Standbeelde: ‘Prosesse moet gevolg word’

Foto: UCT/Facebook

Foto: UCT/Facebook

Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra) het gesê enige besluit wat geneem word oor die Cecil John Rhodes-standbeeld by die Universiteit van Kaapstad, moet die breër publiek se sienings in ag neem en in lyn wees met versoeningspogings.

“Die aanhef van ons Grondwet bepaal dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon en as sodanig verwelkom ons diegene wat ‘n kritiese blik neem op hoe erfenis in ons land verteenwoordig word,” het Veliswa Baduza, uitvoerende hoof van Sahra, gesê.

Baduza se reaksie kom te midde van verskeie debatte en protesoptogte rakende standbeelde uit die koloniale- en apartheidsera. Die Universiteit van Kaapstad se senaat het onlangs eenparig gestem vir die verwydering van die Rhodes-standbeeld.

“Die verskuiwing van ‘n standbeeld na ‘n minder prominente plek kan gedoen word en is al gedoen,” het Baduza gesê. “Ons kan nie die geskiedenis uitwis nie, maar ons kan bepaal hoe ons nasionale erfenis lyk.”

Volgens Baduza is daar ‘n proses wat gevolg moet word indien ‘n standbeeld geskuif word. Sy het verwys na die Nelson Mandela-standbeeld wat dié van genl. Barry Hertzog by die Uniegebou vervang het. Volgens haar was daar konsultasie met die Hertzog-familie en alle ander belanghebbendes.

“Die Gautengse Erfenishulpbronagentskap het met al die belanghebbendes gekonsulteer. In die Universiteit van Kaapstad se geval sal dit die Rhodes-stigting wees. Hiermee saam moet daar ‘n 30 dae-periode wees vir openbare deelname en die verskeie universiteitsbelangegroepe moet gekonsulteer word.”

Volgens Baduza kan die universiteit na afloop van die konsultasieproses ‘n aansoek by die Erfenishulpbronagentskap indien en sal daar ‘n besluit geneem word. Baduza het gesê die Sahra erken dat daar frustrasies is rakende die pas van besluite oor erfenisterreine.

“Ons erken dat die pas versnel moet word. Daar is baie wat ons moet doen as bewaarders om te verseker dat Suid-Afrika se erfenis nie-rassig, nie-seksisties en vooruitstrewend is.” Baduza het gesê dit is ‘n saak waarna die Sahra krities moet kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Albert ·

Vir hoe lank het die standbeeld van Cecil John Rhodes en ander op hulle plekke gestaan sonder dat dit tot so ‘n mate aanstoot gegee dat dit nodig geag was om verwyder te word nie. Natuurlik sal standebeelde vir verskillende groepe mense verskillende betekenisse he en sal selfs Mandela standbeelde nie vir almal ewe aanvaarbaar wees nie.
As daar ‘n volk was wat met reg oor Cecil John Rhodes kon aanstoot neem is dit die Afrikaners maar gelukkig was hulle volwasse en verdraagsaam genoeg om sulke sinnelose kleinlikhede opsy te skuif en te konsentreer om eerder op te bou en vooruit te gaan.
Om nou alles wat “aanstoot gee” te vernietig is niks anders as maar net nog ‘n manifestasie van die tipiese afrika kultuur om almal en alles behalwe hulself die skuld te gee vir hulle eie onbevoegdheid en onbeholpenheid en dan met wraak van die “skuldiges” te wil ontslae raak deur hul standbeelde te wil afbreek en te vernietig nie.
Geen wonder Afrika het, behalwe vir n kultuur van verwoesting en vernietiging , niks opbouends om te wys nie.

J.Z ·

Ek stem,gebruik julle enegie om n beter SA te bou en nie om af te breek nie soos julle nou al die afgelope 20jaar gedoen het nie.Om n naam te verander of n stanbeeld af te breek gaan jou nie help nie,al wat dit doen is om jou karakter te openbaar.

Peet Schabort ·

Nee wat Sahra, julle het my ook nie geantwoord oor die Anglikaanse kerkie wat in Rustenburg se ou kerkhof afgebrand het. Ook nie die toestand van die Voortrekkermonument by Winburg.
Dis pateties dat die meeste van die bewaringswaardige voorwerpe op staatsgrond is en dus verinneweer word.
Kyk hoe lyk dit by Botshabelo net buite Middelburg, Mpumalanga.
Ek het GEEN vertroue in julle.

piet ·

Dit is verfrissend en heel waarskynlik n geskiedkundige moment vir Suid Afrika in die dat daar gesprekvoering oor standbeelde plaasvind eerder as verwoesting (nee, Howard College s’n het net n lagie verf gekry). Tree toe tot die gesprek eerder as om stereotiep daarop te reageer.

Dirk ·

Saam met die standbeelde van die klomp imperialiste moet Sahra ook mee weg gedoen word – en vinnig. Sahra dien net ‘n klein konsultante gemeenskap wat miljoene maak uit erfenis studies oor nonsens en die hele land so gyselaar hou met hulle belaglike uitgereikte prosesse wat jare neem – intussen maak die konsultante geld. Sahra is so onbekwaam en totaal beheer deur wit liberaliste wat die organisasie gekaap het vir hulle eie voordeel. En wat is daar nou eintlik wat hulle wil beskerm? ‘n Standbeeld van ‘n Imperaislis wat geld gemaak het uit volksmoord in Afrika insluitend die konsentrasiekampe. Geen wonder Julius Malemawil goed sommer net afbreek nie. Wat anders moet mens doen met al die burokrasie – Sahra is die simbool van alles wat oud, burokraties en uitgedien is – skaf Sahra af en dan die standbeelde!!! Weg met Sahra !!

Wim Kotze ·

Die siening geld skynbaar nie vir Afrikaners se beelde nie. Waar was Sahra toe die DA se Timmy Nasty Verwoerd se borsbeeld in die middel van die nag uit Vanderbijlpark verwyderhet?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.