Standerton-ongeluk: Taxibestuurder vas

Die ongelukstoneel. Foto: @lindyyak op Twitter.

Die ongelukstoneel. Foto: @lindyyak op Twitter.

Die taxibestuurder wat betrokke was in ʼn botsing in Standerton in Mpumalanga wat die lewens van 11 mense geëis het, is in hegtenis geneem aangesien hy glo ʼn vervalste bestuurslisensie het.

“Verkeer- en polisiebeamptes wat op die ongelukstoneel was het die taxibestuurder vir sy bestuurslisensie gevra waarna hy vir hulle ʼn vervalste lisensie gegee het,” het Joseph Mabuza, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Die minibus het Vrydagmiddag op die R23 tussen Perdekop en Standerton reg van voor teen ʼn vragmotor gebots. Elf mense is op die toneel dood verklaar terwyl ses mense beseer is. Die taxibestuurder het glo ʼn stop/ry-teken verontagsaam en aanhou ry op die enkelbaan-pad en reg van voor teen die vragmotor gebots.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het die arrestasie verwelkom. “Indien dit waar is dat hy nie die toepaslike dokumente gehad het nie, moet hy ook van moord aangekla word aangesien hy geweet het hy was nie bevoeg om te bestuur nie,” het Shongwe gesê.

Die taxibestuurder sal aangekla word van die vervalsing van ʼn bestuurslisensie en die bestuur van ʼn motor sonder ʼn lisensie. Die polisie ondersoek ook ʼn saak van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hannelie ·

Ek lees die berig, maar kan nie glo wat ek lees nie! Die bestuurder is in hegtenis geneem vir ‘n vervalsde bestuurders lisensie! Wie is verantwoordelik vir die 11 mense wat dood is?

Helgaard ·

Ondersoek moet ook ingestel word waar hy die vervalste dokument gekry het.

Theresa ·

As jy sien hoe word daar gery. Oor middelmanne, maak 1 baan sommer 2. Druk voor jou in terwyl jy staan en wag vir aankomende verkeer. Ag so kan jy die heeldag aanhou. Maar dan wonder jy hoeveel van hulle het regte lisensies.

Hennie de Beer ·

Ek stem saam met Hannelie en Helgaard – laat die korrupte staatsamptenare wat betrokke is by die uitreik van vervalste lisensies saam met die taxi bestuurder van moord aangekla en vervolg word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.