
Ons moet AfriForum bedank dat hulle op soveel vlakke te vore tree om sulke erenstige probleme te probeer beredder wat deur ons Regering net eenvoudig nie as belangrik beskou word nie. Hul eie persoonlike welsyn is meer belangrik as om na die mense van ons mooie land, wat soveel potensiaal het, om te sien.
Groot deel van die probleem is die baie swak leierskap in die Regering, wat vinnig opgelos moet word as die wil net daar is.

Cherokee ·

Hier word gepraat van damme met groot oppervlaktes. Dit moet ook in gedagte gehou word verdamping ‘n groot rol speel.

Francis ·

Ek drink jare nie meer kraanwater nie .het die halocobactor bakteria gehad !!!!

marous ·

Sonder krag kan jy vuur maak of kerse opsteek of vroeg gaan slaap. Sonder brandstof kan jy fietsry of met jou voete loop. Sonder water vrek alles … mense ingesluit , en dit gaan gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.