Standard Bank kondig ‘betaalvakansie’ vir kleinsake, studente aan

Foto: Dimpho Maja/African News Agency(ANA)

Standard Bank het ʼn sogenaamde “betaalvakansie” aangekondig vir kleinsakeondernemings en studente wat lenings by die bank het.

Dit beteken diegene wat hiervoor in aanmerking kom, hoef vir drie maande, van 1 April tot 30 Junie, nie hul lenings af te betaal nie.

Volgens Standard Bank kom studente met studentelenings by die bank outomaties hiervoor in aanmerking en hoef nie daarvoor aansoek te doen nie. Dit geld egter net vir voltydse studente wat ʼn studielening by die bank het. Daar sal in dié tydperk ook nie rente of ander fooie op die leningsrekening gehef word nie.

Kleinsakeondernemings wat in aanmerking wil kom vir die sogenaamde “betaalvakansie” moet aan sekere vereistes voldoen. Die ondernemings moet in Suid-Afrika gevestig wees en ʼn jaarlikse omset van minder as R20 miljoen hê. Dit is ook mits die ondernemings op datum is met die afbetaal van alle lenings.

“Die verligting sal spruit uit die kapitalisasie van die rente en fooie wat gewoonlik elke maand aan die bank betaal word en deur die terugbetalingsvoorwaardes na ʼn latere datum te verander,” het Lungisa Fuzile, uitvoerende hoof van Standard Bank Suid-Afrika, verduidelik. “Ons hoop dit sal die kontantvloeibeperkings wat tans deur die Covid-19-uitbreking veroorsaak word, verlig.”

Die bank het gesê hy sal outomaties nuwe betalingsvoorwaardes opstel vir sy kliënte met ʼn omset van minder as R20 miljoen per jaar, wat op datum is met hul betalings aan die einde van Maart 2020 en ʼn goeie status by Standard Bank het. “Nader u bankier of stuur ʼn e-pos na [email protected] as u nie u betalingsreëlings wil verander nie,” het die bank gesê.

Die bank het alle ander kliënte versoek om met hom kontak te maak rakende hul omstandighede. “Bystand van Standard Bank sal ook opsies insluit om betaling vir ʼn ooreengekome tydperk uit te stel en die geleentheid om die algehele skuld te herstruktureer en te konsolideer,” het Fuzile gesê.

“Dit is ons verantwoordelikheid om seker te maak dat ons oplossings ondersoek om ons kliënte gedurende hierdie uitdagende ekonomiese tydperk te help.”

Die DA het Standard Bank se aankondiging verwelkom en ʼn beroep op ander banke gedoen om dieselfde te doen.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het gesê die DA vra sedert die ramptoestand aangekondig is vir ʼn grasie rakende die terugbetaling van lenings.

“Dit sal, indien dit deur al die banke gedoen word, broodnodige verligting bring vir sukkelende ondernemings en families. Dit sal ons ekonomie ook help om die volgende paar maande te oorleef.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gypsygirl ·

Dit is interessant, kan betaalvakansie vir huis verbande oorweeg word?

Faraway ·

STB dankie . . . maar wat van ons gewone mens op straat wat Huisverbande het , motors wat gefinansiër is en die baie belangrike broodnodige krediet kaart ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.