Standard Bank-werker tronk toe vir bedrog

geld 4

Argieffoto.

ʼn Voormalige bankwerknemer van die Vrystaat is Vrydag vir verskeie aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery gevonnis. Dít nadat hy derduisende rande by die bank gesteel het.

Dieselfde dag is ʼn begrafnisondernemer in die Bloemfonteinse kommersiële handelsmisdaadhof skuldig bevind aan bedrog, nadat hy kliënte se geld in sy sak gesteek het.

Albei beskuldigdes is aanvanklik tot agt jaar tronkstraf gevonnis.

Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, sê Fikile Goliath (33) het gedurende sy tyd as werknemer by Standard Bank verskillende bedrae geld wat altesaam R507 356 beloop het, vir persoonlike doeleindes onttrek. Hy het van die geld aan vriende en familielede oorbetaal vir persoonlike gebruik.

Goliath het bankkaarte vir sy persoonlike gebruik uitgereik en dit aan vier kliënte gekoppel, sodat hy toegang tot die geld uit hul rekeninge kon kry. Hy het geld uit daardie rekeninge onttrek en na   ander bykomende bankkaarte versprei.

Goliath is skuldig bevind op 503 aanklagte van bedrog, twee aanklagte van diefstal en 304 aanklagte van geldwassery. Hy is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis wat vir drie jaar opgeskort is, met ʼn bykomende ses maande korrektiewe toesig en ʼn maand huisarres.

Intussen is Seromo Victor Tsau (38), ʼn begrafnisondernemer van Remoha-begrafnisondernemers in die Vrystaat, op nege aanklagte van bedrog skuldig bevind.

Steyn sê die polisie is al sedert 2011 op sy spoor toe ʼn saak van bedrog by die polisie in Phuthaditjhaba aanhangig gemaak is. Hierin is beweer dat Tsau geld van kliënte steel. Hy het glo die maandelikse premies wat kliënte aan die begrafnisdiens oorbetaal het in sy eie sak gesteek. Die kliënte het besef hul geld is nooit in die begrafnisonderneming se boeke aangeteken nie toe hulle eise vir begrafnisse ingedien het.

Tsau is ook tot agt jaar tronkstraf gevonnis, wat opgeskort is vir vier jaar.

In Kinross in Mpumalanga is ʼn voormalige polisiebeampte deur die Evander-streekhof tot vyf jaar tronkstraf op aanklagte van bedrog gevonnis.

Nkosana Mpostolie Malinga (51), ʼn voormalige speurder-bevelvoerder by Kinross-polisiestasie, is in 2004 in hegtenis geneem, nadat hy omkoopgeld van ʼn klaer geëis het om te verseker dat die saak van roekelose en nalatige bestuur teen die klaer se seun vertraag word. Malinga is kort daarna in hegtenis geneem.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê Malinga is borgtog van R10 000 toegestaan ná sy hofverskyning. Sekgotodi sê die beampte het probeer appelleer teen sy vonnis, maar dit is deur die hof geweier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Nee , hy is nie tronk toe nie . Hy is huis toe!

George

En nie een van hulle gaan tronk toe nie……… Dia n grap!!!!